Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Fraser nog doodstil oor redes vir Zuma se parool

Arthur Fraser, kommissaris van korrektiewe dienste, het hom nie aan die eise van twee organisasies gesteur nie om inligting bekend te maak oor waarom oudpres. Jacob Zuma op mediese parool vrygelaat is.

Fraser het verlede week gesê hy sal die redes vir sy besluit aan die parlement verskaf as dit gevra word, maar dit geld blykbaar nie vir die Helen Suzman-stigting en die burgerregtegroep AfriForum nie.

Die stigting se spertyd was Maandag om 17:00 en AfriForum s’n verlede Vrydag.

AfriForum se brief het onder meer gevra of Zuma aan ’n terminale siekte ly wat sy mediese parool regverdig, dat besonderhede oor Zuma se toestand bekend gemaak moet word, asook afskrifte van die aansoek om mediese parool en die mediese verslag waarin die aanbeveling gedoen word.

Arthur Fraser, kommissaris van korrektiewe dienste. Foto: Sarel van der Walt

Dit spruit uit Zuma se vrylating op mediese parool op 5 September ondanks die feit dat die adviesraad vir mediese parool dit afgekeur het. Zuma is einde Julie deur die konstitusionele hof tot 15 maande tronkstraf gevonnis weens minagting van die hof. Hy is steeds in die hospitaal. Mzwanele Manyi, woordvoerder van die Jacob G. Zuma-stigting, wou by navraag nie veel uitwei oor Zuma se toestand nie en het gesê Zuma hanteer sy toestand.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê in ’n verklaring hoewel Fraser hul brief gelees het, het hy nie daarop gereageer nie.

“Dis ’n skande as mense op grond van hul politieke aansien bevoordeel word. Alles wat die departement van korrektiewe dienste egter in die afgelope week gedoen en gesê het, dui op politieke inmenging wat nie aan die voorskrifte van die wet voldoen nie.”

Die DA het ook reeds stukke by die Gautengse hooggeregshof ingedien om die besluit te laat hersien en tersyde te stel.

Volgens adv. Mark Oppenheimer, ’n grondwetkenner, het Fraser die mag om mediese parool toe te staan.

Oor Fraser se magte sê Oppenheimer dit is een van die grondwetlike vereistes om binne die oppergesag van die reg op te tree.

“Ons wette sê jy kan slegs optree volgens die mag wat jy het. Wat gevra moet word, is het hy ingevolge die wetgewing opgetree wat hom die magte gee om op te tree?"

Ons wette sê jy kan slegs optree volgens die mag wat jy het. Wat gevra moet word, is het hy ingevolge die wetgewing opgetree wat hom die magte gee om op te tree?

Hier is die Wet op Korrektiewe Dienste, wet 111 van 1998, tersaaklik. Art. 79 van die wet bepaal dat die nasionale kommissaris, korrektiewe toesig- en paroolraad of die minister ’n gevonniste gevangene kan oorweeg vir mediese parool wanneer:

• Die oortreder aan ’n ongeneeslike siekte of toestand ly of indien sodanige oortreder fisiek ongeskik gelaat word weens ’n besering, siekte of ongesteldheid sodat daaglikse aktiwiteite of selfversorging deur die gevangene ernstig beperk word;

Die risiko vir heroortreding laag is; en

Daar toepaslike reëlings is vir die gevangene se toesig, versorging en behandeling in die gemeenskap waarin die gevangene vrygelaat word.

Oppenheimer sê ook die kennisgaping moet aandag kry.

“Die kennisgaping is die mediese verslae. Wat staan daarin? Daaruit kan bepaal word of dit regverdig is om mediese parool aan Zuma toe te staan. Jy het die inligting nodig om te weet of hy sy mag reg uitoefen.”

Volgens Oppenheimer word Fraser beperk deur twee dinge – die wet en die feite.

“Die wet sê watter mediese feite hy moet hê om sy mag uit te oefen. Dit is nie soos ’n presidensiële kwytskelding, waar die president die prerogatief het om te doen soos hy of sy voel, nie.”

Die kennisgaping is die mediese verslae. Wat staan daarin? Daaruit kan bepaal word of dit regverdig is om mediese parool aan Zuma toe te staan. Jy het die inligting nodig om te weet of hy sy mag reg uitoefen.

Emeritus professor Pieter Labuschagne, grondwetkenner van Unisa, meen die howe sal uitsluitsel moet gee of Fraser se handeling ultra vires (buite sy bevoegdheid) was.

Labuschagne dink die vraag is eerder hoe Zuma se eertydse spioenbaas die noue bande tussen die twee gebruik het om die voormalige president weer verantwoordbaarheid te laat ontduik.

“Dit is ook ’n feitevraag: Is Zuma werklik so siek en broos? Vir my is die onrusbarende aspek dat pres. Cyril Ramaphosa geweet het – is hy geraadpleeg of net ingelig?

“Op die keper beskou, is die besluit en handeling die ondermyning van die regsprekende gesag deur die uitvoerende gesag. Die wil of wens van die regsprekende gesag word genegeer of onklaar gemaak deur die uitvoerende gesag op die basis van bedenklike en twyfelagtige feite.”

Meer oor:  Mediese Parool  |  Arthur Fraser  |  Zuma Se Parool  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.