Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Afriforum ook hof toe oor parool vir Zuma

Arthur Fraser, kommissaris van die departement van korrektiewe dienste, het nie die reg gehad om eiegeregtig op te tree en mediese parool aan oudpres. Jacob Zuma toe te staan nie.

Arthur Fraser, kommissaris van korrektiewe dienste. Foto: Sarel van der Walt

So voer Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, aan in ’n dringende aansoek wat Woensdag by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is om dié besluit onwettig te verklaar.

Die aansoek kom nadat Fraser nie op ’n versoek van AfriForum gereageer het om sekere besonderhede en dokumentasie rakende sy besluit aan AfriForum beskikbaar te stel nie.

Volgens Roets is Fraser se besluit onwettig op twee gronde wat verband hou met sy “omverwerping” van die bepaling van die adviesraad dat Zuma nie vir mediese parool kwalifiseer aangesien sy toestand “stabiel” is.

Hy verwys ook na die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (Paja), ingevolge waarvan ’n besluit oor mediese parool “wettig, rasioneel, redelik en prosedureel geregverdig” moet wees.

AfriForum se aansoek kom ook nadat die DA en die Helen Suzman-stigting die hof genader het om Zuma se mediese parool om soortgelyke redes ter syde te laat stel.

Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum. Foto: Verskaf

Die departement van korrektiewe dienste het vroeër aangekondig dat Zuma op mediese parool vrygelaat word nadat die konstitusionele hof hom vir minagting van die hof tot 15 maande tronkstraf gevonnis het.

In die hofdokumente vra AfriForum vir die verskaffing van alle inligting en dokumente wat Fraser gebruik het om sy besluit te regverdig, Zuma se aansoek om mediese parool, asook die verslag van die adviesraad oor mediese parool.

Volgens Roets word Fraser ingevolge die Wet op Korrektiewe Dienste verhoed om mediese parool toe te staan as dié raad dit nie aanbeveel nie.

Verder voer hy aan dat Zuma se mediese toestand nie die rede vir sy vrylating was nie en dat die betrokke besluit eintlik met “bymotiewe” geneem is.

Hy wys daarop dat Fraser nog nie een keer genoem het of Zuma aan die vereistes van mediese parool voldoen nie, hoewel die adviesraad oor mediese parool bepaal het dat Zuma nie siek genoeg is om daarvoor te kwalifiseer nie.

Oudpres. Jacob Zuma was veronderstel om tronkstraf van 15 maande uit te dien nadat hy geweier het om voor die Zondo-kommissie te getuig en ’n bevel van die konstitusionele hof verontagsaam het. Foto: Getty Images

“Die logiese afleiding is dat Fraser mediese parool toegestaan het om ’n rede wat nie gemagtig is nie, of vir ’n verborge doel was,” sê Roets in die hofstukke.

Volgens AfriForum beoog hy om Dinsdag om 10:00 ’n latere aansoek aan die hof te bring.

Die respondente wat gelys word, sluit in Fraser, Zuma, die adviesraad oor mediese parool, Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie van ondersoek na staatskaping, en pres. Cyril Ramaphosa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.