Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Gautrein: Dringende interdik kan kom teen stakers

Die maatskappy wat die Gautrein bedryf gaan klaarblyklik ’n dringende hofbevel probeer bekom om stakings by sy treindepot in Midrand stop te sit.

Daar is betroubaar verneem dat die Bombela-groep se aansoek waarskynlik Donderdag aangehoor sal word.

Die staking het Maandagoggend net ná middernag begin.

Sowat 90% van die Gautrein se werknemers, wat lede is van die United National Transport Union (Untu), eis ’n salarisverhoging van 10%,  hoër nagskoftoelae en ook dat die maatskappy 55% tot hul mediesefondsbydraes moet betaal en die werknemers 45%, pleks van die 50/50-verdeling wat nou geld.

Werkers eis ook prestasiebonusse.

Sonja Carstens, Untu-woordvoerder, sê die vakbond eis ook dat Bombela hul finansiële state na die onderhandelinge bring.

“Bombela weier om vir ons hul (finansiële) state te wys. Ingevolge die Arbeidswet word vakbonde toegelaat om met loononderhandelinge die state te sien, maar hulle weier,” sê Carstens.

Bombela het Maandagmiddag in ’n verklaring gesê hulle bied ’n 8,6%-verhoging aan.

“In die huidige ekonomiese omstandighede glo ons dit is ’n billike aanbod, veral as jy in ag neem dat die maatskappy oor die laaste vyf jaar verhogings van 8% toegestaan het.

’n Verdere bewys dat die werksomstandighede goed en werknemers gelukkig is, is die lae personeelomset by Gautrein, lui die verklaring.

Die veiligheid van passasiers sal in geen stadium in die gedrang gebring word nie. Terwyl ons die werkers se reg om te staak respekteer, moet stakende werkers ook hul kollegas se reg om sonder intimidasie te werk, respekteer.

Carstens sê die staking sal onbepaald voortduur nadat pogings om ’n ooreenkoms met Bombela te bereik ’n dooiepunt bereik het.

Kesagee Nayager, woordvoerder van Gautrein, wou nie sê wanneer die aansoek om die interdik aangehoor sal word nie.

“Ek wil in hierdie stadium nie meer sê nie as dat ons die nodige regstappe gedoen het om te verseker dat die werknemers vreedsaam en binne die (beperkings van die) wet staak. Tans is die onderhandeling nog by ’n dooiepunt, maar as Untu bereid is om ons aanbod te heroorweeg, sal ons onderhandel. Tot dan is die beginsel van geen werk, geen betaling van krag,” het Nayager gesê.

Sy het weer beklemtoon dat bykomende veiligheidsmaatreëls ingestel is om die veiligheid van pendelaars te verseker.

“Die veiligheid van passasiers sal in geen stadium in die gedrang gebring word nie. Terwyl ons die werkers se reg om te staak respekteer, moet stakende werkers ook hul kollegas se reg om sonder intimidasie te werk, respekteer,” sê Nayager.

Sy sê hulle sal geen intimidasie of misdadige optrede wat tot die beskadiging van bates lei of werkers verhoed om te werk, toelaat nie.

Só loop die Gautrein:

Die Gautrein gaan tot verdere kennisgewing in die spitstye tussen 05:45 en 09:00 en 16:00 en 19:00 op die noord-suidroete slegs tussen die Centurion-, Sandton- en Parkstasies loop.

Dié aankondiging is Maandag deur Bombela, bedrywers van die Gautrein, in ’n verklaring gedoen.

Volgens Bombela sal daar elke 12 minute ’n trein tussen Sandton en Centurion loop en elke 20 minute tussen Sandton en Parkstasie.

Geen ander Gautreinstasie as dié drie sal op die roete oop wees nie.

Alle treine sal slegs agt waens hê wat in die noordelike en suidelike rigtings loop. Gautreinbusse sal ook net die drie stasies op die roete bedien en ook net in die spitstye (hierbo genoem).

Om mense vanaf die Rhodesfieldstasie en die lughawe te akkommodeer, sal daar in spitstye elke 36 minute ’n trein vanaf Sandton loop. ’n Busdiens sal ook tussen 09:00 en 16:00 teen ’n vaste tarief van R21 per rit tussen Sandton, Rhodesfield en die lughawe loop.

Passasiers met maandelikse of weeklikse kaartjies sal hul geld terugkry vir treinritte wat hulle dalk misloop.

“Kaartjiekantore sal nie oop wees nie en passasiers word aangeraai om die kaartjiemasjiene, webtuiste en die app te gebruik. Ritte kan ook langer duur, lui die verklaring.


.

Meer oor:  Gautrein  |  Gautrein-Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.