Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Dwelmhandel: Saak teen Benni se broer laaste keer uitgestel

Die saak teen Jerome McCarthy (47), ouer broer van die Bafana Bafana-sokkerlegende Benni McCarthy (43), is Donderdag in die landdroshof in Bellville finaal vir verdere ondersoek tot 21 April 2021 uitgestel.

McCarthy staan op aanklag van handel in dwelms tereg.

Die landdros het Donderdag gelas dat dit die laaste uitstel sou wees.

McCarthy is in November 2020 by sy huis in Bosbokstraat in Klipkop, Parow, in hegtenis geneem nadat speurders van die Valke in die Wes-Kaap op ’n besending Mandrax-tablette beslag gelê het wat by sy huis afgelewer is. Hy is ná sy eerste hofverskyning op borgtog van R100 000 vrygelaat.

Jerome McCarthy

Sy inhegtenisname het gekom nadat speurders verbonde aan die Valke in die Wes-Kaap en Gauteng se dwelmeenheid inligting ontvang het van ’n aflewering van 250 000 Mandrax-tablette wat by ’n adres in die nywerheidsgebied naby die Kaapstad Internasionale Lughawe afgelewer sou word. Die dwelms is uit Germiston na Kaapstad gestuur.

Die geskatte straatwaarde van die dwelms was sowat R8,7 miljoen.

Daar is vroeër berig die span speurders het die voertuig onderskep wat die dwelms vervoer het. Hulle het uiteindelik slegs sowat 1 000 van die Mandrax-tablette na McCarthy se huis met die koerier aangestuur.

Volgens inligting het McCarthy met die koerier se aankoms by sy huis met die vragbrief na buite gekom om die “pakkie” in ontvangs te neem. Hy is in hegtenis geneem kort nadat hy daarvoor geteken het en dit in sy besit geneem het.

Bronne het gesê die polisie het toe al geruime tyd naby sy huis vir die koerier gewag om op te daag.

Hy het in November verlede jaar met sy borgtogaansoek gesê dat hy al die afgelope 15 jaar saam met sy vrou en twee kinders, waarvan een minderjarig is, by die adres in Parow woon. Hy het gesê dat hy voor sy minderjarige dogter in hegtenis geneem is en dat hy bang is dat hierdie voorval ’n langdurige traumatiese uitwerking op sy kinders kan hê.

McCarthy het ook gesê hy is van plan om skuld op die aanklagte teen hom te ontken. Hy is toe op borgtog van R100 000 vrygelaat.

McCarthy, wat voorheen vir Manning Rangers in Durban en Santos in Kaapstad op die sokkerveld uitgedraf het, is nou die eienaar van McCarthy Sports, ’n agentskap vir sokkerspelers. McCarthy is in 2003 vir ’n jaar uit sokker geskors nadat hy skuld beken het vir die gebruik van ’n verbode middel.

Meer oor:  Belville  |  Kaapstad  |  Hof  |  Dwelmhandel  |  Benni Mccarthy
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.