Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Ek het my seun vertrou,’ getuig pa in taksbedrogsaak

Hy het sy seun vertrou en geglo hy weet wat hy doen, het ’n bewoë Norman Delport (68), ’n oudpolisieman van Waverley in Bloemfontein, ter versagting van sy vonnis in die hooggeregshof in Bloemfontein getuig.

Norman Delport (links) in die Vrystaatse hooggeregshof. Regs is sy seun, Marius, met sy vrou, Johanna, in die middel agter hulle besig met haar selfoon.Foto: Mike van Rooyen

Hy het beken dat hy roekeloos was in die hantering en beheer van twee trusts en ’n maatskappy. Dit het sy seun, Marius (37), ’n hoenderboer, in staat gestel om Jan Taks met 136 BTW-eise uit R60,3 miljoen te bedrieg.

Marius, aan die ander kant, het Maandag weer voor waarnemende regter Henriëtte Murray probeer om sy pleit na onskuldig te verander.

“My Christelike geloof verbied my om skuld te beken op iets wat ek nie gedoen het nie.

“Ek kan nie hier staan terwyl die skuldige wat die geld gesteel het, vry buite rondloop nie.”

Hy is sedert sy skuldigbevinding vroeër vanjaar in aanhouding.

Murray het sy aansoek, net soos die vorige een, geweier en oor sy aansoek om verlof om te appelleer, gesê hy kan dit ná die vonnisverrigtinge doen.

Sy pa het emosioneel getuig hy het nooit besef watter gevolge sy agtelosigheid sou hê nie. “Ek wens ek het die geleentheid gehad om dit alles reg te maak.

“Ek besef nou eers watter verliese die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, banke en my gesin gely het.”

Luidens ’n voorvonnisverslag van Johannes van der Merwe, hoof van maatskaplike dienste van die departement van korrektiewe dienste in die Grootvlei-gebied, het Norman en sy vrou, Johanna, alles verloor wat hulle besit het.

Hy het sy huis verkoop en sy pensioengeld vir sy seun gegee om sy onderneming te begin. Hulle het in een van sy seun se huise in die spoglandgoed Woodland Hills gaan woon.

Hulle leef nou van ’n staatspensioen en woon in ’n kamer agter hul dogter se huurhuis.

Norman was die direkteur en trustee van die maatskappy Two Ships Trading 373, die Delport-familietrust en die Eden Rocktrust waardeur die bedrog tussen 2009 en 2015 met valse BTW-eise gepleeg is.

Adv. Wellington Sampisi tree vir die staat op. Dawie Reyneke van Regshulp SA tree namens die pa op.

Die vonnisverrigtinge duur voort.

Meer oor:  Norman Delport  |  Bloemfontein  |  Bedrog  |  Taksbedrogsaak  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.