Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Etzebeth sal skuld ontken op MRK-klag, sê prokureur

Die Springbok-slot Eben Etzebeth sal waarskynlik skuld ontken op die onlangse klag van haatspraak wat die Menseregtekommissie teen hom ingedien het.

Etzebeth, wat tans in Japan is vir die Wêreldbekerrugby-toernooi, word betrek by ’n voorval van haatspraak waartydens hy glo die h-woord geuiter het.

Eben EtzebethFoto: Chris Fairweather/Huw Evans Agency/Gallo Images

André Calitz, Etzebeht se regsverteenwoordiger, sê die MRK se optrede is hartseer.

Hy het Saterdag aan Netwerk24 gesê daar was vroeër ’n onderneming van die MRK om te wag tot ná die Wêreldbeker voordat ’n klag ingedien sou word.

“Ons is teleurgesteld in die kommissie,” sê Calitz.

Daarbenewens het Calitz gesê hulle het nog geen dagvaardig of eedsverklaring van die MRK óf die gelykheidshof ontvang nie.

Die MRK het Vrydagmiddag aangekondig hy het amptelik ’n aansoek van haatspraak by die gelykheidshof teen Etzebeth ingedien vir die beweerde gebruik van die h-woord tydens ’n voorval in Langebaan aan die Weskus.

Die vier klaers in die saak, wat hulself die Langebaan-Vier noem, eis onder meer geldelike vergoeding van meer as R1 miljoen en ’n hofbevel dat Etzebeth die bruin gemeenskap en alle Suid-Afrikaners om verskoning vra.

Calitz het daarop gesê dat Etzebeth, net soos in sy strafregtelike saak, skuld sal ontken.

“Ons staan by ons storie: Etzebeth is onskuldig en was nooit betrokke by enige rassevoorval of aanranding nie,” sê Calitz.

Hy wou nie meer oor die saak sê nie omdat daar nou hofprosesse is wat afgehandel moet word.

Nigel Samuels, regsverteenwoordiger van die Langebaan-Vier, het vroeër gesê die polisie ondersoek klagte van crimen injuria, die onwettige rig van ’n vuurwapen en aanranding met die opset om ernstig te beseer teen Etzebeth.

Twee van die vier, Enver Wilsenach (42) en Siyaad Smith (21), beweer het op ’n aand in Augustus omstreeks 02:00 verby die Watergat-kuierplek in Langebaan gestap toe Etzebeth hulle glo die h-woord genoem en aangerand het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.