Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Fochville-moord: 64-jarige beskuldigde sterf

Deborah Swanepoel (64), een van drie mense wat van die moord op Susanna Nell (84) van Fochville beskuldig is, het gesterf.

Haar medebeskuldigdes in die saak is haar seun Jacobus Pieter Swanepoel (29) en Chris van Vuuren (23).

Deborah Swanepoel (64) was een van die beskuldiges wat vir die moord op Susanna Nell tereggestaan het. Swanepoel is onlangs in die hospitaal dood. Foto: Brümilda Swartbooi

Die staat is Woensdagoggend voordat die saak in die landdroshof in Fochville voorgekom het, ingelig dat Swanepoel dood is. Die saak is vir die verkryging van ’n doodsertifikaat uitgestel.

Nell se lyk is op 24 Februarie verlede jaar onder ’n hoop klere in haar eetkamer op die plaas Elandsfontein gekry. Sy is vermoedelik verwurg.

Die drie beskuldigdes was glo bekend aan Nell. Sy het hulle na bewering ’n week tevore ingeneem nadat hulle glo by haar om verblyf aangeklop het.

Deborah Swanepoel met ’n vorige hofverskyning by die landdroshof in Fochville. Foto: Brümilda Swartbooi

Die beskuldigdes is later na bewering in Klerksdorp met Nell se beursie en selfoon in hul besit aangekeer.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het aan Netwerk24 gesê Swanepoel is in die hospitaal dood. Sy het egter nie oor die oorsaak van Swanepoel dood uitgebrei nie.

Swanepoel was ook tydens haar mede-beskuldigdes se vorige hofverskyning vroeër vandeesmaand in die hospitaal.

Die drie beskuldigdes in die moordsaak staan by twee polisielede pas nadat hulle met ’n vorige verskyning by die aanhoudingselle uitgestap het. Hulle is van links Chris van Vuuren (23), Jacobus Pieter Swanepoel (29) en Deborah Swanepoel. Foto: Brümilda Swartbooi

Sy het in Maart verlede jaar in haar aansoek om borgtog in haar verklaring geskryf dat borskanker in Januarie 2019 by haar gediagnoseer is en dat sy sedert haar inhegtenisneming nog nie behandeling ontvang het nie.

Volgens haar het sy behandeling in Kimberley ontvang, maar sedertdien ’n spesialis in Bloemfontein gekry.

Haar medebeskuldigdes het hul aansoeke om borgtog laat vaar.

Susan du Toit, Nell se dogter, het Woensdag buite die hof gesê die saak sloer. “Ons kon lankal iets bereik het. Dis vir my senutergend. Dit maak ’n mens morbied, want jy weet nie watter kant toe dit gaan nie. Ons weet steeds niks. Maar ons sal seker daarby uitkom.”

Susanna Nell (84), wat in haar huis vermoor is. Foto: Verskaf

Sy het gesê hul lewens sal nooit weer dieselfde wees nie.

“Ons kan nie eens my ma op Moedersdag bel nie. Ek sou wat wou gee om haar ’n drukkie te gee of vir ete uit te neem. Maar dit is ons ontneem.”

Jacobus Swanepoel en Van Vuuren bly tot hul volgende verskyning op 27 Mei in aanhouding.

Meer oor:  Deborah Swanepoel  |  Fochville  |  Moord  |  Beskuldigde  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.