Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Werker dood op hoewe: Egpaar wil pleit en skik
Robert Clive Opperman (55) kom met ’n vorige verskyning die hof uit die aanhoudingsel binne. Foto: Isabel Venter

Die egpaar wat in hegtenis geneem is nadat ’n werknemer op hul hoewe doodgeskiet is, is in onderhandelings met die staat gewikkel met die oog op ’n moontlike pleit-en-vonnisooreenkoms.

Die proses is vroeër vertraag deur die Covid-19-pandemie en ’n proefbeampte moes Maandag by die streekhof in Pretoria met Robert Clive Opperman (55) konsulteer om ’n voorvonnisverslag op te stel, aangesien sy hom volgens die tronk se “Covid-19-regulasies” nie daar kon besoek nie.

Opperman en sy vrou, Lauretha, is destyds in hegtenis geneem op onder meer ’n aanklag van ’n gemeenskaplike doel om ’n moord te pleeg.

Die aanklag teen Lauretha is verander in een van begunstiger toe die saak vroeër na die streekhof oorgeplaas is.

Opperman, wat vroeër borgtog geweier is, word daarvan beskuldig dat hy Meeting Lucky Manyedi op 27 November 2019 op hul hoewe in Raslouw, Centurion, vermoor het.

Hy word ook aangekla van regsverydeling deurdat hy glo Manyedi se lyk verbrand het.

Lauretha, wat op borgtog van R2 500 vrygelaat is, het haarself na bewering skuldig gemaak aan “sekere optredes met die doel om haar man te help om aanspreeklikheid te ontduik” vir die beweerde moord, lui die klagstaat nou.

Lauretha Opperman met ’n vorige hofverskyning. Foto: Isabel Venter

Hiervolgens het sy, nadat Manyedi doodgeskiet is, sy bloed van die plaveisel afgewas “in ’n poging om bewyse waardevol tot (die) polisie se forensiese ondersoek” te verwyder.

Sy het glo ook daardie aand vir konst. Sello Mokholoane, die eerste polisieman wat gereageer het toe iemand alarm gemaak het, gejok en vertel dat niks op die hoewe gebeur het nie.

Voorts het sy na bewering teenoor Mokholoane voorgegee dat die kringtelevisiestelsel op die hoewe nie werk nie toe die konstabel versoek het om na opnames van die dag te kyk.

Nadat verdere ondersoekwerk in die saak afgehandel is, is ’n afskrif van die DNS-verslag, asook beeldmateriaal van die kringtelevisiekamera, aan die verdediging verskaf.

Die twee beskuldigdes se regsverteenwoordigers het aangedui dat hulle die senior staatsaanklaer sal nader vir moontlik pleitonderhandelings.

Hiervoor moes voorvonnisverslae bekom word.

In Julie het die hof gehoor dat die een proefbeampte in isolasie is weens die koronavirus en die ander een nie vir Opperman in die tronk kon gaan besoek nie, weens die vlak 4-inperkings wat in daardie stadium gegeld het.

Die saak is toe uitgestel tot Maandag, waarop die hof ingelig is dat Lauretha se verslag binnekort gereed sal wees.

Inligting vir haar man se verslag kon egter eers die oggend van hom bekom word toe hy van die tronk na die hof gebring is.

Die saak is vir die afhandeling van die verslae uitgestel en Opperman bly in aanhouding.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.