Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Duduzane kon nie veel meer doen om ongeluk te vermy’

Duduzane Zuma kon niks meer doen om die noodlottige ongeluk waarby hy in 2014 betrokke was te vermy nie, en moet vrygespreek word op die aanklagte van strafbare manslag teen hom, meen sy prokureur.

Adv. Mike Hellens, wat oudpres. Jacob Zuma se seun verteenwoordig, het Donderdag in die landdroshof in Randburg in sy slotbetoog gesê as die hof die bewyse in ag neem wat deur al die partye ingedien is, sal Zuma op grond van waarskynlikhede onskuldig bevind word.

Duduzane Zuma
Duduzane Zuma verlaat Donderdag die landdroshof in Randburg waar slotbetoë gelewer is in die saak van strafbare manslag teen hom. Foto: Felix Dlangamandla

Die taxibestuurder Phumzile Dube is dood toe Zuma in Februarie 2014 in sy Porsche 911 teen Dube se taxi gebots het. Die ongeluk het naby die Graystonweg-afrit op die M1 in Sandton gebeur.

Hy het Donderdag in ’n stampvol hof verskyn en is deur sy pa en suster, Duduzile, ondersteun.

Terwyl Yusuf Baba, staatsaanklaer, aangevoer het dat Zuma nie versigtig op die dag van die ongeluk bestuur het nie, het Hellens gevra: “Wat kon hy gedoen het?”

Zuma het getuig dat dit die dag van die ongeluk erg gereën het en dat die sigbaarheid swak was.

Hy was van Fourways af op pad na Saxonwold, en het van William Nicol-weg by die snelweg aangesluit.

Zuma het bygevoeg dat hy teen sowat 120 km/h gery het en ’n plas water getref het wat daartoe gelei het dat hy beheer oor sy motor verloor en dit getol het.

Baba het aangevoer dat Zuma dit kon vermy het dat hy op die nat pad gly.

“Het mnr. Zuma versigtig bestuur? Die staat voer aan dat hy nie het nie. Daarom moet die hof mnr. Zuma skuldig bevind.”

Duduzane Zuma
Duduzane Zuma is deur sy pa, oudpres. Jacob Zuma, by die landdroshof in Randburg ondersteun. Foto: Felix Dlangamandla

Baba het gesê Zuma se optrede in gure weerstoestande was dié van ’n nalatige bestuurder. Hy het bygevoeg die hof moet bepaal of hy al die voorkomingsmaatreëls in ag geneem het om sy spoed te verminder.

Hellens het teruggekap: “Teen watter spoed was mnr. Zuma veronderstel om te bestuur wat sou kon keer dat hy op die nat pad gly? Daar is geen antwoord op dié vraag (van die staat) nie.”

Hellens sê hoewel almal jammer was oor die noodlottige ongeluk en omdat mense beseer is, is daar niks wat ’n direkte vinger na Zuma wys nie. Hy het bygevoeg daar was nie veel meer wat hy kon gedoen het om die water te vermy nie.

Niemand het getuig dat iemand wat in sulke omstandighede bestuur het enigiets sou kon doen om so ’n ongeluk te vermy nie, het Hellens bygevoeg.

“Hy kon dit nie vermy nie, omdat hy nie die poel water kon sien nie. Daar is geen getuienis wat die teendeel bewys nie, behalwe die getuienis van die beskuldigde.”

Hellens het gesê Zuma se weergawe van die gebeure moet as geloofwaardig beskou word, omdat die getuies, insluitende die staatsgetuies, dit beaam het.

Gedurende die verhoor het ’n kenner gesê die taxibestuurder, Dube, het ongeveer teen dieselfde spoed as Zuma gery.

Hellens het aangevoer dat dit vreemd is dat die enigste spoed wat bevraagteken word, dié van Zuma is en het gevra of dit beteken die taxibestuurder was “ ’n engel en Zuma die duiwel”.

Matron Noni Mdakane, wat ’n passasier in die taxi was, se getuienis is deur Hellens betwis. Volgens hom kan dit nie as geloofwaardig beskou word nie omdat sy tydens kruisverhoor geweier het om van die vrae te beantwoord.

Hellens het bygevoeg dat Mdakane nie aan die hof kon sê hoe vinnig Zuma gery het nie, en daarom kan die hof dus nie ’n bevinding oor spoed op haar getuienis baseer nie.

“Ons slotbetoog is dat sy ’n ongeloofwaardige getuie is wat haarself weerspreek.”

Hellens het sy betoog van ’n uur en ’n half afgesluit deur te sê Zuma moet onskuldig bevind word op al die aanklagte.

Uitspraak sal op 12 Julie gelewer word.

Meer oor:  Duduzane Zuma  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.