Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Gays: ‘Hof se bevel raak alle kerke’

Daar is nou ’n regswaard oor die kop van enige kerk wat nie gay- huwelike wil bevestig nie.

Só sê adv. Teresa Conradie, regsverteenwoordiger van die Alliance Defending the Autonomy of Churches (Adtac), wat aan die NG Kerk se hofsaak oor gay lidmate deelgeneem het as vriend van die hof. Sy sê die uitspraak kan ’n verwoestende uitwerking op alle kerke se outonomie hê.

Regters Joseph Raulinga, Sulet Potterill en Daisy Molefe van die hooggeregshof in Pretoria het Vrydag eenparig in die guns van lidmate van die NG Kerk beslis in die twis oor gay-huwelike in die kerk.

Die regters het nie net op prosedurele gronde die NG Kerk se besluit van 2016 – om ’n vorige besluit ten gunste van huwelike – tersyde te stel nie. Die hof het ook onomwonde bevind dit is onregmatig om gay lidmate die huwelik te ontneem.

Raulinga beklemtoon die howe wil nie onnodig betrokke raak in geskille oor godsdienstige sake nie en beslis nie vir kerke voorskryf wat hulle mag glo of nie.

Laurie Gaum, die eerste applikant in die saak, het gister aan Rapport gesê dit was ook nie sy voorkeur om die saak hof toe te neem nie. “Ons het geen ander keuse gehad nie.”

Hy sê die kerk het tot op die einde volgehou die regte prosedures is gevolg om die 2015-besluit te herroep. Maar Raulinga sê die kerk het sélf tydens die verhoor erken dat die regte prosedures in terme van die kerkorde nie gevolg is nie.

Die 2015-besluit dat gemeentes wat wil gay-huwelike kan bevestig of gay predikante beroep, mag dit dus doen, want die besluit is nooit herroep nie.

“Hoewel dit die einde van die saak behoort te wees, het die partye die hof versoek om oor die substantiewe (grondwetlike) kwessies te beslis,” lui die uitspraak.

Die hof bevind dan:

  • Ander jurisdiksies soos Kanada, Amerika en sekere Europese gebiede het ’n spesiale bedeling vir kerke om hul eie reëls te maak. In Suid-Afrika bestaan dié spesiale bedeling nie, sê die hof.

Raulinga sê mense het die reg om te glo wat hulle wil, selfs wanneer dit “bisar, onlogies of irrasioneel” vir ander mag wees.

“Die hof is nie gevra om te besluit oor leerstelling nie. Sodra die kerk in ’n hof instap, moet die wette van die land en hofreëls toegepas word.”

Wanneer heilige oortuigings in ’n hof getoets word teenoor sekulêre wette, gaan laasgenoemde geld.

  • Die kerk is verkeerd om te glo die reg tot godsdiensvryheid moet bloot opgeweeg word teen die reg op gelykheid. Gelykheid is een van die fundamentele grondwetlike regte wat nooit geskend mag word nie.
  • Om gay lidmate tot die kerk toe te laat, maar hulle dan nie toe te laat om deel te neem aan gebruike soos ’n siviele verbintenis of die beklee van alle kerkampte nie, is diskriminerend.
  • Die Grondwet lys diskriminasie op grond van ras, geslag en seksuele oriëntasie as uitdruklik verbode. Die hof het bevind dit is baie duidelik dat die kerk teen gay lidmate diskrimineer. Aangesien dit op grond van seksuele oriëntasie is, is daar onmiddellik volgens ons reg ’n vermoede dat dit onregmatige diskriminasie is.
  • Raulinga sê die kerk het ontken dat dit onregmatige diskriminasie is, maar het geen redes voorgehou waarom hy so sê nie. Die hof bevind daarom dat die kerk onregmatig teenoor Gaum en ander gay lidmate diskrimineer.

Prof. Shaun de Freitas, grondwetkenner van die Universiteit van die Vrystaat, sê die uitspraak raak die outonomie van kerke.

Hy stem saam met die hof se beslissing oor die prosedurele aspekte, maar die grondwetlike uitsprake beweeg volgens hom weg van die vorige benadering van die howe om nie met kerke in te meng nie.

Conradie sê die omvattende bevindinge van die hof het godsdiensleiers van ander kerke baie bekommerd.

Sy sê hoewel die hof nie die NG Kerk beveel het om ’n sekere standpunt in te neem nie, laat dit ’n swaard oor almal se kop.

Die NG Kerk is tegnies in staat om enige nuwe besluit oor die gay-kwessie te neem wat hulle wil, maar die feit dat die regters uitdruklik aangedui het dat die kerk nie teen gay mense kan diskrimineer nie, maak dit baie waarskynlik dat gay-lidmate en -predikante die kerk wéér voor die hof sal daag.

Conradie sê die aspek van die uitspraak maak kerke “baie bekommerd”.

“Die regters moes slegs uitspraak lewer oor of daar prosedurele foute met die NG Kerk se appèlproses was wat daartoe gelei het dat gay-huwelike in 2016 verbied is,” sê?Conradie.

“Hulle het onnodig ver gegaan en oor grondwetlike aspekte beslis,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.