Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Fochville-moord: 2 beken skuld op moord van bejaarde
Chris van Vuuren en Jacobus Pieter Swanepoel loop by die aanhoudingselle uit. Foto: Brümilda Swartbooi

Twee beskuldigdes het skuld beken op die moord van Susanna Nell (84) wie se lyk verlede jaar onder ’n hoop klere gevind is.

Die polisie het verlede jaar in Februarie afgekom op Nell se lyk in haar huis op die plaas Elandsfontein in die distrik Fochville.

Jacobus Pieter Swanepoel (29) en Chris van Vuuren (23) het Woensdag in die landdroshof in Fochville gepleit. Die twee het ook skuld beken op ’n aanklag van roof met verswarende omstandighede.

Deborah Swanepoel (64) was die derde beskuldigde in die saak, maar sy is in Mei vanjaar dood. Netwerk24 het vroeër berig die beskuldigdes was bekend aan Nell en het glo ’n week voor haar moord by haar aangeklop op soek na verblyf. Sy het hulle toe ingeneem.

Pleitverduidelikings van Swanepoel en Van Vuuren is in die hof gelees.

Volgens inligting uit die pleitverduidelikings het Swanepoel en Van Vuuren glo op 23 Februarie by ’n vriend gekuier. Later die aand toe hulle terugkeer na Nell se huis, waar hulle op die erf gewoon het, het hulle gesien haar huis is donker.

Jacobus Pieter Swanepoel en Chris van Vuuren loop koponderstebo by die hof uit. Foto: Brümilda Swartbooi

Hulle was onder die indruk sy is nie tuis nie en het dit as ’n geleentheid gesien om in te breek. Nadat hulle ingebreek het, het hulle egter gesien Nell lê op haar bed en slaap met ’n boek in haar hand.

Volgens die pleitverduideliking het Swanepoel haar kop met ’n kussing toegemaak en Van Vuuren het haar nek en hande met ’n serp vasgebind.

Nell het twee keer van die bed af geval terwyl die twee beskuldigdes die huis deursoek het vir goedere om te steel. Met haar tweede val het hulle gevind sy beweeg nie meer nie en haal nie meer asem nie.

Daarna is klere op haar gepak. Deborah het die twee later gevra waar hulle was, maar volgens Van Vuuren en Swanepoel se inligting het hulle nie haar laat weet wat hulle gedoen het nie. Nell se selfoon, juwele en handsak is gesteel. Die beskuldigdes is die volgende dag in Klerksdorp in hegtenis geneem.

Susan du Toit, Nell se dogter, het buite die hof gesê dit was ’n emosionele dag. “Vandag is een van die moeiliker dae. Dit voel weer soos die eerste dag toe my ma se lyk gevind is. Al die emosies is oopgekrap.”

Volgens Nell het Van Vuuren en Swanepoel hul weergawe versag.

“Sy (Nell) kon nie so beseer geword het van daardie val nie. Die wreedheid van wat hulle gedoen het, het hulle nie genoem nie.”

Die saak is uitgestel tot 25 Augustus vir voor vonnis en ’n slagoffer-impak-verslag.

Meer oor:  Susanna Nell  |  Moord  |  Bejaarde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.