Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Duduzane: ‘Ek is gelukkig om nog te lewe’
Duduzane Zuma
Duduzane Zuma Woensdag in die getuiebank in die streekhof in Randburg. Foto: Isabel Venter

Duduzane Zuma, oudpres. Jacob Zuma se seun, sê hy is gelukkig om nog te lewe ná die ongeluk waarin hy vyf jaar gelede was.

Hy het Woensdag begin getuig in die streekhof in Randburg waar hy verskyn op aanklagte van roekelose bestuur en manslag nadat sy Porsche in Februarie 2014 met ’n taxi gebots het.

Phumzile Dube, ’n passasier in die taxi, is in die ongeluk op die M1-snelweg naby die Grayston-afrit in Johannesburg dood.

Zuma het begin getuig nadat sy aansoek dat die saak teen hom laat vaar word met sy vorige hofverskyning geweier is.

Zuma, geklee in ’n gitswart pak en jas, was ontspanne voordat hy na die getuiebank oorgeskuif het. Hy het selfs grappies met die hofpersoneel gemaak en ’n kameraman gehelp om sy toerusting te verskuif voordat hy geposeer het vir ’n foto terwyl hy die vredesteken met sy hande wys.

Sy pa het hom nie soos in die verlede in die hof bygestaan nie.

Zuma het getuig dat hy die dag van die ongeluk in die donker van Fourways na sy huis in Saxonwold op pad was.

Hy was op die snelweg, naby die Grayston-afrit, toe hy deur ’n poel water gery en die volgende oomblik beheer oor sy voertuig verloor het. Dit het swaar gereën.

Die motor het buite beheer in die pad getol, sê Zuma.

Duduzane Zuma, een van oudpres. Jacob Zuma se seuns, Woensdag in ’n ligte luim met sy verskyning in die streekhof in Randburg. Foto: Isabel Venter
Ek het niks gedoen nie, nie remme aangeslaan of iets nie, maar net vir lewe en dood aan die stuurwiel geklou.
Duduzane Zuma

“Ek het niks gedoen nie, nie remme aangeslaan of iets nie, maar net vir lewe en dood aan die stuurwiel geklou,” het Zuma getuig.

In daardie stadium het hy in die heel regterkantste baan in ’n suidelike rigting beland. Sy voertuig het met sy neus in die rigting van aankomende verkeer tot stilstand gekom.

Volgens Zuma het hy nie dadelik besef dat hy iets getref het nie, selfs nie nadat hy uit sy voertuig geklim het nie.

Die besef het eers later gekom.

Sy eerste gedagte was om sy voertuig eenkant toe te skuif sodat ’n tweede ongeluk vermy kon word.

“Ek is gelukkig dat ek nog lewe . . . iemand is dood en ander het seergekry. Ek was gelukkig genoeg om nie seer te gekry het nie en aanvaar verantwoordelikheid vir wat gebeur het,” het Zuma getuig.

Onder kruisondervraging het Zuma aan Yusuf Baba, staatsaanklaer, erken dat hy net sowat 10 tot 15 m voor sy voertuig kon sien en dat hy tussen 90 en 120 km/h moes gery het.

Duduzane Zuma Woensdag in die streekhof in Rustenburg saam met sy regspan. Agter hulle is tonele van die ongeluk waarin Zuma in sy Porsche met ’n taxi gebots het. Foto: Isabel Venter

“Ek dink, gegewe die omstandighede, het ek teen die regte spoed gery,” het Zuma getuig.

Hy het ook getuig dat hy nie geweet het dat sy Porsche ’n ouer model is wat nie ’n stelsel het om die bestuurder te help om in nat omstandighede te bestuur juis om te voorkom dat die voertuig tol wanneer dit water op ’n padoppervlak tref nie.

“Ek het eers deur my regspan hiervan te hore gekom,” het hy getuig.

Baba het sy getuienis bevraagteken omdat alles nie ooreenstem met wat hy in sy eerste verklaring aan die polisie gesê het nie.

Daarin het hy onder meer gesê hy het ’n voertuig verbygesteek, wat sy sig nog meer belemmer het, iets gestamp waarna die voertuig tot stilstand gekom het.

In die hof het Zuma gesê dat hy nooit besef het dat hy ’n ander voertuig gestamp het nie, omdat daar nie tyd was om iets te sien toe sy voertuig begin tol het nie.

Die saak is tot Donderdag uitgestel nadat probleme met die opnemer ondervind is.

* Lede van Black First Land (BLF) en die burgerregte-organisasie AfriForum het by die hof harde woorde met mekaar gehad.

Die NVG het aanvanklik besluit om Zuma nie te vervolg nie, maar nadat AfriForum se vervolgingseenheid aansoek gedoen het om hom privaat te vervolg, het die

NVG sy aanvanklike besluit omgekeer en vervolging ingestel.

BLF meen Zuma word onregverdig weens politieke inmenging deur die “rassistiese AfriForum” vervolg.

“Die feit dat Zuma jr. vandag in die getuiebank verantwoording vir die dood van Dube moes doen, is nie net ’n oorwinning vir AfriForum nie, maar vir almal in die land wat gelykheid voor die reg voorstaan,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Meer oor:  Duduzane Zuma  |  Streekhof  |  Randburg  |  Motorongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.