Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
FOTO'S: Magashule in hof oor 'gesteelde' Pierneef

Tot vandag weet hy nie of Pierneef ’n skildery of ’n mens is nie. Die naam Pierneef beteken vir hom niks nie, het Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, in die hooggeregshof in Bloemfontein getuig.

Onder sy bates wat hy in 2018 uit die Vrystaatse premierskantoor ontruim het, weet hy baie goed van die waarde van ’n getekende sokkertrui van die sokkerlegende Christiano Ronaldo wat hy as geskenk gekry het.

“Ek het dit nou nog. Ek was self ’n sokkerspeler en ek gaan dit nie opveil nie.”

Magashule het Dinsdag voor regter Soma Naidoo getuig in die verhoor van sy eertydse lyfwag, Ricardo Mettler, wat van die diefstal van ’n Pierneef-skildery teregstaan.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, Dinsdag in die hooggeregshof in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw
Magashule het voor regter Soma Naidoo getuig in die verhoor van sy eertydse lyfwag, Ricardo Mettler, wat van die diefstal van ’n Pierneef-skildery teregstaan. Foto: Mlungisi Louw
Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, pas nadat hy getuig het. In die agtergrond staan Andrew Scholtz, Bloemfonteinse sakeman. Foto: Mlungisi Louw

Mettler ontken dat hy die skildery in Maart 2018 uit ’n pakkamer by die premierskantoor in die O.R. Tambo-gebou in Bloemfontein gesteel het.

Hy ontken ook skuld op aanklagte van geldwassery, bedrog, meineed en die beskadiging of verandering van ’n erfenisvoorwerp en alternatiewe aanklagte van regsverydeling, valse uitgifte en vervalsing.

Magashule het getuig hoe hy van sy persoonlike besittings aan sy personeel gegee het toe hy sy kantoor ontruim het.

Ricardo Mettler in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

Hy het getuig dat hy nie staatsbates mag weggee nie.

Die persoonlike geskenke wat hy nie wou hê nie, kon onderskei word van staatsbates deurdat dit nie staafkodes opgehad het nie.

Van die persoonlike geskenke was waardevol en sou in sekere gevalle selfs, soos ’n veiling vir geldinsameling, tot R20 000 stuk gehaal het.

Magashule het verder getuig hy het in die media van die beweerde diefstal van die skildery gehoor.

“Dit is beweer ek en Mettler het dit gesteel. Ek het dit ontken. Ek was verbaas hoe kan ek ná byna tien jaar iets van die staat weggee. Dit het nie sin gemaak nie.”

Toe hy Mettler daaroor gevra het, het hy gesê hy het net goed geneem wat nie ’n staafkode op het nie.

“Ek het spesifiek oor die skildery gevra en hy het gesê dit het nie ’n staafkode opgehad nie.”

Oor ’n ongetekende brief sonder ’n datum waarvolgens Mettler onder andere ’n skildery met ’n goue raam as geskenk sou kry, het Magashule getuig dat hy nooit die brief gesien het of sou teken nie.

“Ek het die geskenke as geskenke gegee en nooit die nodigheid vir briewe aan elke een gesien nie.”

Op ’n vraag van Naidoo het Magashule gesê hy is nie ’n kunsliefhebber nie.

Hy het nie eens van die skildery geweet nie. Nadat ’n foto daarvan gewys is, het hy gesê: “Ek dink ek het dit gesien. Ek dink ek herken dit, daar is ’n soortgelyke skildery in die Vrystaat-huis. Ek kan net nie onthou waar nie.”

Mettler was destyds een van die mense wat Magashule gehelp het om sy kantoor te ontruim.

Die skildery het nie ’n staafkode gehad toe hy dit ontvang het nie, het Mettler vandeesweek in sy pleitverduideliking gesê. Hy het ook ontken dat hy ’n staafkode van die skildery af verwyder het.

Adv. Antoinette Ferreira kla aan. Adv. Jacques Potgieter tree in opdrag van Chris Boucher van Jacobs Boucher-prokureurs vir Mettler op. Lt.kol. Nteke Kakudi van die Valke is die ondersoekbeampte.

Meer oor:  Hof  |  Pierneef-Skildery  |  Diefstal  |  Ricardo Mettler  |  Ace Maga­Shule
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.