Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Ek is die meester van manipulasie,’ skryf Ruiters glo

“Ek is die meester van manipulasie.”

Dit is glo van die handgeskrewe aantekeninge wat Kyle Ruiters (21) in een van die notaboeke gemaak het waarop die polisie beslag gelê het.

Behalwe die notaboeke het die polisie ook op ’n klomp regsboeke en boeke wat glo met reeksmoorde verband hou in die eenslaapkamerwoonstel, wat hy met sy tannie, adv. Theresa Ruiters, deel, beslag gelê.

Die notaboeke is op die bedkassie langs Ruiters se bed gevind. Die regsboeke is glo gevind by die matras op die grond waarop sy tannie slaap.

Ruiters word aangekla van die moord op Lynette Volschenk (32) in die Seesig-woonstelgebou in Loevenstein, Bellville.

Lynette Volschenk
Lynette Volschenk (32) Foto: Facebook

Intussen blyk dit dat die ystersaag waarmee Ruiters glo vir Volschenk opgesny het, die oggend van Woensdag 22 Augustus by ’n hardewarewinkel in Boston, Bellville, gekoop is.

Die bestuur van die winkel het bevestig dat hy die oggend daar was en dat hy ’n ystersaag gekoop het.

Hulle het ook gesê dat dit die eerste keer was wat hy daar was. Volgens een van die bestuurders het hulle reeds alle inligting en kringtelevisiebeeldmateriaal van Ruiters daardie oggend in die winkel aan die polisie oorhandig.

Ruiters het glo skoon klere met ’n Adidas-keppie opgehad.

Ruiters is Donderdag vir die moord in hegtenis geneem. Hy het haar vermoedelik reeds die vorige dag omstreeks 17:00 vermoor.

Bloedbesmeerde klere

Bronne het gesê dat hy toe bloedbesmeerde klere aangehad het. Hy is deur die polisie in hegtenis geneem waar hy glo besig was om haar bloedbesmeerde woonstel skoon te maak.

Volschenk het op die tiende verdieping gewoon en Ruiters en sy tannie op die negende verdieping.

Bronne met kennis van die ondersoek het gesê dat die boeke met die handgeskrewe notas en die boeke wat met reeksmoorde verband hou, reeds aan die hoof van die Wes-Kaapse polisie-eenheid wat reeksmoorde help ondersoek, oorhandig is.

Hulle het gesê die polisie het die Donderdag nadat Ruiters in hegtenis geneem is, swartsakke met Volschenk se liggaamsdele in haar woonstel en in sy woonstel gekry.

Hy het haar lyk vermoedelik reeds die Woensdag wat hy haar glo vermoor het, opgesny.

Volschenk is met ’n mes doodgesteek. Sy is glo in haar linkeroog deur haar slaap gesteek en is vermoedelik onmiddellik dood. Haar lykskouing is verlede week gedoen.

Netwerk24 het vroeër berig dat Volschenk se moordenaar haar kop, albei haar bene en albei haar arms van haar liggaam afgesny het. Hy het ook haar middellyf in drie opgesny. Haar moordenaar het die Donderdag haar kop in ’n beboste gebied naby die woonstelgebou gaan wegsteek. Dit is die Vrydag ná ’n soektog deur die polisie gevind.

Lysie met name

’n Bron het Maandag by die landdroshof waar Ruiters op ’n aanklag van moord verskyn het, gerugte bevestig dat daar ’n lysie met name in Ruiters se woonstel gevind is en dat ’n pakkie vir aflewering by een van die name op die lysie ook in die woonstel gevind is.

Daar is verlede week berig dat Ruiters vermoedelik ’n Bybel toegedraai het en gemaak het asof hy dit kom aflewer om sodoende toegang tot Volschenk se woonstel te kry.

Dié Bybel is die dag waarop haar lyk ontdek is in haar Seesig-woonstel in Loevenstein, Bellville, gekry. Ingeligte bronne het gesê die polisie het die dag waarop haar lyk ontdek is, reeds op die Bybel beslag gelê.

Kyle Ruiters (
Kyle Ruiters (21) in die landdroshof in Belville. Foto: Jaco Marais

Familielede van Volschenk het Ruiters Maandag ’n “f*kk*n sadis” genoem toe hy in die beskuldigdebank in die landdroshof in Bellville verskyn het.

Ruiters se tannie en sy biologiese pa was ook in die hof. Ruiters se biologiese ouers woon glo in Boksburg, Gauteng. Theresa wou glad nie die media te woord staan nie en het Ruiters se pa verbied om met die media te praat.

Die staatsaanklaer, Clifford Moatlhodi, het aan die hof gesê dat die DNS-verslag, die lykskouingsverslag, sowel as foto’s van die misdaadtoneel en ander forensiese bewyse, nog uitstaande is.

Die DNS-verslag kan tot drie maande neem om voltooi te word.

Die hof het gehoor dat Ruiters nie nou al om borgtog aansoek gaan doen nie. Die saak is tot 21 November uitgestel. Hy word tot dan in die Goodwood-gevangenis aangehou.

Meer oor:  Lynette Volschenk  |  Kyle Ruiters  |  Seesig-Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.