Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Eerste verdagtes vas in SA se 'grootste bankroof'

Die inhegtenisneming Woensdag van die eerste mense in “die grootste bankrooftog tot nog toe in Suid-Afrika” net meer as twee jaar nadat VBS Mutual­ Bank in kuratele geplaas is, is ’n belangrike mylpaal, maar baie werk lê nog voor.

Julius Malema. Foto: Felix Dlangamandla

So sê adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging.

Sy het Woensdag op ’n mediakonferensie in Pretoria die versekering gegee dat politici ook ondersoek sal word indien dit blyk hulle was by geldwassery of korrupsie betrokke.

Daar word beweer dat Julius Malema, EFF-leier, en Floyd Shivambu, adjunkleier van die party, voordeel getrek het uit die VBS-bedrog. Hulle ontken dit.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die direktoraat vir die ondersoek van prioriteitsmisdade (die Valke), het op die mediakonferensie gesê die ondersoek sal voortduur ondanks die aanvanklike inhegtenisnemings en meer mense sal dalk nog vasgetrek word.

Lebeya het aangekondig vier mense is Woensdag in hegtenis geneem weens die beweerde bedrog en korrupsie wat dié bank in duie laat stort het. Nog drie sou hulle gister deur die loop van die dag aan die polisie oorgee.

Die sewe word Donderdag in die streekhof in Palm Ridge in Gauteng aangekla van 47 misdade, waaronder geldwassery, bedrog, diefstal en korrupsie.

’n Agtste verdagte is in kwarantyn weens die Covid-19-regulasies en sal eers later in die hof verskyn.

* News24 berig dié agt mense is volgens amaBhungane: Tshifhiwa Matodzi, voormalige voorsitter van VBS, Andile Ramavhunga, hoof: Phophi Mukhodobwane, tesourier, Philip Truter, finansiële hoof, Paul Magula en Ernest Nesane, albei destyds verteenwoordigers van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) in VBS se direksie, lt.genl. Phalaphala Avhashoni Ramikosi­, oud- finansiële hoof van die polisie en ’n nie-uitvoerende direkteur van VBS, en Sipho Malaba, afgedankte ouditeursvennoot van KPMG.

Die Valke se ondersoek dui daarop dat die agt regstreeks of onregstreeks voordeel ter waarde van R120 miljoen uit die bedrog getrek het.

Nagenoeg R2,3 miljard het by VBS “verdwyn” en duisende bejaarde en arm mense van veral Limpopo het hul spaargeld verloor toe die bank gelikwideer moes word.

NPA boss Shamila Batohi. (Daily Sun, file)
Shamila Batohi

Daar is ook min hoop dat die sowat R1,5 miljard wat munisipaliteite wederregtelik by die onderlinge bank belê het ná die likwidasie uitbetaal sal word. Munisipaliteite mag nie geld in onderlinge banke deponeer nie.

In die forensiese ondersoek wat adv. Terry Motau in opdrag van die Reserwebank na VBS laat doen het, is die vinger gewys na onder andere Ramavhunga, Matodzi, Truter en Mukhodobwane.

Hulle het onder meer luukse eiendomme in plekke soos Plettenbergbaai en luukse voertuie – minstens twee Porsche-motors – gekoop.

Batohi sê dis belangrik dat hulle noukeurig voortgaan met die vervolgings om te verseker dat geregtigheid uiteindelik wel seëvier.

VBS het vir die eerste keer nasionale nuusopskrifte gehaal toe die bank in 2016 ’n huisverband van R7,8 miljoen aan oudpres. Jacob Zuma­ toegestaan het om te betaal vir aanbouwerk by sy Nkandla-woning in KwaZulu-Natal. Dit was nadat ’n hof bevind het sogenaamde “veiligheidsverbeteringe” van byna R10 miljoen het niks met veiligheid te doen gehad nie en Zuma moes die geld aan die staat terugbetaal.

Die OBK het nagenoeg 25% van VBS besit. Die twee OBK-werknemers in VBS se direksie is glo omgekoop.

Politieke partye sê:

Die EFF het die inhegtenisnemings “verwelkom, omdat dit ’n geleentheid in neutrale howe gaan bied om harde feite en bewyse voor te lê, waardeur die mediaveldtog en belastering . . . op ’n einde gebring sal word”.

Die EFF sê hulle verwelkom die Valke se onderneming dat alle oortreders verantwoordbaar gehou sal word. Die party het weer eens alle beweringe in die verband teen sy leierskap ontken.

Die DA het die inhegtenisnemings verwelkom.

Cilliers Brink, DA-LP, sê hy was bekommerd oor die “oënskynlike gebrek aan vordering” in die saak.

Hy is ook bekommerd daaroor dat daar geen “ernstige gevolge” was vir die burgemeesters en munisipale amptenare wat in VBS belê het nie. Baie het bedank te midde van ondersoeke.

“In minstens een geval het die finansiële hoof van ’n munisipaliteit in Noordwes bedank voordat dissiplinêre optrede teen haar gedoen kan word, net om ’n paar maande later as ’n munisipale bestuurder in Limpopo te verskyn.”

Michal Groenewald, VF Plus-LP, het die inhegtenisnemings verwelkom, maar sê dit is nou belangrik om ook optrede te sien teen bekende persone en ampsdraers in die ANC en die EFF wat glo voordeel getrek het uit die geld wat deur VBS gestroop is.

Groenewald sê ook alle betrokkenes by die Openbare Beleggingskorporasie moet persoonlik aanspreeklik gehou word vir geld wat deur beleggings by VBS verloor is indien hulle bewus was van ongerymdhede, maar dit verswyg het.


Meer oor:  Valke  |  Vbs Mutual Bank  |  Shamila Batohi  |  Julius Malema  |  Bankroof  |  Verdagtes Vas  |  Bankbedrof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.