Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Fetus mág begrawe word, beslis hof

Vroue in Suid-Afrika wat ’n miskraam het, mag voortaan die dooie fetusse begrawe.

Renaldi Ingram (links), prokureur namens The Voice of the Unborn Baby, (Votub) en Sonja Smith, Gautengse begrafnisondernemer en stigter van Votub, voor die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Facebook

Die Wet op die Registrasie van Geboortes en Sterftes (Badra) is die afgelope week ongrondwetlik verklaar deur die hooggeregshof in Pretoria.

Die bestaande wet bepaal ’n dooie fetus jonger as 26 weke word as mediese afval hanteer en verbrand. Die bepaal ook ’n doodsertifikaat en ’n begrafnisbevel mag net uitgereik word vir ’n baba wat doodgebore is. Sonder ’n begrafnisbevel mag ’n begrafnis nie plaasvind nie. Die hof het gelas die parlement moet die wet verander sodat ’n doodsertifikaat en begrafnisbevel uitgereik mag word vir ’n dooie fetus van jonger as 26 weke as die ma (of ouers) dit versoek.

Die organisasie sonder winsbejag The Voice of the Unborn Baby (Votub) en die Rooms-Katolieke aartsbisdom van Durban het die hofaansoek vir die wetswysiging gebring.

Regter Nomonde Mngqibisa-Thusi het gesê terwyl daar vir die wysiging gewag word, sal ’n mediese praktisyn wettiglik optree as hy/sy ’n sertifikaat uitreik op versoek van die ma of albei ouers.

Die departemente van binnelandse sake en gesondheid, wat die hofaansoek teëgestaan het, het gesê die regulasies kan nie ongrondwetlik wees nie, omdat daar geen lewe is as daar nie lewensvatbaarheid is nie. (Ingevolge die wet begin lewensvatbaarheid buite die baarmoeder op 26 weke.)

Hulle het aangevoer die ouers kan nie hartseer wees as daar nie lewensvatbaarheid was nie, want hulle was net “voornemende” ouers.

Votub het gesê verwagtende ouers maak ’n “groot emosionele belegging” in die swangerskap. Met gevorderde tegnologie kan hulle na die fetus in die baarmoeder kyk en hulle ontwikkel ’n band met die fetus. ’n Verlore swangerskap veroorsaak ontsettende hartseer en die rou oor ’n miskraam verskil geensins van dié oor ’n doodgebore baba nie.

Die pyn word vererger deur die manier waarop die fetus daarna gehanteer word en deur “die gebrek aan simpatie van die hospitaalpersoneel”.

Mngqibisa-Thusi het gesê die kwessie is nie of die fetus lewensvatbaar is of nie. “Dit is oor die emosionele verlies en die pyn wat die verwagtende ouers voel.”

Sonja Smith, Gautengse begrafnisondernemer en stigter van Votub, het gesê die saak het ses jaar geduur. Renaldi Ingram, prokureur namens Votub, het gesê sy is vol vertroue die konstitusionele hof sal die uitspraak bekragtig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.