Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Familie is uitmekaar geruk, sê Wiers se bedroefde ma

“Hy het ’n familie uitmekaargeruk toe hy Tanya vermoor het. Ek moes berading kry, want ek het gedink en geglo my kind gaan terugkom.”

Frans Maela (28), wat skuldig bevind is aan die verkragting en moord van Tanya Wiers. Foto: Verskaf

Só het ’n hartseer Linda Geyer (69) Vrydag buite die hooggeregshof in Polokwane, Limpopo, gesê nadat haar dogter, Tanya Wiers (44), se moordenaar skuldig bevind is.

“Ek en my man, Gé (70), moes vir sielkundige berading gaan ná Tanya se dood,” het Geyer met haar oë vol trane gesê.

Gé het trane uit sy oë gevee.

Regter Gerrit Muller het Frans Maela (28) skuldig bevind aan die moord op en verkragting van Wiers. Hy is ook skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede omdat hy Wiers se trouring, ’n armband met diamante en ’n goue toonring sowel as ’n Samsung-tabletrekenaar en ’n selfoon gesteel het.

Maela het skuld ontken en geen emosie getoon terwyl hy na die uitspraak geluister het nie. ’n Familielid het ná die tyd vir hom ’n bottel vrugtesap gegee voordat hy na die selle geneem is.

“Hy het geen genade vir my kind gehad nie. Hy bestaan nie vir my nie,” sê Geyer.

Tanya is die oudste van vier kinders. “Ons was baie na aan mekaar omdat sy my enigste dogter was.”

Rolf Wiers, Tanya se man, sê hy is verlig dat Maela skuldig bevind is. Hy het bewoë geraak, sy kop geskud en gesê “maar niks kan haar terugbring nie”.

Tanya Wiers, wat in 2017 in haar huis in Polokwane verkrag en vermoor is. Foto: Verskaf

Die egpaar was 20 jaar getroud en het drie kinders, Bianca (20), Rolf jr. (18) en ’n 14-jarige dogter. “Sy is tien dae voor ons 21ste huweliksherdenking vermoor,” sê Rolf.

Wiers is op 7 Februarie 2017 in haar huis in Eduanpark deur Maela oorval nadat sy van ’n nabygeleë supermark by die huis aangekom het.

Maela was die bure se tuinwerker. Wiers is meer as 20 keer met ’n skêr en ’n steakmes in haar nek en gesig gesteek. Haar oë is uitgekerf.Sy het haar doodgebloei weens die etlike diep steekwonde.

Muller het in sy uitspraak gesê: “Tanya Wiers het op 7 Februarie 2017 soos enige ander oggend wakker geword, aangetrek en haar twee dogters skool toe gevat. Haar seun het skool toe gestap. Haar man het in Klerksdorp gewerk. Min het hulle geweet dat hul lewe op daardie dag vir altyd onherroeplik sou verander.

“Wiers is uiters wreedaardig en gewelddadig in die veiligheid van haar huis aangeval en vermoor.”

Rolf jr. (wat toe 16 jaar oud was) het op sy ma se halfnaak en bebloede lyk in sy jongste suster se kamer afgekom. Sy het op haar regtersy op die vloer gelê met haar dogter se wit-en-pienk duvet met vlinders op gedeeltelik oor haar.

Muller sê Maela se DNS wat in semen in Wiers se vagina gekry is, “is ’n doodskoot vir sy verdediging gewees”.

Maela sal Maandag gevonnis word.

Rolf Wiers by sy skoonouers, Linda en Gé Geyer. Foto: Marietie Louw-Carstens
Tanya en Rolf Wiers op ’n seevakansie enkele maande voordat sy in Polokwane vermoor is. Foto: Verskaf

Meer oor:  Frans Maela  |  Tanya Wiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.