Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Ek sou baba aborteer as ek wis sy het downsindroom’

’n Vrou van Bromhof in Johannesburg wat sê sy sou gekies het om haar baba te laat aborteer as sy geweet het die kind het downsindroom, het ’n skadevergoedingseis teen haar ginekoloog verloor.

Nadia Carelse en Chelsea.

Nadia Carelse en Jason Broderick kon as ouers van Chelsea (6) nie bewys dat dr. Pieter Engelbrecht van die Life Wilgeheuwel-hospitaal in Roodepoort nalatig was nie. Die hooggeregshof in Pretoria het in Augustus die paartjie se saak van die hand gewys. Hulle moet ook Engelbrecht se regskoste betaal om die eis te kon teenstaan.

Regter Vivian Tlhapi het gesê die ouers het Engelbrecht gedagvaar weens skade wat hulle gely het omdat Chelsea met downsindroom gebore is.

Die ouers meen Engelbrecht het sy sorgplig teenoor hulle versaak deurdat hy nie in die voorgeboorte-ondersoek vasgestel het die baba het downsindroom nie.

Die ouers meen hul verlies spruit uit die gevolge daarvan om ’n downsindroom-kind groot te maak. Carelse (nou 35) was 28 toe sy swanger geword het.

Tlhapi het op grond van Engelbrecht en deskundiges se getuienis in die saak bevind Carelse het as 28-jarige nie in die groep pa­siënte geval by wie daar ’n voorkoms van down-geboortes is nie.

‘Implikasies is wel met die ouers bespreek.’

Tlhapi het ook bevind Engelbrecht was nie nalatig in die bestuur van Carelse as sy pasiënt nie. Die ouers het in hofstukke aangevoer Carelse sou op ’n aborsie besluit het as sy geweet het Chelsea het downsindroom.

Tlhapi het gesê daar is altyd ’n moontlikheid dat ’n vrou geboorte kan gee aan ’n kind met ’n onomkeerbare aangebore of genetiese gebrek. In sekere gevalle verhoog die risiko hiervan soos die vrou ouer word.

Siftings- en diagnostiese toetse is ontwikkel om dié gebreke vas te stel by swanger vroue of dié wat ’n risiko het om ’n kind met abnormaliteite te hê. Downsindroom is ’n chromosoomversteuring by sowat een uit elke 1 000 lewende geboortes. Dis een van die fetale gebreke wat as ’n waarskynlikheid vasgestel kan word deur laerisiko-berekenings te doen deur siftingstoetse (sonar en bloedtoetse).

Dit kan definitief vasgestel en bevestig word deur aan ’n pasiënt te sê daar is diagnostiese toetse beskikbaar, het sy gesê.

Diagnostiese toetse word aangebied as die siftingstoetse ’n hoë risiko van downsindroom toon. Die diagnostiese toetse is ingrypend en hou ’n 1%-risiko in van ’n miskraam, lui die uitspraak.

Carelse het getuig sy en Broderick, haar verloofde, het beplan om ’n baba te hê. Sy was vyf weke swanger met hul eerste afspraak met Engelbrecht op 1 April 2011.

Met haar afspraak van 20 Mei 2011 het Engelbrecht gesê hy gaan kyk vir downsindroom deur ’n skandering te doen en die baba se nekvou te meet. Hy kon nie die meting doen nie, want die baba het verkeerd gelê.

Carelse moes ’n paar dae later terugkeer vir nóg ’n skandering. Dit moes binne ’n venstertydperk gebeur waarin die meting gedoen moes word. Dit kon toe weer nie gedoen word nie, want die baba het weer nie in die regte posisie gelê nie, het sy getuig.

Bloedmonsters is toe op 17 Junie 2011 geneem.

Volgens Carelse het Engelbrecht nie die uitslae daarvan met haar bespreek nie.

Carelse het getuig sy was in ’n skoktoestand toe sy ná die geboorte op 4 November 2011 by Engelbrecht hoor Chelsea het downsindroom. Sy het nie die moontlikheid voorsien dat sy ’n abnormale kind sou hê nie.

Broderick het getuig hy was by met die geboorte en hy was “uiters geskok” toe hy hoor die baba het ses van die sewe tekens van downsindroom.

Engelbrecht het getuig hy het van 1991 af tussen 7 000 en 7 500 swangerskappe bestuur. Tussen Januarie 2003 en Maart 2015 het hy drie aborsies weens downsindroom uitgevoer.

Van die 2 680 babas wat tussen 2003 en 2015 met sy hulp gebore is, het Chelsea en nog een downsindroom gehad.

Engelbrecht het getuig Carelse se bloedtoets het haar ’n laerisiko-klassifikasie vir ’n downsindroombaba gegee.

“Hy sou bygevoeg het dat dít nie beteken het dat die baba nié downsindroom het nie,” lui die uitspraak.

Tlhapi het bevind die waarskynlikheid is dat die bloedtoetsuitslae en die implikasies wel met die ouers bespreek is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.