Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Eis ná polisie vrou oor ‘gesteelde’ trollie arresteer

’n Klinieksuster van Limpopo sal vir altyd ’n krom ringvinger hê ná haar inhegtenisneming weens die diefstal van winkelmandjies, waarvan sy later kwytgeskeld is.

Lorette Lourens wys haar beserings nadat die polisie haar glo in November 2011 aangerand het.

Nou eis Lorette Lourens (60) skadevergoeding van R960 000 van die polisie en R647 250 van Shoprite.

Lourens het aan Rapport gesê sy het die ses mandjies by ’n winkelier gekoop wat sou emigreer. Sy was in 2011 takbestuurder van die welsynsorganisasie Volkshulp 2000 in Mookgophong (Naboomspruit), en het die voorraad vir armes se kospakkies in die mandjies gepak.

Op 17 November 2011 het sy ook ’n ou trollie persent gekry by die Vodacom-winkel in ’n sentrum waarin daar ook ’n tak van U-Save (’n deel van die Shoprite-groep) is.

Toe sy met die trollie op haar bakkie by die sentrum wou uitry, is sy voorgekeer. ’n Wag het haar van diefstal beskuldig, hoewel sy gesê het Vodacom het die trollie vir haar gegee. Sy het die trollie afgehaal en huis toe gery.

Haar voete is onder haar uitgeskop.

Toe daag werknemers van U-Save saam met die polisie by haar huis in Golfpark op en beskuldig haar van diefstal. Sy het gesê sy het die trollie daar gelos.

Die volgende oomblik is sy van diefstal van die mandjies beskuldig. Sy het dít ook ontken en daarop aangedring om die kwitansie vir die mandjies te wys.

Toe die polisievrou haar wou boei, het Lourens, ’n vrou van skaars 1,5 m lank, haar verset. “Toe oorrompel sy my deur met die boeie na my te kap. Ek het met my hand gekeer en die hou het my vinger se sening afgeruk.”

Toe sy al in die vangwa was, het die polisie die mandjies ingegooi. “Ek het uitgespring omdat ek bang was die mandjies maak my seer.”

Piet de Jager van Pretoria, haar prokureur, sê sy is geklap, haar arm is gedraai, haar voete is onder haar uitgeskop en sy is met ’n knie op die grond vasgedruk.

Hy sê ook die polisie het sowat drie uur lank met haar in die vangwa rondgery. By die polisiekantoor kon sy nie water kry nie. Haar bejaarde pa het vir haar water gebring. Sy is oornag in ’n sel aangehou en het die volgende oggend borgtog gekry.

Haar vinger is twee dae later geopereer.

Op 1 Augustus 2012 het die landdroshof haar op ’n klag van diefstal ontslaan nadat die staat nie sy saak kon bewys nie.

Die polisie het al ses mandjies “langtand” aan haar teruggegee.

Die Pretoriase hooggeregshof het beveel die twee eise kan saam aangehoor word.

Die polisie ontken in sy hofstukke dat Lourens se arrestasie onwettig en kwaadwillig was, “want sy was in besit van ’n item wat as gesteel aangemeld is”.

Hulle ontken ook sy is aangerand en sê sy moet dit bewys. “Haar beserings was weens haar poging om arrestasie te verhoed. Sy het haarself beseer.”

Hulle ontken hulle het onwettig met haar in die vangwa “rondgery”.

Shoprite sê in sý hofstukke dis die polisie wat besluit het om Lourens te arresteer. Lourens het “skeltaal” gebruik en haar teen “arrestasie verset”.

Shoprite sê die mandjies, wat hy rakke noem, is sy eiendom en hy was geregtig om dit terug te vat. Daar was ’n “redelike vermoede van diefstal”.

Lourens het “die polisielede fisiek aangerand”, beweer Shop­rite.

Meer oor:  Polisie  |  Shoprite  |  Skadevergoeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.