Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ervare regters ‘onnodig’

Een van die land se mees ervare afgetrede regters het die afgelope week gehoor sy dienste as waarnemende regter is nie meer nodig nie omdat die minister van justisie afgetrede regters as additional to the establishment beskou.

Regter Hans Fabricius

Regter Hans Fabricius sou dié week nog die senior regter aan diens gewees het om dringende aansoeke in die hooggeregshof in Pretoria aan te hoor, maar sy klerk het Donderdagmiddag ’n dringende boodskap aan advokate en prokureurs gestuur om te sê dis nie meer die geval nie.

In ’n hoogs ongewone stap het Fabricius uit die regterskamers gepraat deur in die kennisgewing te sê: “Op 13 Januarie 2021 is die regter-president deur die minister van justisie ingelig dat hy nie afgetrede regters sal aanstel nie omdat hy hulle beskou as additional to the establishment’. Regter Fabricius stuur sy opregte beste wense aan almal wat betrokke is.” Fabricius se sekretaresse het aan Rapport gesê hy “het geen verdere kommentaar nie”.

Die onthulling oor die binnestryd in die regbank het gekom net ’n dag voordat die regterlike dienskommissie (RDK) bevind het geen optrede is nodig teen drie regters wat langer as ’n jaar geneem het om uitsprake te lewer nie; hulle moet net jammer sê.

Volgens die RDK was die gesloer deels daaraan te wyte dat die drie onder geweldige druk was weens beperkte hulpbronne en twee boonop voorheen benadeelde swart mans is wat nie genoegsame blootstelling aan komplekse velde van die reg gehad het voor hul aanstelling nie.

Rapport het Chrispin Phiri, die minister van justisie se woordvoerder, gevra wat die minister bedoel toe hy glo gesê het afgetrede regters is “additional to the establishment” en behoort daarom nie op die bank waar te neem nie. Die minister stel nie heeltydse regters aan nie, maar keur waarnemende aanstellings goed.

Die kantoor van die hoofregter het daarna ’n verklaring uitgereik waarin regter-president Dunstan Mlambo van Gauteng net gesê het die “ongemagtigde kommunikasie” van Fabricius se kantoor het onder sy aandag gekom en hy verseker litigante ’n ander regter sal beskikbaar wees om hul sake aan te hoor.

Fabricius het op 29 Februarie verlede jaar afgetree en op 1 Mei in ’n waarnemende posisie teruggekeer na die hooggeregshof in Pretoria.

Adv. Francois Botes SC van die Pretoria-balie het aan Rapport gesê die regter-president het Fabricius genooi om gereeld waar te neem ná sy aftrede “omdat hy een van die knapste regters in Suid-Afrika is”.

“Dit is onmoontlik om die beroep te transformeer indien die minister afgetrede regters en (wit) senior advokate die deur wys,” het Botes in ’n boodskap gesê. “Afgetrede regters speel ’n baie belangrike rol.

“Hulle neem waar sonder bykomende vergoeding. Afgetrede en waarnemende regters is bereid om die werk te doen om die druk op ander (heeltydse) regters te verlig.”

Nog ’n Gautengse regskenner het anoniem aan Rapport gesê: “Afge­trede regters kry lewenslank ’n salaris. Die staat betaal hulle reeds, daarom behoort hulle gebruik te word.

“Veral die regters wat ’n jaar of twee gelede afgetree het, weet nog baie goed wat aangaan. Dis ervare mense wat die hofrolle vinniger afwerk.”

Die druk op regters is Vrydag beklemtoon deur die RDK se beslissing oor die drie stadige regters.

Die RDK se ondersoek na die klagte het weliswaar byna tien jaar geduur. In Februarie 2011 het Mlambo se voorganger, regter-president Bernard Ngoepe, klagte ingedien teen regters Moses Mavundla, Ferdi Preller en Ntsikelelo Poswa wat onaanvaarbaar lank geneem het om uitsprake te lewer.

Preller (80) het in 2015 op 75-jarige ouderdom afgetree. Poswa (80) is in 2011 medies ongeskik verklaar en Mavundla het onlangs afgetree.

Die gedragstribunaal van die RDK het bevind die regters was skuldig aan wangedrag, maar nie growwe wangedrag nie. Die RDK was egter verdeeld oor die straf, met die meerderheid wat beslis het ’n verskoning van die regters aan die regter-presidente en die litigante wat moes wag, is voldoende. Hulle is ook berispe.

Ander kommissarisse het gemeen die drie se salaris moes teruggehou word en dat hulle ’n boete van drie maande se salaris moes betaal sodat dit gebruik kan word vir die opleiding van jong regters.

Die meerderheid het bevind dis “te onsensitief om die bejaarde en medies brose regters te straf met ’n sanksie wat hulle hul inkomste ontneem”.

“Dit rus swaar op ons dat twee van die regters swart mans is wat in die kategorie van voorheen benadeelde individue val. Volgens die getuienis is hulle van ’n generasie van regters wat nie bevoorreg genoeg was om blootstelling aan sake te gehad het waarmee hulle te doen gekry het toe hulle hul aanstellings aanvaar het nie.”

Die minderheid kommissarisse het gesê bogenoemde is nie ’n verskoning nie, want regsgeleerders word voortdurend blootgestel aan nuwe velde van die reg.

Meer oor:  Bernard Ngoepe  |  Hans Fabricius  |  Hooggeregshof  |  Regters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.