Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Fita dien aansoek oor tabak by appèlhof in

Die Fair Trade Independent Tobacco Association (Fita) het Vrydag sy aansoek om verlof om appèl by die appèlhof in Bloemfontein ingedien in nog ’n poging om die verbod op die verkoop van tabak en verwante produkte onwettig te laat verklaar.

Die jongste stap deur Fita kom nadat ’n volbank regters op 24 Julie sy aansoek om verlof om appèl van die hand gewys het.

Fita het die aansoek teen die president en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, ingedien.

Die volbank regters, regter Dunstan Mlambo, regter-president van die hooggeregshof in Johannesburg, en regters Annali Basson en Daisy Sekao Molefe, het op 26 Junie Fita se aanvanklike aansoek om die verbod as ongrondwetlik te laat verklaar, van die hand gewys.

Sinenhlanhla Mnguni, voorsitter van Fita, het in sy jongste verklaring (wat Vrydag by die appèlhof ingedien is) gesê hulle versoek verlof om die uitspraak en bevel in geheel op appèl te neem.

Mnguni het in sy verklaring gesê die saak wat heroorweeg word, is van nasionale belang en handel oor nuwe en baie belangrike regs- en grondwetlike kwessies, insluitend hoe uitvoerende magte gebruik word in uitsonderlike omstandighede.

Luidens die hofstukke voer Fita aan die hooggeregshof het gefouteer deur ’n kostebevel teen hom te maak en sê die koste moet deel van die saak wees omdat dit van nasionale belang is.

Verder het die hof gefouteer en te min gewig aan die belangrikheid van die saak gekoppel en hoe belangrik dit vir die land se ekonomie is. Die verbod is ook vir miljoene mense se geestestoestand baie nadelig.

Fita sê die hooggeregshof het gefouteer deur te bevind Dlamini-Zuma het ’n rasionale doelwit gehad om die verbod te plaas benewens die feit dat daar nie doelgerigte bewyse was wat die besluit ondersteun het nie.

Fita het spesifiek verwys na die mediese getuienis waarop nie staatgemaak kan word nie en gesê die hof het nie sy mediese getuienis in ag geneem nie.

Die staat het ook geen bewyse aangebied dat die tydelike verbod enige effek sal hê op die geveg teen die verspreiding van Covid-19 nie.

Laastens het die hooggeregshof ook nie die groot ekonomiese impak in ag geneem wat die verbod in die bedryf veroorsaak het nie. Nie net word die sluikhandelmark groter nie, maar die staatskas verloor miljoene in belastinggeld.

Die regters in die hooggeregshof het bevind die verbod is nooit geplaas om mense van sigarette te ontneem nie, maar omdat die minister vinnig moes optree ingevolge haar grondwetlike verpligting om lewens te red en druk op die gesondheidstelsel te verminder.

Dit is juis wat Fita ook voel ’n ander hof oor moet besluit.

Ter afsluiting het Fita gesê die saak verg ’n finale besluit oor die gebruik en uitvoering van magte met verwysing na Dlamini-Zuma en die tabakverbod.

Hy het gesê die appèlhof kan tot ’n heel ander gevolgtrekking kom as die aansoek toegestaan word.

Die hof sal die aansoek nou oorweeg en partye met datums verskaf vir wanneer dit aangehoor kan word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.