Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ekskêrel het beplan om onderwyseres te vermoor, sê staat

Philip April (25), vermeende moordenaar van die onderwyseres Allison Plaatjies (26), het vooraf beplan om haar dood te maak.

So word aangevoer in die staat se volledige akte van beskuldiging wat Woensdag op April bedien is.

April het Woensdag in die landdroshof in Clanwilliam in die Wes-Kaap verskyn op aanklagte van moord en diefstal.

Hy word daarvan aangekla dat hy Plaatjies, ’n onderwyseres aan die Sederberg Primêre Skool in Clanwilliam, vermoor het deur haar keel met ’n mes af te sny en haar herhaaldelik met ’n mes en/of ander skerp voorwerpe te steek.

Luidens die lykskouingsverslag is Plaatjies se dood veroorsaak deur ’n “ekstensiewe sny aan die keel”. Dit het daartoe gelei dat sy doodbloei.

Allison “Sussie” Plaatjies Foto: Facebook

Die staat voer ook aan dat hy Plaatjies se Hyundai i20 gesteel het nadat hy haar vermoor het. Ook haar selfoon was weg op die dag dat haar lyk gevind is.

April is op 27 Oktober 2019 naby Malmesbury in besit van haar motor in hegtenis geneem.

Hy het glo op 30 Oktober ’n verklaring by die polisie afgelê.

Luidens die akte van beskuldiging is Plaatjies, of Sussie soos haar familie en vriende haar genoem het, op 26 Oktober 2019 laas lewend in April se geselskap gesien.

Sy het hom dié dag by ’n vriend se huis in Viooltjiestraat, Clanwilliam, gaan haal. Hulle is toe glo na die tuinwoonstel in Katjiepieringstraat wat sy gehuur het.

Plaatjies is oorspronklik van Swellendam in die Wes-Kaap.

Die twee het volgens die akte van beskuldiging ontmoet terwyl hulle albei onderwysstudente aan die Kaapstadse Universiteit vir Tegnologie (KSUT) was. Hul verhouding het in 2013 begin.

Allison het haar studie in 2018 voltooi en het daarna ’n pos as ’n onderwyseres by die Sederberg Primêre Skool gekry. April het nog studeer.

Daar is vroeër berig dat sy vermoedelik tot die dood om haar lewe geveg het.

Allison Plaatjies en haar vermeende moordenaar, Philip April. Foto: Facebook

Luidens die klagstaat het April die dag waarop hy in hegtenis geneem is, merke aan albei sy hande gehad. Hy het ook krapmerke aan die linkerkant van sy nek en merke onder sy een oog gehad.

Die staat beweer ook dat die moord beplan was en dat hy met die moordtoneel gepeuter het deur die bloedspatsels op die vloer met ’n mat toe te gooi.

Volgens bronne vertroud met die ondersoek is drie messe gebruik om haar aan te val. Die eerste twee messe het glo weens die brute geweld waarmee dit gebruik is, in haar liggaam afgebreek. Sy is glo in haar bors en aan haar keel gesteek.

’n Tweede mes is moontlik gebruik om haar keel te sny. Dié mes se hef het gebreek.

Die aanvaller het vermoedelik ’n derde mes uit haar kombuis gaan haal en glo haar keel daarmee afgesny.

April se saak is vir verhoor na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas. Daar moet nog op ’n voorverhoordatum besluit word.

Meer oor:  Philip April  |  Clanwilliam  |  Vermoor  |  Onderwyseres  |  Beplan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.