Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Fochville-moord: ‘Haal haat uit my hart,’ bid dogter

Die Here moet die haat teenoor haar ma se vermeende moordenaars uit haar hart haal, het Susan du Toit Dinsdag buite die landdroshof in Fochville gesê.

Dit was nadat saak teen die twee vermeende moordenaars van haar ma, Susanna Nell (84), weer eens uitgestel is.

“Ek staan daar toe hulle inkom en sê: ‘Here, dis ook jou kinders, haal die haat uit my hart uit, want hulle kan nie my ook vernietig nie.’

“Ek het nooit gedink ek sal vir hulle bid nie, maar ek weet net die Here moet die haat uit my hart haal, want ek kan nie so leef nie,” het sy buite die landdroshof gesê.

Chris van Vuuren en Jacobus Pieter Swanepoel met ’n vorige verskyning in die landdroshof in Fochville. Foto: Brümilda Swartbooi

Die polisie het in Februarie verlede jaar op Nell se lyk in haar huis op die plaas Elandsfontein in die distrik Fochville afgekom.

Jacobus Pieter Swanepoel (29) en Chris van Vuuren (23) het in Julie skuld beken op haar moord en op ’n aanklag van roof met verswarende omstandighede. Deborah Swanepoel (64) was die derde beskuldigde in die saak, maar is in Mei vanjaar dood.

Netwerk24 het vroeër berig Nell het die beskuldigdes geken. Hulle het glo ’n week voor haar moord op soek na verblyf by haar aangeklop, waarna sy hulle ingeneem het.

Susanna Nell (84) se lyk is verlede jaar onder ’n hoop klere in haar huis gevind. Foto: Argief

Du Toit het Dinsdag emosioneel gesê dit sal nooit vir haar maklik wees om die beskuldigdes te sien nie. Sy sê sy vind dit ook nog moeilik om verby haar ma se plaas te ry.

“Die plaas is daar en dan ry jy verby. Jy kan nie eens inry om vir jou ma hallo te sê nie, dan sien jy net ’n graf. Dit is baie moeilik,” sê sy oor haar ma se graf op die plaas.

Du Toit sê dit voel vir haar asof die saak op een plek stilstaan.

“Dit voel al ’n jaar en ’n half asof my lewe gaan stilstaan het, want niks gebeur nie. Ek was seker die negatiefste en minste produktief in my lewe, en ek dink ons kan almal dieselfde sê, al ons kinders.”

Susan du Toit wys verlede jaar met ’n hofverskyning ’n foto vir die aangeklaagdes van haar vermoorde ma, Susanna Nell, waar sy in die lykshuis lê. Foto: Brümilda Swartbooi

Luidens die pleitverduidelikings wat voorheen in die hof voorgelees is, het die twee by Nell se huis ingebreek terwyl hulle onder die indruk was dat sy nie tuis is nie.

Toe hulle haar in haar kamer op die bed sien, het hulle haar gegryp. Swanepoel het haar kop met ’n kussing bedek en Van Vuuren het haar nek en hande met ’n serp vasgebind.

Nell het twee keer van die bed afgeval terwyl die twee die huis deursoek het vir goedere om te steel.

Nadat sy die tweede keer van die bed afgeval het, het hulle vasgestel sy beweeg nie meer nie en haal nie meer asem nie. Daarna is klere op haar gepak.

Die twee bly in aanhouding en verskyn weer 7 Oktober in die hof, wanneer die staat betoë voor vonnisoplegging sal lewer.

Meer oor:  Susanna Nell  |  Fochville  |  Haat  |  Hart  |  Dogter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.