Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Ek’s gereed om tronk binne te stap’ – Zuma aan Mogoeng
Oudpres. Jacob Zuma toe hy in 2017 as president die tronksel van die afgestorwe Swartbewussynsbeweging-leier Steve Biko in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria besoek het. Foto: Deaan Vivier

Ter wille van die belangrikheid van grondwetlike regte is hy bereid om as die eerste gevangene van die konstitusionele hof die tronk binne te stap.

Só skryf oudpres. Jacob Zuma in sy lang en omvattende antwoord van 21 bladsye aan hoofregter Mogoeng Mogoeng.

Die brief volg op ’n versoek van Mogoeng om te antwoord oor wat sy reaksie sal wees as die hoogste hof in die land hom skuldig bevind aan minagting van die hof en hom moontlik tronk toe stuur.

Mogoeng het gevra dit moet nie langer as 15 bladsye wees nie.

Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het die konstitusionele hof gevra om Zuma aan minagting van die hof skuldig te bevind.

Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het die konstitusionele hof gevra om Zuma aan minagting van die hof skuldig te bevind en twee jaar tronk toe te stuur omdat hy nie ’n opdrag van dié hof gehoorsaam het om voor die kommissie te verskyn nie.

Zuma het ook geen voorlegging aan die konstitusionele hof gedoen toe die kommissie hom tot dié hof gewend het nie.

Die 79-jarige Zuma sê hy besef sy antwoord is lank, maar meen dit is sy reg om onder die omstandighede volledig aangehoor te word.

Hy sê hy berus hom daarby dat hy op pad is tronk toe – al dink hy dit is ’n onregverdige straf. Hy weet sy lot berus nou by die konstitusionele hof se regters.

Zuma sê dit is duidelik dat die konstitusionele hof nie tot ander insigte oortuig sal word nie. Voorts besef hy hy sal nie sy vonnis op appèl of hersiening kan neem nie.

“My gevangenisstraf sal die grondslag wees waarop ’n toekomstige stryd vir die regbank – wat homself sien as ’n dienaar van die Grondwet en die mense – geveg sal word. ’n Regbank wat homself nie sien as ’n werktuig om die oorheersende politieke narratief te bevorder nie,” skryf Zuma.

Die oudpresident wat in 2018 deur die ANC as staatshoof herroep is, sê sy verwagte gevangenisstraf is niks anders as ’n “grondwetlike eksperiment” nie.

Sy politieke teenstanders sal in die strate feesvier oor dit wat hulle bereik het as hy tronk toe gaan.

Hulle sal die legitimiteit van instellings waarvoor hy en die ANC geveg het hiervoor gebruik, sê Zuma.

Meer as 40 getuies voor die Zondo-kommissie het Zuma al by staatskaping betrek.

Meer as 40 getuies voor die Zondo-kommissie het Zuma al by staatskaping betrek.

Zuma skryf dit is duidelik die konstitusionele hof beskou die Zondo-kommissie as “sentraal tot die natuurlike lewe en die soektog na die nasionale waarheid oor die stand van regering onder my presidensie”.

Hy skryf ook dit is duidelik dat hoewel die konstitusionele hof geen jurisdiksie het nie, was adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, vasbeslote om die kwessie voor regters te plaas wat sy onderdane is om tot ’n beslissing te kom wat hý wil hê.

Hy sê die konstitusionele hof het toegelaat dat hy misbruik word om hom (Zuma) te verneder en te verontmenslik.

Zuma beskuldig Zondo al lankal daarvan dat hy partydig teenoor hom staan.

“Ek het lank en diep gedink oor die versoek in ’n voorskrif. Ek is ook geadviseer dat ’n brief van dié aard aan die hof ongehoord is as ’n antwoord op ’n voorskrif wat as ’n beëdigde verklaring ingedien sal word.

“In die ongehoorde aard van my dreigende tronkstraf, bevind ons ons inderdaad op ongehoorde terrein,” skryf Zuma.

Die oudpresident sê dit is sy plig om sy grondwetlike reg te verdedig al loop hy die gevaar om tronkstraf te kry.

“Ek aanvaar nie dat ek my skuldig gemaak het aan minagting van die hof toe ek besluit het om nie deel te neem aan die werksaamhede in omstandighede waarin my regte geskend sou word nie.”

Zuma sê hy skryf die brief aan Mogoeng omdat dit oneervol van hom sou wees om nie op sy voorskrif te reageer nie. “Ek het geloof in jou as ’n juris en ’n mens met onvoorwaardelike integriteit.

“Ek haal die kwessies op as ’n saak van beginsel en nie as ’n aanval op u nie.

“Ek is bewus daarvan dat u ook deel was van die paneel wat voldoen het aan adjunkhoofregter Zondo se buitengewone aansoek tot die konstitusionele hof.”

Die oudpresident sê dit is sy plig om sy grondwetlike reg te verdedig al loop hy die gevaar om tronkstraf te kry.

“Wat die Zondo-kommissie gedoen het, is onverskoonbaar en ek sal nog lewe om my regverdiging te sien nadat ’n onafhanklike hof die bevindinge van die kommissie – ná die vermorsing van miljarde rande se belastinggeld (deur die kommissie) wat eerder broodnodig was – hersien en bevind die Grondwet is nie nagekom met sy stigting nie.”

  • Zuma het geen voorstel gemaak oor die vonnis wat aan hom opgelê moet word soos Mogoeng versoek het nie.
Meer oor:  Mogoeng Mogoeng  |  Jacob Zuma  |  Tronk  |  Zondo Vs. Zuma  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.