Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
EKSKLUSIEF: Dros-verdagte vir sy veiligheid na selle gehaas

Die haat teenoor Nicholas Ninow was Dinsdag in die landdroshof in Pretoria blykbaar so tasbaar dat polisielede hom tydens ’n verdaging van die hofsitting vir sy eie veiligheid na die hofselle teruggeneem het.

“Daar was rede om te vermoed dat sy lewe in ’n stadium in die hof in gevaar was,” is onderlangs verduidelik.

Die verdaging het gevolg sodat die media, ná ’n suksesvolle hofaansoek deur Netwerk24, foto’s van die sogenaamde Dros-beskuldigde kon neem.

Nicholas Ninow Dinsdagoggend in die landdroshof in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Die 20-jarige man, wie se hare intussen kaalkop geskeer is, word daarvan beskuldig dat hy op Saterdag 22 September ’n sewejarige meisie in die Dros-restaurant in Silverton, Pretoria, verkrag het.

Hy het na bewering die meisie na die vrouebadkamer agtervolg en haar in een van die toilethokkies vasgekeer.

Haar ma en ander mense, insluitende kelners, het hulle glo later daar gevind.

Ninow word ook aangekla van die besit van dwelms. Die stof wat daardie aand in sy besit gevind is, is vir laboratoriumtoetse gestuur om te bepaal of dit wel kokaïen is, soos wat die vermoede is.

Ninow word ook aangekla van aanranding met die opset om ernstig te beseer omdat hy glo met sy gordel na kelners wat hom probeer aankeer het, geslaan het.

Met sy hofverskyning Dinsdag was die hofsaal so volgepak dat toegangsbeheer toegepas moes word.

Net drie verteenwoordigers van elke organisasie of politieke party is in die hof toegelaat. Een van hulle was Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane.

Mense neem foto’s van die vermeende Dros-verkragter in die hof. Foto: Deaan Vivier

Ninow het nie ’n borgtogaansoek gebring nie. Een van die redes hiervoor is vermoedelik dat sy ouma, by wie hy voor die voorval gewoon het, glo niks meer met haar kleinseun te doene wil hê of hom van ’n vaste adres vir ’n borgtogaansoek wil verskaf nie.

Oor sy beserings

Riaan du Plessis, die prokureur vir die verdediging, het in die hofverrigtinge dit op rekord geplaas dat Nicholas Ninow tydens sy inhegtenisneming deur lede van die publiek en die polisie aangerand is.

Hoewel hy vir mediese behandeling geneem is, is nie al sy beserings op die verslag aangedui nie.

“Of die ander beserings is ná die mediese behandeling opgedoen,” sê Du Plessis.

Die beserings sluit in:

  • ’n Sny aan Ninow se een oorlel, wat met vier steke geheg moes word. Dit is vermoedelik toegedien toe hy in die restaurant met ’n gebreekte bottel aangeval is.
  • Daar is twee snye, elk ongeveer 15 cm lank, op sy kop – ook glo met ’n gebreekte bottel toegedien.
  • Daar is ’n sny van 6 cm tot 7 cm lank aan die regterkant van sy nek.
  • Sy een oog is steeds bloedbelope. Du Plessis sê albei Ninow se oë was met sy eerste hofverskyning ’n week gelede potblou. Die regteroogbesering is weens aanranding deur lede van die publiek. Die linkeroog is glo beseer toe polisielede by die Silverton-polisiekantoor hom na bewering gedwing het om opstote te doen en hom toe glo in die gesig geskop het.
  • Ninow is glo ook deur polisielede met die oophand en met ’n gordel geslaan.

Sy verhouding met sy swanger verloofde is volgens inligting reeds voor die Dros-voorval beëindig.

Adv. Sanet Jacobson, aanklaer, het Dinsdag gevra dat die saak tot November uitgestel word vir verdere ondersoek, wat DNS-uitslae en foto’s insluit.

“Die meeste van die getuieverklarings is reeds afgeneem, so dit is net die forensiese uitslae waarvoor ons wag.

“Die beskuldigde se selfoon is ook baie relevant tot die verdere ondersoek, en ons versoek dat die beskuldigde dit aan die ondersoekbeampte oorhandig.

“Sy ouma het aangedui dat die beskuldigde ’n foon gehad het, maar sy weet nie waar dit nou is nie, so ons vra dat die beskuldigde beveel word om dit te oorhandig,” sê Jacobson.

Riaan du Plessis, Ninow se regsverteenwoordiger wat deur Regshulp SA aangestel is, het geantwoord: “Die staat se versoek dat die beskuldigde hulle help met hul ondersoek (teen hom) is ongrondwetlik.

“Dit is sy private eiendom en hy het die reg om nié self-inkriminerende inligting bekend te maak nie.

“Die beskuldigde wil nie in hierdie stadium die staat help nie, omdat ek en hy nog nie gekonsulteer het nie. Hy mag dit ná behoorlik konsultasie heroorweeg,” sê Du Plessis.

Landdros Marley Mokoena het saamgestem dat die staat ’n formele aansoek vir die foon sal moet bring, en sy het die saak toe uitgestel.

Die Afrikaanse tolk het hierop aan Ninow en die publiek verduidelik dat die beskuldigde nie met ’n borgtogaansoek voortgaan nie en dat hy in aanhouding bly.

Daarop het ’n luide gejuig en applous uit die openbare galery gevolg terwyl Ninow weer inderhaas na die hofselle geneem is.

Nadat die hof verdaag het, het hofpersoneel gevra of die burgemeester en politieke groepe soos die ANC-vroueliga en EFF "asseblief in die toekoms ook by die verskynings van ander kinderverkragtingsake sal wees en nie net dié wat aandag in die media trek nie".

Hulle het benadruk hoeveel ander soortgelyke sake hulle daagliks hanteer, wat ongesiens deur die publiek verbygaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.