Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Gatslag toe hof anus-eis afkeur
Kapt. Eugene Botha

’n Speurder van Cradock wat ná ’n kroegbesoek sy anus ernstig beseer het, het ’n tweede gatslag beleef toe sy hoop om vergoeding te kry in die hof gesneuwel het.

Kapt. Eugene Botha was luidens hofstukke die aand van 26 Julie 2008 erg beseer én dronk. Hy het dié aand van ’n lae brug op die Karoodorp tussen riete in geval en met ’n erg bloeiende wond by die Cradock-hospitaal opgedaag.

Die hooggeregshof in Grahamstad het gehoor Botha wou niks weet van ’n dokter ontbied nie. Hy wou gehad het ’n verpleegster, Petro Lombard, moet die 1 cm lange sny bokant sy anus toewerk sodat hy huis toe kon gaan.

‘Ek het twee jaar laas gedrink.’

Daar was egter ’n 12 cm lange riet versteek in Botha se weefsel en die wond het septies geraak. Die riet is in die St. George-hospitaal in Port-Elizabeth verwyder, waar hy 18 dae moes deurbring.

“Die chirurg het gesê ek het die dood met ’n halwe millimeter vrygespring – al daai main arteries. Ek kon doodgebloei het. Absoluut. Toetentaal,” het Botha die afgelope week aan Rapport gesê.

“Die nurse sê ek was dronk. Ek is toegestitch. Die wond was horribaal.”

Botha het al boerbokke geslag en hy weet van al die spierlae waardeur mens moet sny.

Die rietstukke wat verwyder is.

“Mý sny was diép en die riet het ’n moerse arterie met ’n halwe millimeter gemis! Die riet was 12 cm lank, die dikte van twee ballpoint-penne.”

Botha glo die hospitaal was nalatig deur hom nie behoorlik te behandel nie. Hy het ’n prokureursfirma, Coetzee Venter Prokureurs, genader om uit te vind of hy die hospitaal kan dagvaar. Hulle het luidens die hof se uitspraak dit gedoen, maar nooit die LUR vir gesondheid gedagvaar nie.

Toe Botha by ’n tweede prokureur kom, het hy gehoor sy eis het nou verjaar. Sy enigste opsie was om Coetzee Venter Prokureurs te dagvaar vir R300 000 weens húl beweerde nalatigheid, maar regter Judith Roberson het nou dié eis met koste van die hand gewys. Sy het die getuienis aangehoor van Lombard oor waarom sy aanvanklike prokureurs nooit met die eis voortgegaan het nie.

Kapt. Eugene Botha wys waar hy geval het Foto: Verskaf

Lombard het getuig dat Botha die “f”-woord kwistig gebruik het, onvas op sy voete was en nie sy samewerking gegee het nie. Sy het aanbeveel dat sy sy dokter ontbied, maar dat Botha niks wou weet nie. Sy het nie vermoed dat ’n riet in die wond afgebreek het nie. Hy het ook nie gekla dat enigiets hom seermaak nie.

Botha se aanvanklike prokureurs sê hulle het net die meriete van ’n eis teen die LUR ondersoek, maar is nooit pertinent opdrag gegee om met die eis voort te gaan nie.

Die 57-jarige Botha sê hy het nou boonop ekstra regsrekeninge. Hy sou nooit kon droom dat daardie aand soveel drama kon veroorsaak het nie.

Botha sê hy het die aand “vier of vyf” biere in ’n restaurant gedrink en daarna in sy Nissan 1400-bakkie vertrek.

“Dié ding het ’n gewoonte gehad om pal te gaan staan en dan moes ek die spark plugs bietjie afdroog. So gaan vrek die bakkie toe teen die afdraand op die brug, so 3,2 m hoog. Ek stap om die bakkie, dis toe ek gly en van die brug val, bo-op die riete.”

“My sitvlak het erg gebloei. My broek en skoene was vol bloed. ’n Moerse bloeding!”

Botha sê hy tob al die afgelope 11 jaar oor die insident en die groot litteken. Hy bewaar die riet wat uitgesny is in ’n fles.

Volgens Botha sit hy nou met die “kolossale” rekening: R160 000 plús nog die kostebevel.

“Ek het twee jaar laas gedrink.

“Of ek nou appèl kan aanteken, dit weet ek nie. Hoe de donner fight jy teen multimiljoenêrs, prokureurs?

“My regsadviseur het vir my gesê: ‘Vat jou skoentjies en gaan huis toe.’ ”

Meer oor:  Skadevergoeding  |  Eis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.