Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
EKSKLUSIEF: Joost-testament soos stem uit graf oor Amor

Amor Vittone het gedreig om haar en Joost van der Westhuizen se kinders se vanne te verander, wat glo aanleiding daartoe gegee het dat hy op 2 September 2015 sy testament gewysig het, het sy prokureur in ’n eedsverklaring aangevoer.

Vittone ontken egter die bewerings dat sy ooit sodanige dreigement gemaak het ten sterkste.

Lees haar verweer: Amor: 'Ek sal niks doen wat my kinders benadeel'

“As gevolg van (Vittone) se verskeie dreigemente soos om die vanne van haar twee minderjarige kinders na Vittone te verander en deur aan te dring dat die hele gemeenskaplike boedel net aan haar nagelaat word en nie tot voordeel van die minderjarige kinders nie, het Joost my opdrag gegee om sy laaste testament, met betrekking tot sy helfte van die gemeenskaplike boedel, op te stel,” lui die verklaring deur Ferdinand Hartzenberg, die ontslape Springbok-kaptein se voormalige prokureur.

Dié testament is die middelpunt van ’n hofstryd wat Maandag in die hooggeregshof in Pretoria begin.

Die hof moet beslis watter een van twee testamente Van der Westhuizen se laaste, geldige testament is.

Joost van der Westhuizen nadat hy al ’n geruime tyd reeds aan motorneuronsiekte gely het. Foto: Argief

In ’n gesamentlike testament van Van der Westhuizen en Vittone, wat in 2009 onderteken is, erf Vittone alles.

In die 2015-testament onterf Van der Westhuizen sy vervreemde vrou as’t ware en bemaak sy boedel aan sy twee minderjarige kinders.

“Ek bemaak my gehele boedel aan die J9 Trust met dien verstande dat my twee kinders, of hulle afstammelinge, die kapitaal en inkomste begunstigdes (sic) van die trust sal wees,” lui Van der Westhuizen se laaste testament.

“My vrou, Amor, mag geen direkte voordeel uit die J9 Trust ontvang nie.”

Pieter van der Westhuizen, ’n broer, en Hartzenberg doen Maandag aansoek om ’n verklarende bevel, nadat die meester van die hooggeregshof dié testament weens ’n regsfout in die ondertekening nie aanvaar het nie. Hartzenberg het die testament as kommissaris van ede én namens Van der Westhuizen onderteken.

Die aansoekers hou egter voet by stuk dat dié testament aanvaar behoort te word, omdat dit volgens hulle Joost se laaste wilsbeskikking was.

Die 2015-testament bevat ook ’n nuwe aanhangsel wat Van der Westhuizen se rugby-aandenkings en roerende bates tussen sy kinders en familielede verdeel.

Die testament
Lees self Joost se volledige 2015-testament hier

Luidens dié aanhangsel laat Joost ’n Springbokbaadjie vir elk van sy kinders na. Albei kry aandenkings soos skilderye van hul pa en ringe wat hy gedra het, asook TAG Heuer-horlosies.

Sy seun kry drie geraamde Wêreldbeker-Springboktruie en koper rugbystewels en sy dogter ’n “Joost-Springbokmannetjie”, ’n “Mandela-hemp” en ’n medalje van haar pa.

Alle foto’s van hul pa moet hulle self opdeel. In dié aanhangsel kry Vittone ’n televisie.

“Joost, wat in daardie stadium ten volle compos mentis was, het geweet wat die laaste inhoud van sy laaste testament en wilsbeskikking was, omdat dit opgestel is en gewysig is in lyn met sy spesifieke instruksies,” lui Hartzenberg se verklaring.

Joost het in dié testament ook vir Pieter as die nuwe eksekuteur van sy boedel aangewys.

“Ek bepaal dat die trust alleenlik mag ontbind as my dogter die ouderdom van 21 jaar bereik. Die trust mag dan ontbind word en die kapitaal in gelyke dele aan (my twee minderjarige kinders) en/of hul afstammelinge oorhandig word. Die doel van die trust in die tussentyd is om toe te sien dat (die kinders) finansieel behoorlik onderhou word . . . Indien nie een van my kinders meer die voordeel uit my trust kan of mag ontvang nie en die voordeel my ouers en broers toeval . . . sal dit ’n besluit wees van my ouers en broers om die trust te ontbind en/of die trust te wysig soos hulle goed dink as die nuwe begunstigdes van die trust.”

Joost dui aan dat die kinders hul rol as begunstigdes sal verbeur as hul vanne verander, “anders dan as (my dogter) eendag trou”.

Hy versoek ook dat die trust aan albei sy kinders motors moet voorsien sodra hulle 18 word.

Joost en Vittone se paaie het in 2010 geskei. Motorneuronsiekte is in Mei 2011 by Joost gediagnoseer. Die egskeiding was nie afgehandel voordat hy dood is nie.

*Intussen is die aansoek om verlof tot appèl van Joost se twee broers, Pieter en Gustav, en Gavin Varejes teen Vittone, oor wie die trustees van Joost se J9-trust moet wees, in die hooggeregshof in Bloemfontein nog hangende. Die aansoek word in die eerste week van Desember aangehoor, mits die aansoek in die hooggeregshof in Pretoria Maandag nie slaag nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.