Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Gasteplaas moet opdok ná vloed seuntjie vat

Die eienaar van ’n gasteplaas langs die Groot-Maricorivier in Noordwes moet die ouers vergoed van ’n seuntjie wat in vloedwater op sy grond verdrink het.

Die Black-gesin se voertuig is meegesleur.

Die driejarige Eric Black is dood toe hy deur vloedwater meegesleur is toe die chalet waarin sy gesin gewoon het, oorstroom is terwyl hulle in 2010 op die Tino Erasmus-gasteplaas vakansie gehou het. Eric se lyk is later op ’n boer se plaas gekry.

Sy ouers, Daniel en Belinda Black van Brittanje, het die eis ingestel.

Die chalet was die naaste een aan die rivier en sowat 6 meter bo die normale watervlak, maar volgens ’n kundige binne die 100-jaar-vloedlyn, aldus getuienis in die hooggeregshof in Mahikeng.

Regter Monare Makoti het gesê Tino Erasmus, eienaar van die gasteplaas, moes ’n swaar vloed voorsien het, want hy het geweet die gebied het “ernstige weer- of natuurtoestande”.

Ons wil ons oorwinning gebruik om strenger wette vir gasteplase te kry.

Garfield Krige, ’n akwatiese wetenskaplike, het getuig toe hy in 2018 op die plaas was, was daar geen meganismes wat teen stygende watervlakke waarsku nie. ’n Pendulum onderaan die houtbalkon kon ’n klok in die chalet laat lui het as water daaraan sou raak.

Eramus het nalatigheid ontken en gesê dit was ’n natuurramp.

Hy het aangevoer toe die Blacks opgedaag het, het hulle die reg verbeur om te dagvaar weens verlies, want hulle het aanvaar hulle bly op eie risiko.

Eric Black is veras na sy verdrinking. Foto: Verskaf

Maar Makoti het bevind die moontlikheid dat die chalet oorspoel kan word, is nooit aan die Blacks genoem nie. As hulle van die gevaar geweet het, sou hulle daarop bedag gewees het toe hulle gaan slaap het. Die risiko’s waartoe hulle ingestem het, was die “normale risiko’s” wat ’n mens loop wanneer jy die geriewe gebruik. Erasmus het ’n regsplig gehad om toe te sien dat die chalets veilig gebruik kan word.

Daniel, eienaar van ’n videoproduksiemaatskappy, het aan Rapport gesê hul gesin het destyds in Linden, Johannesburg, gewoon.

Toe hulle omstreeks middernag wakker word, was daar reeds water in die chalet. Hy het Belinda se tienerseun in dié se kamer gaan roep. Die seun, nou ’n jong man, wil anoniem bly.

Daniel Black wys tot waar die water in die chalet gekom het.

Daniel het Eric opgeraap en Belinda vir Jennifer, hul babadogter.

“Die water het baie vinnig ingekom. Dit het ’n vakuum gevorm en ons almal by die agterdeur uitgesuig. Die water was toe borshoogte,” sê Daniel.

“Ek en Eric was in ’n stadium heeltemal onder water. Ons was op en af. Hy is uit my arms geskeur. Ek het teen ’n boom gebots en opgeklim. Ek het heeltyd opgegooi, want daar was baie water in my.”

Die tienerseun het ook skuiling in ’n boom gekry. Dit het ure geneem voordat die watervlak gesak het. Dit was stikdonker en net die weerlig het lig gemaak.

Daniel en Belinda Black en hul dogter, Jennifer (nou 11).

Belinda sê sy kon buite die chalet op die kombuis se vensterbank klim. “Ek het my been deur die diefwering gehaak. Ek het my dogter (toe 19 maande) vasgehou. Ek het die gordyn van binne uitgeruk om ’n sling te maak om ons veilig te hou. Nadat ek vir omtrent vyf uur geklou het, was ek uitgeput en bang om my greep op my dogter te verloor.”

Die egpaar, albei Britse burgers, het in 2019 na Engeland verhuis ná dekades in Suid-Afrika. “Ons wou vars begin, maar die skuif het nie gehelp nie,” sê Daniel.

Hy en Belinda woon nie meer saam nie en is besig om te skei.

“Ons lewe soos ons dit geken het, is vernietig. Ons almal gaan elke dag deur hierdie pyn. Eric was my double. Hy was heeltemal versot (besotted) op my. Ons was onskeibaar.”

Sy doel met die hofsaak is om ander daarvan bewus te maak dat daar nie risiko’s met mense se lewe geneem kan word nie.

“En jy speel nie met water nie.”

Volgens Belinda het sy die Erasmusse aanvanklik gevra om die chalet af te breek en op ’n veiliger plek te herbou om nog lewensverlies te keer. “Omdat hulle geweier het, het ons die regspad gevolg.”

Tydens Krige se inspeksie in 2018 het die chalet steeds op dieselfde plek gestaan.

“Ons wil ons oorwinning in die saak gebruik om strenger wette vir gasteplase te kry,” sê Belinda.

“Eric het voluit gelewe. In die winkels sien ek sy gunsteling-jogurt en -sjokolade en dit slaan my. Dit kry jou 24/7.”

Die Blacks se prokureurs, Natasha Truyens en Nihann van Rooyen van die regsfirma Barnard Ingelyf, sê die gesin eis R850 000 van Erasmus.

Deskundiges gaan nou die verliese bereken voordat dit voor die hof gebring sal word vir ’n beslissing.

Meer oor:  Tino Erasmus  |  Eric Black  |  Vloedwater  |  Skadevergoeding  |  Gasteplaas  |  Verdrinking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.