Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Duduzane Zuma in hof oor spoed uitgevra

Duduzane Zuma, een van oudpres. Jacob Zuma se seuns, het Donderdag sy getuienis hervat in die landdroshof in Randburg waar hy teregstaan op aanklagte van manslag en roekelose en nalatige bestuur.

Dit volg nadat hy in Februarie 2014 met sy Porsche teen ’n taxi in Johannesburg gebots het. Phumzile Dube, ’n passasier in die taxi, is in die ongeluk op die M1-snelweg naby die Grayston-afrit dood.

Zuma het Woensdag begin getuig en was Donderdag op die oog af meer gespanne en het nie soveel grappies met hofpersoneel en joernaliste gemaak nie.

Yusuf Baba, staatsaanklaer, het Zuma Donderdag gekruisondervra oor die spoed waarteen hy gery het toe die ongeluk gebeur het.

Zuma het in die hof getuig hy het net voor die ongeluk sy spoed verminder van 120 km/h tot ongeveer 90 km/h tot 100 km/h omdat dit swaar begin reën het.

In sy eedsverklaring aan die polisie ná die ongeluk het Zuma gesê hy het teen ’n “normale spoed gery”.

Vir sy versekeringsmaatskappy het Zuma gesê sy spoed was 70 km/h.

“Ek is gevra om my gemiddelde spoed te gee, en dit is wat ek gedoen het,” het Zuma getuig toe Baba hom hieroor gepols het.

Zuma was die nag van die ongeluk van Fourways na sy huis in Saxonwold op pad. Hy was op die snelweg naby die Grayston-afrit toe hy glo deur ’n plas water gery en beheer oor sy motor verloor het.

Konrard Lotter, ’n meganiese ingenieur, getuig nou vir die verdediging.

Die verhoor duur voort.

Meer oor:  Duduzane Zuma  |  Hofsaak  |  Botsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.