Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Duduzane se Porsche kry skuld vir ongeluk

Die pad was glad, maar jy kon steeds twee tot drie motors voor jou in die reën uitmaak, het Jabulani Dlamini, bestuurder van die minibustaxi waarteen Duduzane Zuma in 2014 met sy Porsche 911 vasgery het, Dinsdag in die streekhof in Randburg getuig.

Dit was die eerste dag van Zuma, een van oudpres. Jacob Zuma se seuns, se verhoor op aanklag van strafbare manslag en roekelose bestuur.

Duduzane Zuma Dinsdag in die Randburg streekhof. Foto: Simon Sonnekus

“Iemand in die taxi het sekondes voor die ongeluk gewaarsku dat ek moet uitkyk vir dié motor, maar voordat ek enigiets kon doen, het ek die impak van die botsing gevoel,” het ’n sigbaar senuweeagtige Dlamini gesê.

Die staat het vroeër die dag ’n klag teruggetrek wat verband hou met die dood van Nanki Mashaba, wat siek was toe die ongeluk op 1 Februarie 2014 op die M1-hoofweg naby die Grayston-afrit in Johannesburg gebeur het. Phumzile Dube is in die ongeluk dood.

Zuma, geklee in ’n gitswart pak en bypassende swart hemp en das, was met sy hofverskyning Dinsdag in ’n gemoedelike luim en het selfs in ’n verdaging in die hofverrigtinge vir ’n selfie saam met ’n jong aanhanger geposeer.

Die polisie het streng veiligheidsmaatreëls in die hof toegepas en die media is verbied om gedurende die verhoor enige foto’s, video’s of klankopnames van Zuma en die staat se getuies te neem.

“Ek onthou nie veel van die gebeure ná die impak met die ander motor nie,” het Dlamini getuig.

Hy het teenoor adv. Mike Hellens SC, Zuma se regsverteenwoordiger, erken dat enigiemand onder soortgelyke weersomstandighede beheer oor hul voertuig kon verloor.

“Ek dink die impak van die ongeluk het veroorsaak dat een van my bande gebars en die taxi om en om getol het voordat dit uiteindelik teen ’n padversperring heel aan die kant van die hoofweg tot stilstand gekom het.”

Hellens het aan Dlamini gesê Zuma se motor het ’n poel water wat weens die reën in die pad opgedam het, getref en Zuma het beheer oor sy Porsche verloor. Hellens het bygevoeg dat die spesifieke 911-model wat Zuma besit, geneig is om op nat oppervlaktes te gly.

Mthobisi Nxumalo, ’n werknemer van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het oor die weerstoestande ten tyde van die ongeluk getuig. Hy het gesê die naaste outomatiese weerstasie wat reënvalsyfers meet, is omtrent 3,6 km van die ongelukstoneel af, wat dit volgens hom nie moontlik maak om akkuraat te bepaal presies hoeveel water daar op die hoofweg was op die aand toe die ongeluk gebeur het nie.

Dlamini, wat met sy minibus met passasiers van Fourways na die Johannesburgse middestad onderweg was, het aan die hof gesê hy het tussen 90 km/h en 100 km/h op die M1-hoofweg gery. Zuma het volgens Hellens teen ’n soortgelyke spoed gery. Omdat die taxi vol passasiers was, sou dit nie onder normale omstandighede so getol het nie, maar die nat pad het veroorsaak dat die bestuurders van albei voertuie beheer verloor.

“Dit is hoekom die neus van die beskuldigde se voertuig ná die ongeluk in die teenoorgestelde rigting gestaan het,” het Hellens gesê.

Die staat het Jacques Cronjé, ’n Porsche-handelaar, geroep om oor die veiligheidsaspekte van die Porsche-model wat Zuma gery het, te getuig.

Hellens het dit aan hom gestel dat Porsche vanjaar ’n stelsel in nuwe modelle gaan installeer wat die bestuurder help om beter onder nat omstandighede te bestuur om juis te voorkom dat die voertuig tol wanneer dit water op ’n padoppervlak tref. Volgens Hellens is die Porsche waarmee Zuma gery het lig en het breë wiele, wat veroorsaak dat dit gly en tol wanneer dit oor water ry.

“Dit is ’n swak plek en die rede waarom Porsche besluit het om ’n beter stelsel in die nuwe model te installeer.”

Noni Mdakane het getuig sy is die passasier wat die minibustaxibestuurder gewaarsku het oor die Porsche wat “teen ’n hoë spoed op hulle afgepeil het”.

Hellens het egter haar getuienis in twyfel getrek en aangevoer dat sy, van waar sy in die minibus gesit het, nie akkuraat kon bepaal presies hoe vinnig die Porsche ry nie.

Mthobisi Nxumalo, ’n werknemer van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het oor die weerstoestande ten tyde van die ongeluk getuig. Hy het gesê die naaste outomatiese weerstasie wat reënvalsyfers meet, is omtrent 3,6 km van die ongelukstoneel af, wat dit volgens hom nie moontlik maak om akkuraat te bepaal presies hoeveel water daar op die hoofweg was op die aand toe die ongeluk gebeur het nie.

Die saak word Woensdag voorgesit.

Meer oor:  Duduzane ­Zuma  |  Randburg  |  Ongeluk  |  Porsche  |  Strafbare Manslag  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.