Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Gauteng: Vermeende opstokers in hof

Twee vermeende aanhitsers van openbare geweld tydens die onlangse onluste in Gauteng het Maandag in die hof verskyn.

Sibusiso Mavuso
Sibusiso Mavuso, ’n vermeende aanhitser van geweld tydens die onluste in Gauteng, het Maandag in die landdroshof in Westonaria verskyn. Foto: Melinda Stuurman

Sibusiso Mavuso het in die landdroshof in Westonaria verskyn nadat hy Vrydag in hegtenis geneem is.

Luidens ’n klagstaat het Mavuso glo ’n groep mense na die Pick n Pay in Westonaria gelei, waar hulle gesing, gedans en hande geklap het. Die groep het saam gesing dat die winkel moet sluit.

Mavusa het glo ook boodskappe op sosiale media versprei wat lui: “Bekkersdal en Wes-Rand wag vandag vir die konstitusionele hof om die wet te gehoorsaam . . . of die hel sal losbreek. Wie wil nog burgeroorlog hê, want vanaand gaan dit erger wees.”

Mavusa het in die hof gesê hy het net een vorige veroordeling teen hom en dit is vir die besit van gesteelde goedere. Die saak is uitgestel tot Vrydag 23 Julie vir die borgtogaansoek en Mavusa bly in aanhouding.

Bruce Nimmerhoudt, burgemeesterskandidaat vir die Patriotic Alliance (PA) aan die Wes-Rand, het in die landdroshof in Roodepoort verskyn.

Lwandile Bhengu van News24 het intussen berig Nimmerhoudt staan tereg op aanklagte van aanhitsing tot openbare geweld. Nimmerhoudt het glo ’n WhatsApp-stemnota versprei wat openbare geweld aanhits en mense oproep om nasionale snelweë te versper.

Die saak is uitgestel tot 26 Julie vir sy borgtogaansoek.

Eugene Botha, ’n lid van die PA se nasionale uitvoerende komitee, het intussen by navraag gesê “ons staan agter Bruce”.

“Hy is heeltemal onskuldig. Hy het nie die stemnota geskep nie,” het Botha gesê.

News24 berig ’n vermeende aanhitser, Ngizwe Mchunu, het die provinsiale polisiehoofkwartier in KwaZulu-Natal Maandag in boeie verlaat.

Mchunu, ’n voormalige radio-aanbieder by Ukhozi FM, het vroeër aan media in Kwa Mai Mai in Johannesburg gesê hy wil hê pres. Cyril Ramaphosa moet oudpres. Jacob Zuma uit die tronk vrylaat, anders sou die hel losbreek.

Die voormalige aanbieder het beweer die polisie het na hom gesoek en hom gedreig. Hy het in KwaZulu-Natal geskuil uit vrees vir sy lewe.

In ’n video wat sedertdien op sosiale media gesirkuleer het, het hy gesê dat hy nie meer veilig voel nie.

“Ek maak die video terwyl ek emosioneel is. As u nie kan sien dat ons in ’n burgeroorlog is nie . . . net ’n dom persoon kan dit nie sien nie. Op die oomblik is ek besig om te vlug. Ek het vyf pogings van inhegtenisnames oorleef. Gelukkig genoeg, nou is ek in KZN waar ek êrens skuil,” het Mchunu voor sy inhegtenisneming gesê.

Khubudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie, het Maandagmiddag gesê daar is nou ses vermeende aanhitsers in hegtenis geneem en nog inhegtenisnemings word binnekort verwag.

Luidens ’n verklaring deur NatJoints verskyn ’n 21-jarige verdagte Dinsdag in die landdroshof in Nigel. Die vrou is Saterdag in Duduza, in Ekurhuleni, in hegtenis geneem.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.