Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Geen borgtog vir beweerde Facebook-porno-bedrieër

’n Jong vrou se goeie naam, integriteit, privaatheid en selfs bewegingsvryheid is van haar gesteel toe ’n vals Facebook-profiel met haar naam en foto geskep is.

Silas Segabutla het glo ook hierdie Facebook-profiel met ’n vals van gehad. Foto: Facebook

So het die staatsaanklaer Hilke Janse van Rensburg, Vrydag in die landdroshof in Pretoria aangevoer toe sy borgtog vir Silas Segabutla (30) teengestaan het. Sy het gesê sy vrees vir die klaagster se veiligheid indien hy borgtog kry.

Landdros Thandi Theledi het saamgestem en Segabutla borgtog geweier: “Die hof word deur die Grondwet daartoe verbind om die klaagster te beskerm”.

Segabutla is op 18 Oktober in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog en crimen injuria ná ’n ondersoek deur die Valke.

Hy het glo van Oktober 2016 tot Julie 2019 herhaaldelik ’n Facebook-blad geskep onder die naam en foto van ’n voormalige kollega.

Hy sou dan voorgee om hierdie “mej. Kruger” te wees en ’n WhatsApp-nommer publiseer waar mense “eksplisiete foto’s en video’s van haar” kon bestel en koop.

Die beeldmateriaal was egter nié van die regte “mej. Kruger” nie, maar beelde van vroue – wat amper soos Kruger lyk – wat Segabutla glo van ’n Russiese pornografieblad sou aftrek en verkoop.

Hordes mans, glo meestal getroude Afrikaanssprekende mans, het hierop gereageer en nie net die beeldmateriaal bestel nie, maar ook suggestiewe kommentaar op dié blad, sowel as op Kruger se regte blad, gelewer.

Kapt. Jacques Loock, ondersoekbeampte van die Valke, het vroeër getuig dat Kruger, toe sy agterkom sy is die teiken van ’n vals blad, dit telkens by Facebook aangemeld het.

Facebook het die vals profiele tien keer toegemaak, net sodat die volgende een weer opduik.

Die Facebook-blad wat Silas Segabutla glo met ’n Mej. Kruger se foto en naam geskep het en naakfoto’s te koop aangebied het. Die foto’s was egter nie van Kruger nie. Foto: Facebook/Verskaf

Mense het haar op straat begin voorkeer en aanmerkings teenoor haar gemaak.

Dinge het nog erger geraak toe Segabutla na bewering haar presiese ligging op sosiale media gedeel het.

“Een van die mans wat beeldmateriaal aangekoop het (wat hy geglo het van Kruger is) se bankstate wys dat hy by die restaurant waar die klaagster gewerk het, gaan eet het.

“Die kopers het geweet waar sy werk en waar sy inkopies doen. Een van die kopers was ’n 68-jarige man wat R12 000 betaal het vir foto’s en video’s wat hy geglo het van die klaagster is,” het Loock getuig.

Volgens hom het Segabutla hierdeur die vrou se lewe in gevaar gestel.

“Vroue word verkrag en aangerand en ek is van mening dat die beskuldigde se optrede kon veroorsaak het dat die klaagster seerkry omdat hy haar oorspronklike foto op die vals blad gebruik het.”

Loock het bygevoeg sedert die eerste mediaberig dat Segabutla na bewering agter die Facebook-blad sit, het die “vriende” op die blad van meer as 800 tot 100 geval.

Die hof moet die beskuldigde se reg tot vryheid opweeg teenoor die klaagster se reg om beskerm te word.

Janse van Rensburg het betoog dat die klaagster weens Segabutla se optrede te bang is om uit te gaan, uit vrees dat sy in van die mense kan vasloop wat glo hulle het haar foto’s gekoop.

“Hierdie (misdryf) was die beskuldigde se enigste inkomste vir langer as drie jaar. As hy op borgtog vrygelaat word, is dit waarskynlik dat hy dit weer gaan doen, veral as ’n mens kyk na sy vorige optrede.

“Die hof moet die beskuldigde se reg tot vryheid opweeg teenoor die klaagster se reg om beskerm te word,” het Janse van Rensburg gesê.

Die landdros het bevind dat Segabutla met sy eie selfoonrekords en bankrekening aan die misdrywe verbind word.

Volgens haar is daar geen manier wat die hof die beskuldigde, indien hy op borgtog vrygelaat word, kan keer om by ’n internetkafee in te stap en weer ’n kubermisdaad te pleeg nie.

Borgtog is geweier en die saak uitgestel tot volgende jaar vir verdere ondersoek.

Meer oor:  Pretoria  |  Crimen Injuria  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.