Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
EFF moet plan maak en betaal, of...

As die EFF en sy leier, Julius Malema, nie teen Vrydag R109 098 vir die burgerregteorganisasie AfriForum gee nie, gaan hy weer ’n proses begin om op sy bates beslag te lê.

Floyd Shivambu en Julius Malema by ’n EFF-geleentheid kort voor die verkiesing. Foto: Elizabeth Sejake

Só sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. Die EFF skuld dié geld nadat AfriForum in November verlede jaar ’n kostebevel teen die party gekry het. Dit is toegestaan nadat die hof ’n dringende aansoek van die EFF van die hand gewys het om AfriForum te keer om op sy bates beslag te lê ingevolge ’n ander kostebevel.

Van die vyf kostebevele wat AfriForum al teen Malema en die EFF gekry het, is twee reeds betaal en saam was dit R235 000. Kriel meen die gesamentlike bedrag vir die vyf kostebevele beloop sowat R550 000.

Oudmin. Trevor Manuel het ook die afgelope week ’n kostebevel van R500 000 teen die EFF gekry. Regter Elias Matojane het Donderdag in die hooggeregshof in Johannesburg bevind die EFF het Manuel belaster. Hulle is gelas om hom binne 24 uur verskoning te vra en sy regskoste te betaal. Malema sê hulle gaan appelleer.

AfriForum het al R235 000 gekry.

AfriForum wil die EFF se geld gebruik om pogings om die land se Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, in die howe te beveg, terwyl Manuel sê hy gaan sy geld aan liefdadigheid skenk.

Die EFF se probleme in die howe kan egter voortduur, met Scorpio, Daily Maverick se ondersoekeenheid, wat die berig het dat minstens R4,13 miljoen van die R16,1 miljoen wat Brian Shivambu by die VBS Bank gekry het, aan die EFF oorbetaal is. Shivambu is die jonger broer van die EFF-adjunkleier, Floyd Shivambu.

Volgens Scorpio is van die geld gebruik om die EFF se vierde verjaarsdagpartytjie in Julie 2017 in Durban te finansier.

Die oorbetaling van die geld is glo verbloem omdat dit aan twee frontmaatskappye betaal is wat aan Malema en Shivambu behoort.

Scorpio beweer hy kan bewys dat R1,5 miljoen van die R4,13 miljoen regstreeks in EFF-bankrekeninge oorbetaal is.

’n Bedrag van R454 000 is ook na bewering betaal in die bankrekening van die Eya­dini Lounge, die plek waar die EFF se verjaarsdagpartytjie in 2017 gehou is.

Die EFF het nie op navrae van Scorpio gereageer nie, maar Malema het al by verskeie geleenthede ontken dat sy party baat gevind het by VBS-geld.

Die party het nie op navrae van Rapport reageer oor of hy AfriForum se kostebevel teen Vrydag sal kan betaal nie.

Brig. Hangwani Mulaudzi,woordvoerder van die Valke, wou nie sê of die EFF of lede van die EFF betrek word by hul ondersoek na die VBS-skandaal nie.

Meer oor:  Kallie Kriel  |  Afriforum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.