Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Emosionele Marsh getuig hoe bang Hannah was

’n Erg getraumatiseerde Cheslin Marsh se getuienis oor die laaste aand dat hy sy vriendin Hannah Cornelius lewend gesien het, is tot Donderdag uitgestel.

Cheslin Marsh sit Woensdag in die getuiebank in een van die kort verdagings nadat hy in die hof begin huil het. Foto: Adrian de Kock

Marsh het Woensdag op die derde dag van die verhoor in die hooggeregshof in Kaapstad begin getuig. Hoe nader sy getuienis gekom het aan die oomblik toe hy aangerand en met klippe bestook is, hoe meer het hy gesukkel om te praat.

Trane het by sy wange afgerol toe hy vertel hoe daar met hom en Cornelius in haar VW Citi Golf rondgery is deur die ontvoerders.

Marsh het getuig hy en Cornelius het in haar motor gesit en gesels nadat sy hom by sy woonstel gaan aflaai het in die vroeë oggendure van 27 Mei 2017.

Hy het sy deur oopgemaak om uit te klim, maar voor sy voete die grond geraak het, het ’n hand met ’n skroewedraaier deur Cornelius se venster verskyn met die skerp kant van die skroewedraaier na haar bors gemik.

Marsh, wat nog in die motor was, het die hand gegryp, maar ’n tweede man het hom met ’n mes in sy linkerhand gedreig. Marsh het die hand met die skroewedraaier gelos en die man het hom tot op die agtersitplek teruggestoot terwyl hy voor aan die passasierskant ingeklim het. Cornelius is tussen die twee voorste sitplekke ingedwing.

Nog twee mans het agterin die kar geklim.

Marsh het getuig hulle het weggery en Cornelius het vir hulle gesê hulle kan enigiets vat, “los net my motor, dit was my ouma se motor”.

Volgens Marsh het die kapers gesê hulle wil net by die huis kom en sou die motor aan hulle teruggee.

Ek het geen krag gehad nie, geen vryheid nie.

Marsh is later in die kattebak gestop.

“Ek was benoud en in skok. Ek het nie geweet wat om te doen nie.”

Marsh het emosioneel begin raak toe hy hieroor getuig. Hy het gesê hy het hulpeloos gevoel.

“Ek het geen krag gehad nie, geen vryheid nie.”

Die kapers het in ’n stadium gestop en Marsh se bankkaarte by hom gevat. Marsh het nie die regte PIN’s vir hulle gegee nie en hulle kon dus nie geld trek nie.

Intussen het Cornelius weer aan die kapers gevra wat hulle met haar en Marsh gaan doen.

Geraldo Parsons kyk na bo terwyl die vier beskuldigdes Woensdag in die hooggeregshof in Kaapstad in die beskuldigdebank wag dat die verhoor hervat. Foto: Adrian de Kock

“Ek kon hoor sy was bang. Haar stem was baie sag,” het Marsh deur sy trane gesê.

Hierna het hulle op ’n grondpad gery en die motor het tot stilstand gekom.

In dié stadium van sy getuienis het die hof reeds twee keer verdaag sodat Marsh kon kalmeer. Hoe nader sy getuienis egter aan sy aanranding gekom het, hoe meer emosioneel het hy geraak, totdat regter Rosheni Allie hom gevra het of hy weer ’n kort pouse wil hê en of die saak eerder Donderdag moet voortgaan. Marsh het toe gevra dat die verhoor tot Donderdag verdaag.

Marsh se getuienis kom nadat Vernon Witbooi se bekentenis in die hof toegelaat is. Witbooi het nie die inhandiging van die bekentenis, wat op video opgeneem is, betwis nie.

Hierin vertel Witbooi in besonderhede oor die aand wat hy saam met Geraldo Parsons, Eben van Niekerk en Nashville Julius die twee Matie-studente ontvoer en Cornelius verkrag en vermoor het.

Witbooi, Parsons en Van Niekerk staan tereg op tien aanklagte. Hulle het skuld ontken op vier aanklagte van roof met verswarende omstandighede, drie aanklagte van menseroof, een aanklag van poging tot moord, een van verkragting en een van moord. Die vierde beskuldigde, Julius, staan tereg op twee aanklagte van menseroof en twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede. Hy het ook skuld op al die aanklagte teen hom ontken.

Die verhoor hervat Donderdag.

Meer oor:  Hannah Cornelius  |  Cheslin Marsh  |  Kaapstad  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.