Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
EKSKLUSIEF: Ninow wou glo oupa met glasskerf steek
Nicholas Ninow gooi inderhaas sy sweetpaktop se kappie oor sy gesig voordat hy die hof verlaat. Foto: Deaan Vivier

Nicholas Ninow, die man wat daarvan beskuldig word dat hy ’n sewejarige meisie in die toilet van ’n Dros-restaurant verkrag het, het glo al sy oupa met ’n gebreekte stuk glas probeer aanval.

Die sogenaamde Dros-verkragter sit koponderstebo in die beskuldigdebank voordat sy saak aangehoor word.Foto: Deaan Vivier

Vyf onafhanklike bronne het bevestig die 20-jarige man het net meer as drie jaar gelede sy oupa met ’n glasskerf probeer steek toe hulle rusie gemaak het.

Riaan du Plessis, Ninow se prokureur, wou nie daarop kommentaar lewer nie, maar volgens die bronne het Ninow sedert sy kinderdae by sy grootouers gebly. Die aanval op die oupa is destyds glo “intern deur die familie” gehanteer.

Die oupa is intussen aan natuurlike oorsake dood, en Ninow het by sy ouma gebly tot met sy inhegtenisneming op 22 September toe hy glo met die sewejarige meisie in ’n toilethokkie in die Dros in Silverton, Pretoria, betrap is.

Ninow word ook aangekla van die besit van dwelms en aanranding met die opset om ernstig te beseer omdat hy glo met sy gordel geslaan het na kelners wat hom probeer aankeer het.

Ondersoek

* Die polisie en staat is op soek na ’n man wat die Saterdagmiddag van 22 September voor die beweerde voorval saam met Ninow by ’n tafel in die Dros-restaurant gesit het.

Die man, of mense wat kan help met inligting om hom op te spoor, kan kapt. Sekgale van die Moot-polisie by 071 675 7491 bel.

* Die staat het in ’n vorige hofverskyning gevra dat Nicholas Ninow sy selfoon aan die polisie oorhandig omdat hulle dit nie opgespoor kry nie. Die beskuldigde wou nie in daardie stadium sy samewerking gee nie.

Na wat verneem word, is die foon steeds soek. Dit word egter nié as “bepalend” vir die sukses van die verhoor beskou nie.

* Hoewel die uitslag van die DNS-toetse nie in die hof bekend gemaak is nie, het regskundiges op voorwaarde van anonimiteit gesê dit blyk dat die staat se saak teen Ninow vermoedelik so sterk is, dat dié uitslag ook nie as noodsaaklik of “deurslaggewend” vir ’n suksesvolle vervolging beskou word nie, “weens die direkte getuienis wat die staat tot sy beskikking het”.

Die beskuldigde het Donderdag weer in die landdroshof in Pretoria verskyn – sy wange en oë meer ingesonke as tydens sy vorige hofverskyning.

Een van talle betogers wys buite die hof wat sy dink van Nicholas Ninow se verwysing na die Weskoppies- psigiatriese hospitaal.Foto: Deaan Vivier

Terwyl die staat en sy prokureur die hof toegespreek het oor ’n aansoek om Ninow na die Weskoppies- psigiatriese hospitaal vir evaluasie te verwys, het die beskuldigde koponderstebo in die beskuldigdebank gesit.

Hy het soms trane afgevee en in ’n stadium ’n gevoude foto uit sy sak gehaal. Dit was onduidelik wie op die foto was, maar die trane het vryelik geloop terwyl hy na die foto gekyk het.

Adv. Sanet Jacobson, aanklaer, het aan landdros Thandi Theledi gesê daar is nog uitstaande ondersoekwerk in die saak waarop die staat wag.

Dit sluit die forensiese verslag in oor wat die stof was wat in Ninow se besit gevind is toe hy in hegtenis geneem is, sowel as enkele verklarings.

Verskeie organisasies en politieke partye betoog in die reën buite die hof waar die vermeende Dros-verkragter sou verskyn.Foto: Deaan Vivier

Die staat en verdediging het ook ooreengekom dat dit in die belang van geregtigheid is om Ninow na Weskoppies te verwys om sy geestestoestand en strafregtelike toerekeningsvatbaarheid tydens die voorval te bepaal.

Du Plessis het daarop gesê so ’n evaluering van 30 dae word gewoonlik deur ’n paneel van twee psigiaters gedoen.

Hy het versoek dat ’n derde psigiater én ’n kliniese sielkundige deel van die paneel vorm.

“Die beskuldigde het ’n geskiedenis van geestesiektes. Hy is voorheen gediagnoseer met ’n bipolêre versteuring en het behandeling daarvoor en vir dwelmmisbruik ontvang.

“Hy het dwelms gebruik sedert hy 14 jaar oud was.

“Hy het ook ’n geskiedenis dat hy homself beseer en van selfmoordpogings weens die ernstige depressie wat deur die bipolêre versteuring veroorsaak word,” het Du Plessis verduidelik.

Een van die talle betogers buite die landdroshof in Pretoria skryf vroegoggend sy plakkaat voordat Nicholas Ninow in die hof sou verskyn.Foto: Deaan Vivier
Nicholas Ninow (20) kom die hofsaal uit die aanhoudingsel binne. Foto: Deaan Vivier

Die prokureur het bygevoeg dat dié saak nasionaal aandag trek en dat daar duidelike pogings is om die regsproses in dié geval te bespoedig.

“Die DNS-analise is klaar, iets wat gewoonlik maande kan neem. Die staat het reeds proaktief aansoek gedoen vir ’n bed in Weskoppies.

“Daar is glo ook beeldmateriaal van die restaurant, asook foto’s van lede van die publiek, wat in die verhoor gebruik gaan word,” het Du Plessis gesê.

Jacobson was bang die aanstelling van ’n ekstra psigiater en ’n kliniese sielkundige kan die saak, wat sy as “voor die hand liggend” beskryf het, vertraag.

“Dit is ’n ernstige saak, maar dit is nie ernstiger as die ander sake wat daagliks voorkom nie,” het sy bygevoeg.

Theledi het die verdediging se aansoek toegestaan.

Die saak is voorlopig uitgestel tot 28 November vir ’n bed in Weskoppies.

As daar vroeër plek beskikbaar is, sal Ninow voor dan vir die evaluasie gestuur word.

Meer oor:  Nicholas Ninow  |  Dros-Verkragting  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.