Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Ek het aangejaag,’ sê De la Hunt aan kollega
Ao Thinus Nel het ’n rekonstruksie van die skiettoneel in die egpaar se kombuis gedoen en aan die hof gese die koeël is deur Twanette se oog en aan die bokant van haar kop uit. Foto: SAPD

“Ek het k** aangejaag, jy gaan my toesluit,” het Jan de la Hunt, ’n gewese polisielid van Ventersburg, die aand van sy vrou, Twanette, se dood aan ’n kollega gesê.

De la Hunt het volgens getuies in die hof vier verskillende weergawes vertel oor hoe sy vrou, Twanette, op 27 April 2016 in die egpaar se huis met sy dienspistool geskiet is.

De la Hunt word in die rondgaande hof in Virginia verhoor. Hy word van moord aangekla en het in sy verweerskrif gesê Twanette wou selfdood pleeg. Hy wou die pistool by haar afneem en ’n skoot het in die worsteling afgegaan.

Dr. Piet van Wyk, ’n plaaslike geneesheer wat na die toneel ontbied is, het aan die hof gesê De la Hunt het die aand van die skietvoorval aan hom vertel hy het gedrink en in die sitkamer gesit.

A.o Thinus Nel ’n forensiese kenner het ’n rekonstruksie van die skiettoneel gedoen aan die hof gesê hy skakel selfdood uit en glo ook nie die skoot het weens ’n struweling afgegaan nie. Die Vector Z88 9mm parabellum dienspistool waarmee Twanette geskiet is, is een van die veiligste wapens wat daar is, het hy gesê.Foto: Alet van der Walt
Jan de la Hunt word daarvan aangekla dat hy sy vrou Twanette verlede jaar in die egpaar se huis geskiet het.Twanette is op hospitaal toe weens die skietwond oorlede.Foto: Alet van der Walt
Adv. Pieter Nel van die Regshulpraad tree namens Jan de la Hunt op in De la Hunt se verhoor in die rondgaande hof in Virginia.Foto: Alet van der Walt

De la Hunt het die honde hoor blaf waarna hy die kombuisdeur hoor oop- en toegaan het.

Die volgende oomblik het ’n skoot geklap en hy het op Twanette afgekom waar sy met ’n skietwond op die kombuisvloer gelê het.

Van Wyk het getuig Twanette het hom ongeveer ’n week voor haar dood besoek.

Hy het aan haar gesê die simptome van haar maagkwaal klink soos spanning.

Sy het angstig maar nie depressief nie, voorgekom, het hy getuig.

Sers. Jacob Korope en a.o James Moeketsi, twee polisielede van Ventersburg, het in hul getuienis gesê De la Hunt het eers gesê hy weet nie wat gebeur het nie.

Later het De la Hunt aan Moeketsi gesê hy het k*k aangejaag.

Toe Moeketsi hom weer vra wat op die toneel gebeur het, het De la Hunt gesê hy het die honde hoor blaf en uitgegaan om te kyk wat gebeur het.

Hy het sy pistool in die kombuis neergesit en weet nie wat toe gebeur het nie.

Moeketsi het aan die hof gesê De la Hunt het toe hy hom weer vra wat gebeur het, gesê hy het ’n dop gaan skink en toe hy verby Twanette loop het hy ’n skoot hoor klap.

Moeketsi het hierna vir De la Hunt in hegtenis geneem.

Moeketsi en Korope het aan die hof vertel hulle het die huis deurgesoek en gesien ’n deur na een van die slaapkamers was stukkend geslaan.

Korope het gesê ’n mens kon sien die deur is onlangs beskadig want die stukke van die beskadigde deur het nog op die vloer gelê.

De la Hunt het aan hulle erken hy het die deur beskadig, maar gesê dit was vroeër en nie ten tyde van die rusie nie.

A.o Thinus Nel, ’n forensiese kenner, het ’n rekonstruksie van die toneel in die De la Hunt-egpaar se kombuis gedoen.

Nel het gesê hy skakel selfdood as ’n rede vir die skietvoorval uit. Die moontlikheid dat die wapen ten tyde van ’n struweling kon afgaan, is ook hoog onwaarskynlik, het hy gesê.

Nel het aan die hof gesê as twee mense oor ’n vuurwapen stoei, sou die wapen laer af gewees het en nie gesighoogte nie.

Nel het getuig dat die wapen van voor en op dieselfde hoogte as Twanette se gesig afgevuur is. Die trajek van die koeël dui daarop dat sy haar kop weggetrek het toe die skoot afgevuur is.

Die pistool was baie naby, 2 tot 10 cm, aan haar gesig, het hy gesê.

Adv. Pieter Nel tree namens De la Hunt op, adv. Jannie Botha kla aan en regter B.R Lefenya hoor die saak aan. Die verhoor duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.