Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
EFF-leier in Limpopo bots wéér met gereg
Jossey Buthane (40), EFF-leier in Limpopo. Foto: Facebook/Jossey Buthane

Die EFF-leier in Limpopo het vir die soveelste keer met die gereg gebots.

Jossey Buthane (40) is Vrydag op borgtog van R1 000 in die landdroshof in Seshego vrygelaat nadat hy aangekla is van ’n string misdade.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê Buthane is van poging tot moord, diefstal, aanranding met die opset om ernstig te beseer en ontvoering aangekla.

Hy staan tereg saam met Freddy Magongoa (39), Obakeng Makhura (42) en Oupa Ramaphoko (39).

Hulle is Donderdag in hegtenis geneem nadat hulle op 12 Januarie deel was van ’n groep mense wat glo misdaad in Seshego wou uitroei.

Mojapelo sê Buthane en sy drie makkers het na bewering eiendom beskadig en ’n man glo ontvoer. Dié man is glo toe so erg aangerand dat hy sy bewussyn verloor het.

Daar het ook ’n vuurwapen weggeraak tydens die “misdaadvoorkomingsaksie” van die EFF.

Jossey Buthane (40), EFF-leier in Limpopo. Foto: Verskaf

Lt.genl. Nneke Ledwaba, polisiehoof in Limpopo, sê die optrede van Buthane en sy makkers was onwettig. “Mense moenie die reg in eie hande neem nie.”

Buthane ontken sy betrokkenheid by enige misdaad. Hy hou vol dat hy probeer het om misdaad en veral bendebedrywighede in Seshego uit te roei.

Dit is nie die eerste keer dat Buthane, ’n boesemvriend van Julius Malema, EFF-leier, in hegtenis geneem is nie.

Hy is in 2018 in Polokwane aangekeer weens aanranding met die opset om ernstig te beseer nadat hy en ’n groep mense agterop ’n bakkie amok gemaak het by die luukse Fusion Boutique-hotel in Suidstraat.

Hy het ’n saamtrek van die Radical Economic Transformation Forum (RETF) ontwrig toe hy hulle daarvan beskuldig het dat hulle onwettig tenders bekom.

Hy is ook in 2017 aangekla van aanranding sowel as aanranding met die opset om ernstig te beseer ná ’n beweerde geveg met familielede oor erfgeld.

Hy is in 2015 aangekla van aanhitsing tot geweld in die omgewing van Anglo American Platinum se Mogalakwena-myn naby Mokopane.

Voor dié voorval is hy op waarskuwing vrygelaat nadat hy glo ’n man by die Universiteit van Limpopo se Turfloop-kampus in Mankweng, sowat 30 km van Polokwane, met ’n stok geslaan het.

Die sake van 2015, 2017 en 2018 is nog hangende. Buthane en sy drie medebeskuldigdes van Seshego moet op 6 Maart weer in die landdroshof verskyn.

Meer oor:  Limpopo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.