Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Duduzane: AfriForum verwelkom beslissing, BLF vra hoekom

AfriForum het dit verwelkom dat die streekhof in Randburg Vrydag Duduzane Zuma se aansoek om ontslag op ’n klag van strafbare manslag en roekelose bestuur verwerp het.

Black First Land First (BLF) wil egter weet hoekom die saak nog enigsins voor die hof dien.

Adv. Mike Hellens SC het Woensdag nadat die staat sy saak gesluit het namens Zuma – ’n seun van oudpres. Jacob Zuma – ’n aansoek om ontslag kragtens art. 174 van die Strafproseswet by landdros Tebogo Thupaatlase ingedien.

Duduzane Zuma Vrydag saam met sy regsverteenwoordiger, adv. Mike Hellens SC, by die streekhof in Randburg. Foto: Netwerk24
Duduzane Zuma saam met sy vriende by die hof. Op die voorgrond is sy tweelingsuster, Duduzile. Foto: Netwerk24

Hellens het aangevoer dat Yusuf Baba, ’n senior staatsaanklaer, nie daarin kon slaag om ’n prima facie-saak teen Zuma uit te maak nie.

Baba het gedurende die verhoor, wat Dinsdag begin het, ses getuies geroep. Dit was ’n weerkundige, ’n Porsche-handelaar, die bestuurder van die minibustaxi waarteen Zuma gebots het, ’n kundige van ongelukstonele en twee passasiers van die taxi.

Zuma staan tereg op aanklagte van strafbare manslag en roekelose bestuur in verband met ’n ongeluk op 1 Februarie 2014 op die M1-hoofweg in Johannesburg. Phumzile Dube is op slag dood toe Zuma se Porsche 911 die minibustaxi waarin sy was getref het.

Hellens het vroeër die week gesê daar is gate in die staat se saak en dat die swak gehalte van sy getuies nie help nie. Hy het in ’n stadium aan Thupaatlase gevra: “Waarheen gaan ons met hierdie saak, Edelagbare? Die antwoord is: Nêrens.”

Volgens Hellens is daar geen bewyse dat Zuma roekeloos bestuur het nie. ’n Plas water op die snelweg het eerder veroorsaak dat hy beheer oor sy voertuig verloor het.

Thupaatlase het egter Vrydag Zuma se aansoek om ontslag verwerp. Hy het gesê getuienis kan net geïgnoreer word as dit so swak is dat dit nie gebruik kan word nie.

Hy het die verhoor tot 15 Mei uitgestel.

’n Lid van die BLF swaai ’n vlag buite die hof gedurende Duduzane Zuma se verskyning.Foto: Netwerk24

Baba het voor die hofverrigtinge aan Netwerk24 gesê hy verwag die verhoor sal voortgaan. “Ek het vertroue in die getuienis wat gelewer is,” het Baba gesê.

“Hierdie uitspraak is nie net ’n oorwinning vir die Dube-familie nie, maar vir almal in Suid-Afrika wat in gelykheid voor die reg glo,” het Wico Swanepoel, aanklaer by AfriForum se private vervolgingseenheid, buite die hof gesê.

Zanele Lwana, adjunkpresident van die BLF, meen egter daar is politieke inmenging in die saak. “Hoekom is die saak steeds voor die hof? Die BLF glo dit is omdat ’n rassistiese groep gronddiewe, AfriForum, druk op die nasionale vervolgingsgesag (NVG) uitoefen omdat hulle ’n agenda het teen swart mense en Jacob Zuma,” het Lwana gesê.

Die BLF meen daar word polities by die saak teen Duduzane Zuma ingemeng.Foto: Netwerk24

Lede van die BLF het gedurende die verhoor liedjies buite die hof gesing en BLF-vlae rondgeswaai.

Die NVG het aanvanklik besluit om Zuma nie te vervolg nie, maar nadat AfriForum se private vervolgingseenheid aansoek gedoen het om hom privaat te vervolg, het die NVG sy aanvanklike besluit omgekeer en vervolging ingestel.

In reaksie op die beslissing Vrydag het Phindi Louw Mjonondwane, woordvoerder van die NVG, gesê hulle is tevrede met die hof se besluit om die saak teen Zuma in Mei voort te sit. “Die Dube-familie is verlig dat die saak voortgaan,” het Louw Mjonondwane gesê.

Meer oor:  Duduzane ­Zuma  |  Blf  |  Strafbare Manslag  |  Afriforum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.