Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Ek wens hy was dood’, sê 15-jarige oor ma se lewensmaat

’n Tienerseun is glo byna ’n jaar lank soos ’n weggooibrak oor naweke en skoolvakansies in ’n kamer langs die sakeperseel van sy ma se lewensmaat toegesluit.

Daar moes dié 15-jarige seun bly tot die skool weer begin.

Hy is nie toegelaat om met sy ma te kommunikeer nie en het sy aande alleen verwyl. Die eerste paar weke het hy op ’n kombers op die grond geslaap, waarna hy toe ’n bed gekry het.

Dit is blykbaar sy ma se lewensmaat wat besluit het hy mag nie meer by hul huis in die Kaapse Swartland bly nie nadat hy tydelik deur die skool geskors is.

Só het die sambokhale op ‘n 15-jarige seun se lyf gelyk nadat sy ma se lewensmaat hom glo op 5 Januarie met ‘n sambok geslaan het. Foto: Verskaf

Die seun vertel hy het sy eerste pak slae gekry in die eerste jaar dat hulle by die 43-jarige sakeman gebly het. Dit was met ’n lyfband. “Ek kan nie eens meer onthou hoekom ek pak gekry het nie. Ek weet wel dat dit seer was.”

Dit was so sewe jaar gelede. Hulle het toe aan die Oos-Rand gewoon.

Oor die jare het die slae glo meer gereeld geword. Eers met ’n lyfband en later met ’n sambok. “Ek het soms pak gekry vir iets wat ek ’n week tevore verkeerd sou gedoen het.”

Op 5 Januarie vanjaar het die man hom weer geslaan, vertel hy. Dit was weer met ’n sambok en ’n lyfband. Daar is sigbare merke op sy regterheup en bobene.

Dié keer was die aanranding omdat hy glo nagelaat het om ’n koeldrankbottel wat onder stukke hout gelê het, ’n leë sigaretpakkie en ’n koeldrankbottel wat op die perseel gelê het, op te tel.

Die seun, wat tans in die sorg van pleegouers is, het Vrydag gesê hy glo egter hy is geslaan omdat die polisie vir die man en sy ma gevra het waarom hy daar woon.

“Mense was nie veronderstel om te weet dat ek daar bly nie.”

Mense sien beweging op sakeperseel

Sy teenwoordigheid daar het onder die polisie se aandag gekom nadat mense wat oorkant die perseel op ’n stuk grond geparkeer het, beweging by die perseel gesien het.

Hulle het die polisie gebel, wat toe gaan ondersoek instel het. Daar het hulle afgekom op die seun wat toe vir hulle gesê het hy woon daar. Hy was toe al van 24 November daar en moes bedags help om die perseel skoon te maak.

Die seun het daarin geslaag om sy biologiese pa, wat in Gauteng woon, te kontak. Hy het ook vir hom foto’s van die merke aan sy lyf gestuur.

Sy pa het op 10 Januarie na Kaapstad gereis waar hy ’n klag van kindermishandeling teen sy gewese vrou se lewensmaat by die polisie op Malmesbury ingedien het.

Die man is op 11 Januarie vanjaar deur ’n speurder van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings (GKS) in Malmesbury in hegtenis geneem.

Hy het Vrydag in die landdroshof op Malmesbury verskyn.

Borgtog van R2 000 is aan die man toegestaan.

Die seuns se pleegouers het gesê die regstelsel faal die seun.

Die hale was twee ná die beweerde aanranding met ‘n sambok nog op die 15-jarige seun se lyf sigbaar. Foto: Verskaf

“Die polisieman het sy werk gedoen. Hy het dag en nag gewerk om die saak gereed vir die hof te kry. Hoekom word die man met handskoene gehanteer?”

Vrydag het die bebrilde tienerseun gesê hy wil die man nooit weer sien nie. “Ek wens hy was dood. Ek weet dis wreed, maar ek wens hy was dood.”

Hy sê hy het verlede jaar in gr. 8 met onderwysers gaan praat oor die aanranding. “Ek het vir hulle die merke gewys. “Niemand het my gehelp nie.”

Die seun is een van drie tieners wat in die sorg is van die egpaar wat buite die dorp woon. By hul huis staan die tieners – ’n seun en ’n meisie, en die tienerseun – in die kombuis en lag oor iets.

Hy sê dis vir hom nog vreemd om ná so ’n lang tyd alleen weer ’n huis met mense te deel. “Ek moet nog daaraan gewoond raak.”

Hy wys die merke aan sy heup en bobene. “Dit was seer. Hy het my altyd laat buk wanneer hy my met die sambok geslaan het en wanneer ek nie wou nie, het hy dan die belt gaan haal. Dan sou hy nie worry oor waar hy my slaan nie. My kop, enige plek oor my lyf, hy sou net slaan.”

Sy ma het glo van die aanrandings geweet.

“Ek weet sy het nie daarvan gehou nie. Sy het ook nie daarvan gehou dat ek opgesluit is nie. Ek weet egter nie hoekom sy niks gedoen het nie.”

Dat die tienerseun lief is vir sy ma, is duidelik. Sy oë blink wanneer hy van sy mamma praat. Hy het Vrydagoggend vir haar ’n boodskap gestuur om te vra waar sy kliniekkaart is. Hy kort ’n nuwe bril en moet ook ’n tandarts gaan sien.

“Sy bly my ma. Ek is lief vir haar. Ek weet nie hoekom sy niks gedoen het nie. Miskien is sy bang vir hom? Ek weet nie.”

’n Deel van die man se borgtogvoorwaardes is dat hy nie met die seun of sy pleegouers mag kontak maak nie. Hy moet weer op 6 Februarie in die hof verskyn.

Meer oor:  Malmesbury  |  Mishandeling  |  Hof  |  Aanranding  |  Stiefpa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.