Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Musk ‘glo weer in mensdom’ ná hy lastersaak wen

Die Suid-Afrikaans gebore miljardêr Elon Musk (48) het Vrydag as wenner uit die stryd getree in ’n siviele lastersaak wat in ’n federale hof in Los Angeles aangehoor is.

Elon Musk
Elon Musk het gesê sy geloof in die mensdom is herstel nadat hy as wenner uit die stryd getree het in 'n siviele lastersaak. Foto: Reuters

Die jurie het die eis van $190 miljoen deur die Britse grotduiker Vernon Unsworth (64) van die hand gewys.

Musk het hom “pedo guy” op Twitter genoem.

Die eenparige beslissing deur die paneel van vyf vroue en drie mans wat in die jurie gedien het, is ná 45 minute se beraadslaging gelewer.

Die verhoor het vier dae lank geduur.

Volgens kenners is dit die eerste groot lastersaak deur ’n private individue oor opmerkings wat op Twitter gemaak is en waaroor ’n jurie moes beslis.

My geloof in die mensdom is herstel.
Elon Musk

Die beslissing dui daarop dat daar ’n groter wetlike verpligting is vir mense wat ander oor lasterlike uitlatings op Twitter hof toe wil vat, het L. Lin Wood, Unsworth se regsverteenwoordiger, ná die uitspraak gesê.

“Dié uitspraak beteken almal se reputasie is in gevaar,” het Wood aan verslaggewers gesê.

Ander regskenners stem saam die uitspraak wys hoe die aard van sosiale media dit moeiliker maak om onderskeid te tref tussen laster wat strafbaar is deur die howe en informele retoriek wat as vryheid van spraak beskou word.

Musk het ná die uitspraak gesê: “My geloof in die mensdom is herstel.”

Unsworth het gesê: “Ek aanvaar die jurie se uitspraak, ek vat dit op die ken en gaan aan met my lewe.”

vernon unsworth
Die Britse grotduiker Vernon Unsworth praat met verslaggewers buite die hof nadat sy siviele lastereis teen Elon Musk van die hand gewys is. Foto: AP

Wood het aangedui dit is onwaarskynlik dat Unsworth gaan appelleer.

Hy meen die skade wat Unsworth se reputasie weens Musk se uitlating gely het is tot ’n mate deur die hofsaak herstel.

Musk het Unsworth ’n “pedo guy” op Twitter genoem nadat Unsworth en ander duikers verlede jaar 12 jong sokkerspelers in Thailand uit ’n grot gered het.

Musk het tydens die reddingspoging ’n mini-duikboot van sy SpaceX-maatskappy aangebied vir die reddingsoperasie.

Nadat die seuns sonder die hulp van sy duikboot gered is, het Unsworth Musk se aanbod as ’n publisiteitsfoefie afgemaak in ’n onderhoud met CNN op 13 Julie 2018. Hy het ook gesê Musk moet sy “duikboot indruk waar dit seermaak”.

Musk het Unsworth twee dae later ’n “pedo guy” op Twitter genoem.

Ek het gedink hy (Unsworth) was net een of ander grillerige ou.
Elon Musk

Musk, die eerste getuie in die saak, het Dinsdag in die hof gesê sy twiet moes nie letterlik opgeneem word nie en dat hy die twiet geplaas het omdat Unsworth hom sonder aanhitsing beledig het.

Musk het getuig die “aanval” teen hom was “verkeerd en dit was beledigend” en daarom het hy Unsworth beledig.

“Ek het gedink hy (Unsworth) was net een of ander grillerige ou. Ek het daardie tyd gedink hy het niks met die reddingspoging uit te waai nie,” het Musk getuig.

Unsworth voer aan Musk se twiet is ’n leuen wat sy reputasie skade berokken.

Musk het vroeër om verskoning gevra en gesê in Suid-Afrika, waar hy grootgeword het, word die term “pedo” as ’n algemene belediging gebruik.

Musk het Dinsdag, toe Unsworth se regsverteenwoordiger hom verder gedruk het vir ’n verduideliking, getuig: “Ek neem aan hy het nie letterlik bedoel ek moet gesodomiseer word met ’n duikboot nie, net soos wat ek nie letterlik bedoel het hy is ’n pedofiel nie”.

“Ek het in ’n twiet en in my hofdokumente om verskoning gevra en ek sal dit weer sê: ‘Ek vra om verskoning aan mnr. Unsworth’. Musk het reguit gekyk na Unsworth, wat uitdrukkingloos in die hof gesit het, terwyl hy om verskoning gevra het. – Reuters

Meer oor:  Elon Musk  |  Los Angeles  |  Suid-Afrika  |  Twitter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.