Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Gautengse vroue in verneukspul van geld beroof

’n Suid-Afrikaner (34) is Sondag by sy huis in die Strand in Kaapstad in hegtenis geneem in verband met ’n internetbedrogspul waarin vroue van Benoni en Vanderbijlpark uit sowat R1,5 miljoen gekul is. Die verdagte, Ignatius Fourie, het reeds in die hof verskyn en bly in aanhouding.

Die polisie neem die verdagte in hegtenis by ’n woonstelblok in die Strand. Foto: Verskaf

Volgens inligting het Fourie toegelaat dat ’n swendelaar van Nigerië sy bankrekening sedert 2018 gebruik om geld wat uit onbewuste slagoffers geswendel is, in te betaal.

Die vroue is bekoor, ingeloop en uit hul geld bedrieg, vermoedelik as deel van ’n Nigeriese verneukspul waar hulle mans deur die Tinder-app ontmoet het.

Kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat die verdagte by sy huis in die Strand in hegtenis geneem is nadat ’n lasbrief bekom is.

“Die verdagte het Maandag in die hof verskyn en sal tot sy volgende hofverskyning op 13 Julie in Benoni in aanhouding bly. Aanklagte van bedrog en diefstal staar hom in die gesig,” het Van Wyk gesê.

John Alexander, ’n privaat speurder van Royal Investigations in Kaapstad, wat ’n sleutelrol gespeel het om die bedrogspul op die lappe te bring en Fourie se naam aan die media bekend gemaak het, het gesê dat kliënte uit Gauteng hul firma genader het nadat die Nigeriër hulle in ’n romantiese lokval gevang het ná maande se gevleiery en toe ingeloop het toe hulle geld vermoedelik in sy twee medeverdagtes se rekeninge inbetaal het.

“Die swendelaars doen hulle voor as suksesvolle sakemanne en gebruik gesteelde foto’s en valse profiele om hul teikens te vang. Hulle verklaar hul liefde en oortuig slagoffers om derduisende rand aan hulle te betaal weens een of ander noodgeval, en vra dan hul slagoffers om met hulle te trou. Dit alles sonder dat hulle ontmoet het.”

Alexander sê die baasbrein agter die verneukspul lei ’n luukse lewe, bly in massiewe huise, dra die beste klere en ry die duurste motors.

Die owerhede is steeds op soek na die voortvlugtende verdagte Unathi Felicia Tshefu. Foto: Verskaf
Unathi Tshefu en haar kêrel, slegs bekend as Jackson, wat glo die baasbrein agter die bedrogspul is. Foto: Verskaf

“Die groot kokkedore sit veilig in hul huise en hoef nie ’n dag in hul lewe te werk nie. Hulle stel ’n string mense aan wat die vuilwerk doen en die vroue betrap met behulp van ’n tipe draaiboek wat noukeurig gevolg moet word en akteurs wat gebruik word.”

Alexander sê een van sy kliënte in Gauteng het ongeveer R791 000 verloor nadat die swendelaar voorgegee het dat hy ’n Amerikaanse burger is met besighede in Dubai terwyl hy eintlik van die Strand was.

Afgesien van die geld wat die slagoffers van Gauteng inbetaal het, is ook ’n magdom ander transaksies ontdek, insluitend waar internasionale geld betrokke was.”

Alexander sê dié tipe internetbedrog het in sy ondervinding tydens die inperkingstyd “meer as ooit vantevore toegeneem”.

Hy het vroue gewaarsku om nie geflous te word deur swendelaars nie en om nie geld aan mense te gee wat hulle nog nooit ontmoet het nie.

Alexander sê hulle is steeds op soek na die ander verdagte in die saak, ’n vrou, Unathi Felicia Tshefu (39), wat tans voortvlugtend is nadat ’n lasbrief vir haar inhegtenisname uitgereik is.

“Daar is nog nie ’n lasbrief vir haar kêrel en vermeende baasbrein agter die verneukspul uitgereik nie. Hy is slegs bekend as Jackson en sy volle naam is nog onbekend.”

Volgens die privaat speurder het bure aangedui dat die paartjie hul huis vroeër laas week “oornag” ontruim het.

“Die huis staan nou dolleeg,” het hy gesê.

Alexander vermoed hulle het snuf in die neus gekry nadat R65 000 in Tshefu se bankrekening onlangs bevries is.

Mense met inligting oor die verdagtes wat steeds op die vlug is, kan die polisie se Stopmisdaadnommer by 08600 10111 skakel of Alexander kontak by 071 915 4321.

Meer oor:  Benoni  |  Gauteng  |  Vanderbijlpark  |  Beroof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.