Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Gebroke ná 3 hom martel, verneder

Drie jaar nadat sy werkgewers hom gedwing het om menslike ontlasting te eet, word ’n man steeds herhaaldelik verneder wanneer mense hom daaroor spot.

Joseph Mona, wie se werkgewers tronk toe gestuur is omdat hulle hom gedwing het om ontlasting af te sluk, hom in ’n septiese tenk gegooi het en hom die k-woord toegesnou het, voor die hof in Springs. Foto: Elizabeth Sejake

Joseph Mona (40) sê hy praat nooit met enigiemand oor die onmenslike behandeling nie. Sy werkgewers het hom in 2018 gedwing om ’n liter vol ontlasting af te sluk, hom in ’n septiese tenk vol rioolvuil gegooi en op hom geskreeu hy is “ ’n nuttelose k****r”.

Hy is by die tenk ingedwing omdat hy nie die pomp van die septiese tenk op hul kleinhoewe in Endicott, oos van Springs in Gauteng, aangeskakel het nie.

“Wanneer mense uitvind wat met my gebeur het, maak hulle grappe daaroor. Hulle sal sê ek is die ou wat s**t moes eet en spot my dan daaroor.”

Harry Leicester (57), sy vrou, Maryna (53), en seun, Chris (31), is verlede week elkeen vir 12 jaar tronk toe gestuur op aanklagte van poging tot moord en crimen injuria.

My manlikheid is aangetas en my meisie het my gelos omdat ek haar nie kon bevredig nie.

Landdros Nkhensani Moila het in haar uitspraak in die streekhof in Springs gesê 'n mediese verslag toon Mona kon in die septiese tenk doodgegaan het. Luidens die verslag was wurms se bytmerke ses maande ná die voorval nog sigbaar op Mona se vel.

Moila het gesê wat die slagoffer deurgemaak het, is onmenslik en wreed.

Deur die loop van die saak het die Leicester-gesin volgehou hulle is onskuldig en het geen berou getoon nie, het sy gesê.

Moila het die drie se aansoek om teen hul skuldigbevinding en vonnis te appelleer van die hand gewys.

Sy het gesê geen nuwe inligting is in die aansoek aangebied nie.

Mona sê hy is bly die hof het sy voormalige werkgewers tronk toe gestuur vir wat hulle aan hom gedoen het, maar dit maak geen verskil aan sy lewe nie.

Die gelykheidshof in Springs het die gesin in September 2019 aan haatspraak skuldig bevind en gelas dat hulle skadevergoeding van R200 000 opdok.

Dit moes oor ’n tydperk van ’n jaar betaal word. Mona sê hy het tot vandag nog nie ’n sent van die geld gesien nie.

Volgens hom het hy mediese komplikasies in sy anus ontwikkel omdat hy lank in die septiese tenk was en sukkel hy nou om enige fisieke arbeid te verrig.

“My manlikheid is aangetas en my meisie het my gelos omdat ek haar nie kon bevredig nie.”

Hy sê hy is nou ’n gebroke man en voel by tye hopeloos, moedeloos en nutteloos.

Hy bly by sy suster op Groblersdal in Limpopo.

“Ek gaan nie moed opgee nie. My droom is om ’n pa te word en om ’n huis vir my ma te bou.”

Meer oor:  Crimen Injuria  |  Poging Tot Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.