Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Eben oor voorval in Langebaan: ‘Dís wat gebeur het’
Eben Etzebeth. Foto: Deaan Vivier

Die Springbok-slot Eben Etzebeth het Maandag in hofstukke die sluier gelig oor wat presies in sy “onderonsies” op 24 Augustus in Langebaan aan die Weskus gebeur het.

Daarin spreek hy ook skerp kritiek uit op die Menseregtekommissie (MRK) wat volgens die rugbyspeler sy eie prosesse geminag en ook partydig ten gunste van die klaer opgetree het.

Hy beskuldig ook die MRK van “onwettige optrede” en ’n “aggressiewe mediaveldtog” teen hom.

Etzebeth skets ook in fyn besonderhede wat op 24 Augustus in Langebaan gebeur het. Daarin blyk dit dat daar onverwante voorvalle was.

Hy verwerp ook die bewering dat hy ’n vuurwapen by hom gehad het.

Etzebeth se weergawe, uit sy beëdigde verklaring (uit Engels vertaal) lui as volg:

* Omstreeks 17:00 was ek saam met ’n groep familielede en vriende by die Langebaan-seiljagklub. Ek het ’n bofbalpet gedra. Dit is teen die kleredrag-reëls van die klub. Toe ons instap is ek aangesê dat ek my pet sal moet verwyder wanneer ek die kroeg ingaan. Ek het dit gedoen.

* Ek het deur die loop van die aand, uit gewoonte, die pet weer op my kop gesit. ’n Wit man van die klub het my gekonfronteer en op ’n onbeskofte manier en luid aangedring dat ek die pet verwyder.

* Ek het oorgestap na hom toe en vir hom gesê dat hy mense met respek behoort te behandel. Van my vriende en familie het ook aanstoot geneem en hom self gekonfronteer. Ek het dadelik tussenbeide getree en aan my vriende gesê om dit te los. Geen rasseopmerkings is gemaak nie en die kwessie is vreedsaam opgelos. Die persoon wat my beledig het, sy vrou en ’n ouer man het ingestem dat hulle nie so oneerbiedig moes gewees het nie.

* Al die betrokkenes was wit.

* Omstreeks middernag is ons groep na die Watergat-kroeg in Langebaan.

* Omstreeks 02:00 wou ons loop, maar buite was daar iets aan die gang wat gelyk het soos ’n woordewisseling of bakleiery. Ek het vir my vriende gesê om vyf minute te wag tot dit ophou. Ons het die Watergat vyf minute later verlaat.

* ’n Rooi Honda het in trurat my byna omgery toe ek en my meisie na my motor stap. Ek het teen sy agterste ruit geklop om hom te wys dat ek daar is. Hy het op my gevloek en weggery.

* Op daardie tydstip het ’n groep mans my neef, wat eenkant gestaan het, op ’n dreigende manier genader. Ek het saam met my broer en twee van ons vriende nader gestap vir ingeval hulle my neef wou aanrand. Ek het vir my vriende gesê dat ons dadelik moet spore maak, want ek was bang dat dinge handuit kan ruk.

* Met die wegry het iemand ’n bottel na my motor gegooi. Ek het omgedraai en mense daar gevra wie dit was. Ek het uit die motor geklim om te sien wat die skade is en my vriende het teruggekom om te sien waarom ek so lank neem.

* ’n Groep mense het aangehou om ons te vloek. Ek het geeneen van hulle geken nie. Ons het oorgestap om hulle te konfronteer en almal het begin hardloop. Daar was mense wat agter hulle aangehardloop het, van my vriende, asook mense wat ons glad nie geken het nie. Ek het gesien hoe my broer in ’n plek wat swak belig was inhardloop. Ek het vir sy veiligheid gevrees. Ek het agter hom aangehardloop om hom terug te roep voordat hy in ’n geveg betrokke raak. Toe ons terugkeer na die motor, is klippe na ons kant toe gegooi. Gelukkig is geeneen van ons beseer nie. Ons het onmiddellik huis toe gery.

* Ek het op geen geleentheid iemand aangerand of rassisties beledig nie.

* Ek het nie ’n vuurwapen of enige ander wapen by my gehad nie.

Meer oor:  Menseregtekommissie (Mrk)  |  Eben Etzebeth  |  Langebaan  |  Hofstukke  |  Hof  |  Rasse-Voorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.