Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Familie deurentyd bankvas agter Koekie
Philip Botha en sy ma, Koekie Botha Dinsdag in Kimberley nadat sy drie jaar korrektiewe toesig weens die moord op haar man opgelê is. Foto: Charné Kemp

In die ses jaar waarin Koekie Botha (68) van die moord op haar man Nico Botha buite Britstown in die Noord-Kaap aangekla, skuldig bevind en gevonnis is, het haar seun, Philip Botha, bankvas agter haar in die hofsaal gesit.

Op vorige kere het ander gesinslede en selfs haar skoonfamilie haar ondersteun.

Botha is Dinsdag in die hooggeregshof in Kimberley tot drie jaar korrektiewe toesig, wat ’n jaar huisarres insluit, gevonnis.

Botha is in 2015 daaraan skuldig bevind dat sy Nico, ’n welgestelde bokteler, in 2010 twee keer in die kop in hul slaapkamer op die plaas Kareehoek buite Britstown geskiet het.

Destyds is aangevoer dat hy sy eie lewe geneem het.

Die appèlhof in Bloemfontein het in 2017 die skuldigbevinding gehandhaaf, maar bevind dat die vonnis van 12 jaar gevangenisstraf nie geskik is nie. Korrektiewe toesig moet eerder oorweeg word.

Botha het drie kinders, Philip, Loami Knox en Loudine Bylevelt by Nico gehad. Haar kinders uit haar vorige huwelik is Pieter en Nannie van Zyl.

Koekie Botha word deur haar skoondogter Ananda van Zyl ondersteun. Foto: Emile Hendricks

Philip sê die gesin en familie het deurgaans agter sy ma gestaan, al was daar aanvanklik tweespalt. Philip sê hy glo steeds sy ma is onskuldig.

“Ons is dankbaar dat sy nie tronk toe gaan nie. Ons kan nou vorentoe kyk. Dit is nou afgehandel.

 “Die vernedering om my ma se gesig in die koerant te sien, is ook verby. Dit was vir niemand lekker nie.

 “Ek wil nie weer die binnekant van ’n hof sien nie. Ons moes aanpas by onverwagte wendinge waaroor ons nie beheer gehad het nie

Koekie Botha en haar seun Philip Botha stap in 2014 met dokumente na die hofgebou in De Aar. Foto: Emile Hendricks

 “ ’n Mens leer om aan te pas en geduldig te word. Die reg gaan sy eie gang.

 “Geloof het die familie gedra en ons het mekaar gehad om op te steun.”

Hy sê dit was nie moeilik om sy ma in die hof te ondersteun nie, al bly hy in Philipstown, wat meer as twee uur se ry van Kimberley af is.

“Die afstande is nie onoorkombaar nie. Ek moes net planne met my boerdery maak. Gelukkig maak moderne tegnologie soos selfone dit makliker.

 “Die verhoor in Kimberley was darem ook nie weke aanmekaar nie.

 “Ons is bly dat my ma een keer ’n maand vir ons op die plaas en by my sibbe mag kuier.

 “Dit is verblydend dat sy baie ondersteuning van haar vriende en vriendinne in Kimberley kry.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.