Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Geen borgtog vir moord op koning van steroïede

Die twee broers wat na bewering betrokke was by die moord op Brian Wainstein, die sogenaamde steroïede-koning, is borgtog geweier.

Sheldon (links) en Matthew Breet se aansoek om borgtog het Donderdag misluk.

Matthew (27) en Sheldon Breet (34) het Donderdag in die landdroshof in Wynberg verskyn, waar landdros Goolam Bawa uitspraak in die aansoek om borgtog gelewer het.

In hul aansoek het albei broers getuig, maar volgens Bawa het hulle nie die hof in hul vertroue geneem deur oor die feite van die saak te getuig nie. Hulle het net oor hul persoonlike omstandighede getuig.

Luidens ’n beëdigde verklaring deur die ondersoekbeampte, kapt. Paul Hendrikse van die Valke, het die broers bande met die Kaapse onderwêreld en misdaadintelligensie.

Die staat beweer hulle en hul medebeskuldigdes, Fabian Cupido en Cheslin Adams, het met ’n gemeenskaplike doel opgetree om Wainstein op 18 Augustus 2017 kort ná middernag in sy huis in Constantia dood te skiet terwyl sy vrou en dogter langs hom gelê en slaap het. Die vrou en kind is nie beseer nie.

Wainstein, wat in Ierland gebore is, het in Kaapstad gebly terwyl hy probeer keer het dat hy aan Interpol uitgelewer word in verband met klagte dat hy oor ’n tydperk van tien jaar onwettig steroïede van meer as R76 miljoen aan vooraanstaande sportsterre wêreldwyd verskaf het.

Die Breet-broers het in ’n stadium vir Wainstein gewerk en het persoonlike inligting oor hom gehad.

Luidens die klagstaat het Cupido (39), Adams en ’n art. 204-staatsgetuie na Wain­stein se huis gegaan waar Adams Wainstein geskiet het.

Inligting oor hoe die moord na bewering beplan is, hoe motors geruil is en hoe Wainstein se huis aan van die betrokkenes uitgewys is, het aan die lig gekom in getuienis.

Die staat het die borgtogaansoek teengestaan en voer aan die broers is ’n ernstige gevaar vir die gemeenskap weens hul betrokkenheid by figure in die onderwêreld wat tans in ’n stryd gewikkel is oor die beheer oor klubs in Kaapstad en omliggende gebiede.

Hulle is ook lede van die 27-bende.

In verklarings wat aan die polisie gedoen is en deel is van die staat se saak, het Sheldon erken hy het in dieselfde kringe beweeg as mense soos Jerome Booysen, Mark Lifman, Andre Naude, James Dalton, asook Mariwaan Dusei en Ralph Stanfield, beweerde leiers van die 28-bende in Beacon Valley.

Matthew het verskeie sake hangende teen hom, waaronder die besit van ongelisensieerde vuurwapens, asook aanranding.

Hulle was sakevennote, maar die vriendskap het versuur toe Wain­stein begin het om met ander vermeende bendebase sake te doen.

Daar is ook bewyse dat Sheldon betrokke was by dwelmhandel en dat hy bewus was van Wainstein se geldwassery. Hy het glo Wainstein in sy onwettige steroïede-bedrywighede gehelp en het baie inligting hieroor.

Sheldon se vriendskap met Wainstein het sowat vier jaar gelede begin toe hy as een van Wainstein se lyfwagte aangestel is. Later het Wainstein vir Matthew ook in diens geneem.

Wainstein was in 2016 goeie vriende met ’n beweerde onderwêreldfiguur, Kishor Naidoo, bekend as Kamal. Hy is die eienaar van sekere takke van Goodhope Tyres. Hulle was sakevennote, maar die vriendskap het versuur toe Wain­stein begin het om met ander vermeende bendebase sake te doen.

As gevolg hiervan het Kamal vir Sheldon glo in verbinding met die polisie se misdaadintelligensie-afdeling geplaas om inligting oor Wainstein aan hulle te verskaf. Sheldon het getuig hy het inligting oor die ander onderwêreldfigure aan misdaadintelligensie gegee. Hy is R120 000 vir dié inligting betaal.

Bawa het hul aansoek van die hand gewys gegrond op die feite van die saak, dat hulle vlugrisiko’s is en maklik toegang tot wapens het.

Die saak is tot Maandag uitgestel wanneer dit na verwagting na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas sal word. Al vier beskuldigdes bly in aanhouding.

Meer oor:  Brian Wainstein  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.