Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Egpaar kan nou boete betaal oor wild op meenthuiserf

Die aanklagte teen ’n egpaar wat glo vyf klein krokodilletjies, twee koedoekalfies en twee klein vlakvarkies in hul meenthuiserf in Bloemfontein aangehou het, is in die streekhof met een verminder en hulle kan ook nou ’n afkoopboete betaal.

Die direkteur van openbare vervolging in die Vrystaat het ná vertoë van Julius Saaiman (37) en Wendy Cockeram-Saaiman (38) beslis hulle kan nou elkeen ’n afkoopboete van R2 000 betaal en dan is die saak afgehandel.

Julius Saaiman Foto: Mike van Rooyen

Julius word nou net aangekla dat hy die krokodille, wat ’n bedreigde of beskermde diersoort is ingevolge die Tops-regulasie, besit het.

Die klag teen Wendy is dat sy die koedoekalfies en vlakvarkies sonder ’n permit aangehou het.

Die derde aanklag, wat oor die vervoer van die krokodilletjies gaan, is laat vaar.

Die Saaimans se verhoor voor streeklanddros Marina Voges is Woensdag tot Maart uitgestel sodat hulle met hul prokureur kan beraadslaag en besluit of hulle die boetes gaan betaal of verhoor wil word.

Indien hulle nie die boetes betaal nie, sal ’n verhoordatum bepaal word, sê Voges.

Danie van den Heever het aangekla. Kenneth Lennox van Lovius Block-prokureurs het vir die Saaimans opgetree.

* Die departement van natuurbewaring in die Vrystaat het op 9 Februarie 2019 op die varkies, kalfies en krokodille beslag gelê.

Die krokodille was toe al sowat 30 cm lank en is in ’n kampie in die tuin gehou. Die vlakvarkies en koedoes het glo los in die tuin van die Westcliff-meenthuis in Sieraadweg, Fleurdal, rondgeloop.

Die meenthuis behoort aan Wendy.

* Dié paartjie was verlede jaar ook in die nuus toe hulle mekaar in die hooggeregshof in Bloemfontein gegryp het oor die Home Forest-gastehuis wat Julius in Van Iddekingelaan, Fichardtpark, bedryf het.

Die huis behoort aan Wendy en sy het hom met net die klere aan sy lyf daar uitgesluit. Hy het ’n dringende aansoek gebring om weer in besit van die huis geplaas te word.

Die hof het dit toegestaan en Julius kon weer toegang tot sy klere en ander besittings kry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.