Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Eerste Baaitjie-verdagte gou in visier, hoor hof

Met ’n bietjie geluk, min slaap en baie speurvernuf het ’n speurder ’n dag ná die opspraakwekkende moord op Johannes Baaitjie, DA-raadslid van Daniëlskuil, die visier stewig op sy eerste verdagte gehad.

Lt.kol. Dolf Lourens in die getuiebank in die hooggeregshof in Kimberley. Foto: Charné Kemp

Dié getuienis is Maandag in die hooggeregshof in Kimberley aangehoor.

Lt.kol. Dolf Lourens, ondersoekbeampte, het in die moordverhoor van Zonizelo Magawu, gewese ANC-takvoorsitter, Richard Hasane, Tshame Frank Baxane, Thompson Mncedisi Mphondomisa en Matthews Legodu getuig.

Hulle word van die moord op Baaitjie en sy vennoot, Shuping Nouse, asook ontvoering en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie aangekla.

Baaitjie se lyk is met ’n skietwond in sy kop op 18 Augustus 2016 langs die pad naby Postmasburg gekry. Die gewonde Nouse is dae later op 23 Augustus aan sy beserings dood.

Die staat voer aan dat die beskuldigdes ná 2016 se munisipale verkiesing meer winsgewende tenders van ’n ANC-beheerde raad wou kry, en dat Baaitjie in hul pad gestaan het en uit die weg geruim moes word.

Johannes Baaitjie Foto: Argief

Lourens se eerste leidraad was ’n selfoonboodskap van die vermeende moordenaar aan Baaitjie. Baaitjie, ’n boukontrakteur, is ’n plaveiselkontrak aangebied indien hy ene Jonathan op 17 Augustus om 18:00 in Postmasburg sou ontmoet.

Lourens het op 18 Augustus met behulp van ’n lasbrief inligting van die selfoondiensverskaffer oor die versender se selfoonnommer gekry. Die selfoonnommer is in ’n Nokia N70-handstuk gebruik. Twee ander selfoonnommers, waarvan een aan Magawu behoort het, is ook in dié foon gebruik.

Per toeval was die 082-selfoonnommer reeds op Lourens se selfoon vir ’n onverwante ondersoek geberg. Hy het Magawu se profielfoto van sy WhatsApp-profiel afgelaai.

Lourens het daardie nag na Daniëlskuil teruggekeer om na Magawu te soek, maar hy was nie tuis nie. Sy vriendin het gesê hy is by Legodu.

Lourens is na Legodu se huis waar dié aan hom gesê het hy het op 17 Augustus met Magawu op die 082-nommer gepraat. Dit was insiggewend vir Lourens.

Lourens en sy span het ná dagbreek op ’n 9 mm-projektiel afgekom waar Baaitjie se lyk gelê het.

Magawu, wat intussen by die polisiekantoor opgedaag het, is in hegtenis geneem.

Hy wou aan Lourens verduidelik waar hy op die dag van die voorval was. Hy het glo baie alkohol saam met vriende gedrink en nog drank ná 17:00 gaan koop. Hy is later huis toe.

Hy het sy selfone verloor. Hy was onseker of sy Samsung-foon die dag van die moord of die vorige Vrydag of Saterdag weggeraak het, maar het besluit dit het op 5 Augustus weggeraak. Hy het dit by die plaaslike selfoonwinkel aangemeld.

Sy plaasvervanger Mobicell-selfoon het die Maandag voor die moord ook weggeraak.

Magawu, wat Afrikaans magtig is, het ingestem om die waarskuwingsverklaring op ’n Afrikaanse vorm af te lê indien die onderhoud in Engels gevoer word.

Die verhoor voor regter Pule Tlaletsi duur voort.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Johannes Baaitjie  |  Verkiesing  |  Verdagtes  |  Politiek  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.