Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Duduzane spring tronktralies vry
Duduzane Zuma verlaat Vrydag die landdroshof in Randburg nadat hy onskuldig bevind is op aanklagte van strafbare manslag en roekelose bestuur. Foto: Deaan Vivier

AfriForum sê hy berus hom by die hofuitspraak waarin Duduzane Zuma Vrydag onskuldig bevind is op aanklagte strafbare manslag asook roekelose en nalatige bestuur.

Dié burgerregte-organisasie het destyds ’n aansoek by die nasionale vervolgingsgesag (NVG) ingedien om Zuma privaat te vervolg, maar die NVG het toe besluit om dit eerder self te doen.

Luidens ’n verklaring is AfriForum tevrede dat Zuma “sy dag in die hof gehad het”.

“AfriForum se doel was om seker te maak dat Zuma jr. soos enige burger teen wie ’n prima facie-saak bestaan, sy saak vir beoordeling in die hof moet stel. AfriForum het in hierdie doelwit geslaag en berus hom by die hof se besluit,” lui die verklaring.

Oudpresident Jacob Zuma omhels sy dogter Duduzile tydens die hofverrigtinge van haar tweelingbroer, Duduzane. Foto: Deaan Vivier

Zuma het Vrydag tydens sy verskyning in die landdroshof in Randburg gemaklik voorgekom toe hy voor die verrigtinge geselsies met sy regspan aangeknoop het. Sy pa, oudpres. Jacob Zuma, en sy tweelingsuster, Duduzile, was in die hofbanke om hom te ondersteun.

Zuma jr. is verhoor nadat hy in Februarie 2014 met sy Porsche 911 op die M1-snelweg in Sandton teen ’n minibus-taxi gebots het. Een van die passasiers, Phumzile Dube (33), is weens die ongeluk dood.

Landdros Thebogo Thupaatlase het in sy uitspraak gesê die hof het uit die beskikbare getuienis bevind dat slegte weerstoestande tydens die ongeluk geheers het. Die pad was nat en sigbaarheid swak.

Hy sê die hof aanvaar Zuma se weergawe van die gebeure dat hy beheer oor sy motor verloor het nadat die voertuig ’n plas water getref, en toe getol het. Zuma sê hy het sy spoed voor die ongeluk tot tussen 90 km/h en 100 km/h verminder.

Zuma se getuienis stem volgens Thupaatlase ooreen met dié van verskeie getuies, wat die slegte weerstoestande en swak sigbaarheid bevestig het.

“Kenners het aan die hof bevestig dat ’n motor teen ’n veel laer spoed kan gly wanneer daar water op die pad is,” het Thupaatlase gesê.

Die landdros het in sy uitspraak veral verwys na die getuienis van Michael Jankelowitz, ’n onafhanklike getuie, wat verby die ongelukstoneel gery het.

Jankelowitz het getuig hy het kort voor die ongeluk gesien hoe die Porsche 911 verby hom ry, want hy het ’n belangstelling in sportmotors. Volgens hom het Zuma nie gejaag nie.

Edina Dube, ma van wyle Phumzile Dube, Vrydag in die landdroshof voordat Duduzile Zuma onskuldig bevind is op aanklagte wat verband hou met die ongeluk waarin haar dogter dood is. Foto: Christiaan du Plessis

Volgens Thupaatlase het die staatsgetuies eerder Zuma se weergawe van gebeure gestaaf, as wat hulle sy getuienis in twyfel getrek het.

“Die staat het versuim om te bewys dat Zuma se optrede, of gebrek daaraan, op nalatigheid neerkom. Zuma se motor was padwaardig. Ek aanvaar die verdediging se argument dat geen redelike bestuurder die voorval sou kon voorsien nie.

Zanele Lwana, adjunkpresident van die party Black First Land First (BLF), sê haar party is tevrede met die hof se beslissing.

“Ons het strykdeur volgehou dat die rassistiese AfriForum Zuma in die visier het omdat hy die oudpresident se seun is,” het sy gesê.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die NVG, sê hulle respekteer die hof se beslissing.

“Ons glo dit is ’n regverdige uitspraak en dat die landdros al die feite in ag geneem het. Hoewel die staatsaanklaer sy bes gedoen het, beskou hy ook die uitspraak as regverdig,” sê Mjonondwane.

Duduzane Zuma gesels met sy tweelingsuster Duduzile in die landdroshof in Randburg nadat hy onskuldig bevind is op aanklagte van strafbare manslag en roekelose bestuur. Foto: Deaan Vivier
Duduzane Zuma in die landdroshof in Randburg waar hy onskuldig bevind is op aanklagte van strafbare manslag asook nalatige en roekelose bestuur. Foto: Deaan Vivier
Duduzane Zuma stap vinnig voor die media uit buite die landdroshof in Randburg nadat hy onskuldig bevind is. Foto: Deaan Vivier
Duduzane Zuma groet sy advokaat, Mike Helens SC, buite die landdroshof in Randburg. Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Duduzane Zuma  |  Strafbare Manslag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.