Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Moord op bejaarde: ‘Julle is monsters, nie mense nie’


“Julle is niks anders as bl*ks*mse gemors!”

Só het ’n ontstelde Susan du Toit (60), dogter van die vermoorde Susanna Nell (84), Woensdag die drie mense toegesnou wat weens haar moord in die landdroshof in Fochville verskyn het.

Deborah Swanepoel (64), haar seun Jacobus Pieter Swanepoel (29) en Chris van Vuuren (23) het vlugtig in verband met die moord op die bejaarde Nell in die hof verskyn.

Haar lyk is Maandag onder ’n hoop klere in die eetkamer van haar huis op die plaas Elandsfontein in Fochville gekry is. Sy was jare lank ’n inwoner van die omgewing in Noordwes.

Deborah Swanepoel verskyn saam met haar seun Jacobus Pieter Swanepoel (heel links) en Chris van Vuuren op aanklagte van moord en huisroof in die landdroshof in Fochville. Foto: Werner Beukes

’n Werker het onraad vermoed toe Nell nie die deur vir hom oopgemaak het nie en het die polisie ontbied.

Nell is vermoedelik verwurg.

Landdros Adele Maas het die saak tot 5 Maart vir ’n borgtogaansoek uitgestel.

Die drie verdagtes, wat tydens hul verskyning senuagtig voorgekom en oogkontak met Nell se familielede vermy het, bly tot dan in aanhouding.

Swanepoel en Van Vuuren het dieselfde veelkleurige T-hemde met donker broeke aangehad. Deborah Swanepoel was in ’n ligte hemp en grys broek geklee.

‘Monsters, nie mense nie’

“Ek kon myself net nie langer inhou nie,” het Du Toit, een van Nell se vier dogters, oor haar uitbarsting by die hof aan Netwerk24 gesê.

“My ma is aan almal in die Fochville-gebied bekend as ‘die goedhartige tannie’ wat haar laaste vir haar medemens sou gee. Sy was vir jare by die polisie en buurtwag betrokke en was ’n ywerige kampvegter teen misdaad.

“Ek het die naweek by my ma gaan kuier en aan haar gesê dat daar iets skort met hierdie nuwe intrekkers. Sy het ’n week gelede aan hulle huisvesting in ’n woonstel op die plaas gebied toe hulle desperaat by haar om hulp aangeklop het.

Jacobus Pieter Swanepoel (links) en Chris van Vuuren word deur polisiebeamptes na die landdroshof in Fochville vergesel. Foto: Werner Beukes

“Ek is heeltemal verpletter oor wat gebeur het. Hierdie is monsters, nie mense nie,” het Du Toit gesê.

Verdagtes was ‘uit op borgtog’

Die mans en vrou is Maandag in Klerksdorp met Nell se beursie en selfoon in hul besit aangekeer.

“Hulle het glo ná die voorval op die plaas duimgegooi tot in Klerksdorp waar hulle glo nog ’n persoon van sy selfoon beroof het,” het sers. Ernst Tshifhango, die ondersoekbeampte in die saak, gesê.

Volgens Tshifhango word die twee mans ook deur ’n klag van die besit van dwelms in die gesig gestaar.

“Hulle was uit op borgtog en sou in April in Fochville op dié aanklag verskyn het,” het Tshifhango gesê.

Gesteelde goedere wat aan Nell behoort het, is later in hul woonstel op die plaas gekry.

Jaco Swanepoel (48), ’n kleinseun van Nell, het buite die hof gesê dat van haar juweliersware ook vermis word.

Chris van Vuuren, een van die beskuldigdes in die moord op die 84-jarige Susanna Nell, Woensdag buite die landdroshof in Fochville. Hy word ook van huisroof aangekla. Foto: Werner Beukes
Dwarsklap vir hegte familie

“Ons is ’n hegte familie en sedert my oupa Dries se dood 14 jaar gelede het my ouma alleen op die plaas gewoon.

“Ons het gereeld vir haar gaan kuier en gevra of sy wou trek, maar sy was al die jare gelukkig daar.

“Sy het vier woonstelle op die plaas wat sy uitverhuur het. My ouma het die mense jammer gekry omdat hulle haweloos is. Sy het aan hulle kos en huisvesting gegee.

“Dié mense moet lank weggebêre word vir wat hulle aan ’n weerlose, bejaarde vrou gedoen het,” het Swanepoel gesê.

* ’n Roudiens sal na verwagting Saterdag vir Nell gehou word. Sy laat vier dogters, nege kleinkinders en vier agterkleinkinders agter.

Jacobus Pieter Swanepoel (heel links) en Chris van Vuuren (tweede van regs) arriveer Woensdag by die aanhoudingselle by die landdroshof in Fochville. Foto: Werner Beukes
Chris van Vuuren (voor) en Jacobus Pieter Swanepoel word Woensdag van die aanhoudingselle na die landdroshof in Fochville vergesel. Foto: Werner Beukes
Deborah Swanepoel verberg haar gesig gedurende ’n hofverskyning by die landdroshof in Fochville. Sy staan saam met haar seun Jacobus Pieter Swanepoel en Chris van Vuuren tereg op aanklagtes van moord en huisroof. Foto: Werner Beukes

Meer oor:  Fochville  |  Susanna Nell  |  Deborah Swanepoel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.