Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Ek is nie skaam vir my Xander’

Sy is nie skaam vir haar kind nie.

“Dis my kind, God het hom vir my gegee. Mense kyk my vreemd aan as hulle my van hoor, maar ek gaan dit nie verander nie, want ek is nie skaam vir my kind nie,” sê ’n gebroke Mercia Bylsma.

Mercia Bylsma en Xander tydens ’n vorige hofverskyning. Foto: Deaan Vivier

Haar enigste seun, Xander (21), is Vrydag in die hooggeregshof in Mmabatho tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis weens die moord op sy gewese meisie, Sharnelle Hough (17), en haar boesemvriendin, Marna Engelbrecht (16), wat ook sy kleinniggie was.

Die twee tieners se lyke is Saterdag 26 Mei 2018 in hul koshuis by die Hoërskool Stella in Noordwes gevind.

Xander het Marna met ’n drasak verwurg. Daarna het hy Sharnelle verwurg en met ’n tou aan ’n trapreling opgehang.

My kwit, ek wil ook weet wie het daai kinders doodgemaak en dis nie my kind nie.

“Elke liewe oggend bid ek dat ons die horlosie kan terugdraai. Daar gaan nie ’n dag verby dat ek dit nie doen nie,” het ’n voos gehuilde Mercia Vrydag gesê, haar blou oë seer en stukkend en leeg.

Sy en haar eksman, Monté, wat albei vroeër in die polisie was, glo steeds in hul seun se onskuld.

Regter Ronald Hendricks het in sy vonnisoplegging veral klem gelê op hoe belangrik ouers se opvoeding is in die bou van hul kinders se karakter. Hy het gesê Xander se ouers moes dalk strenger opgetree het nadat die skool dissiplinêre gesprekke met hom oor sy gedrag teenoor ander kinders gevoer en uit die koshuis geskors het.

Sharnelle Hough

“In plaas daarvan om iets aan sy gedrag te doen, het dit net erger geraak.”

Hendricks het gesê vir hom lyk dit of die beskuldigde “mind games” gespeel het met sy ouers, wat geskei is toe hy nog ’n kleuter was. Die regter vermoed Xander het die situasie uitgebuit om met onbeheerbare gedrag weg te kom.

Dit lyk of die egskeiding ’n geweldige impak op Xander se latere sosiale gedrag en vaardighede gehad het.

Mercia het aan Rapport gesê: “Natuurlik het ons foute gemaak, maar ons het ook net ons bes probeer en die mens wat in daardie hof beskryf is, is nie my kind nie.”

Volgens haar is sy en Monté net so hartseer oor die meisies se dood.

Ronnie Hough, Sharnelle se pa, het gister gesê: “Dis waar wat die regter sê. ’n Mens bou jou kind se karakter van kleins af. Maar dan ook nou weer maak geen ouer sy kind groot om ’n moordenaar te wees nie. Maar soos die regter uitgewys het, Xander se ouers moes dalk meer opgelet het na die goed wat hy ook aan ander kinders in die koshuis gedoen het.”

Hy sê geen vonnis sal in elk geval sy kind terugbring nie.

Stefaans Engelbrecht by ’n foto van sy dogter, Marna. Foto: Felix Dlangamandla

“Daar gaan nie ’n verskil in my lewe kom nou nie. Elke dag bly dieselfde. ’n Mens lees altyd van sulke moorde in die koerant en dink dat jy self sal moord pleeg as dit jou ooit tref. Totdat dit jou tref, dan is dit ’n heel ander situasie. Ek dink nie ’n mens herstel ooit van só iets nie,” sê Hough.

Mercia het Donderdagaand ’n spesiale bord kos vir haar seun voorberei wat sy hof toe gebring het, maar amptenare het geweier om dit vir hom te gee.

“Die laaste ding wat ek vir mý kind kon doen, was om haar af te sny van die tou (waarmee sy in die koshuis opgehang is),” sê Hough.

Monté en Mercia het gehoop hulle sou hul seun kon groet voordat hy weer toegesluit word en die hof is spesiaal daarvoor ontruim. Maar toe is toestemming daarvoor ook geweier.

Ronnie Hough Foto: Deaan Vivier

Nog lank ná die vonnisoplegging het ’n verslae Mercia in die parkeerterrein agter die hofgebou gewag. Die voertuig wat Xander moes tronk toe neem, sou daar verby ry en sy het gehoop om haar lieflingkind vir oulaas te sien, vinnig te groet en moed in te praat. Maar dié voertuig het so vinnig verby haar gejaag dat sy maar net kon skreeu, “Baai, Seuna!” voordat sy hopeloos begin huil het.

Die Bylsmas wil appelleer.

“Ons wou net so graag die regte skuldige vandag hier in die hof gesien het en wil ook hê die moord moet opgelos word,” sê Monté. “ ’n Mens ignore nie die evidence en maak ’n puzzle nie.

“My kwit, ek wil ook weet wie het daai kinders doodgemaak en dis nie my kind nie. Ek is verby die punt van aanvaar, ek sal die ding veg tot ek sterf, ek sal veg,” sê die pa.

“Ons het vir twee jaar in hierdie hof getry en baklei en hulle wil dit nie insien nie. Hy was klaar ‘skuldig’ nog voordat hy skuldig bevind is.”

Mercia sê: “Niemand het ’n idee wie hy (Xander) regtig is nie en dis net Xander, Sharnelle en Marna wat weet wat regtig daai dag gebeur het.”

Adv. Johan Smit SC, staatsaanklaer, het gister gesê: “Hulle gaan volgende week die aansoek om te appelleer liasseer en dan sal ons maar sien. Hulle het die reg om dit te doen en dit uit te oefen en dan moet die hof besluit.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.